Elke produsent moet in wese ’n plantvoedingkundige word of ten minste kundige raad volg om ’n suksesvolle plantvoedingstrategie te ontwikkel. Die keersy is dat produsente die opbrengspotensiaal wat deur die bestaande stel goeie kultivars geskep word, misloop.
Produsente se verstand-houding met plante en hul groeiwyses het drasties verbeter en word ook in die opbrengsstygings weer-spieël (Nasionale Oesskattingskomitee, 2024). Dit kan die negatiewe uitwerking van die natuur ook versag, aangesien plante sterker en gesonder sal wees.
Die definisie vir opbrengspotensiaal is die moontlike opbrengs wat ’n kultivar kan behaal wanneer dit in ’n gepaste omgewing geplant is en groei nie beperk was nie (Evans & Fischer, 1998). Hieruit kan afgelei word dat ’n goeie stel kultivars Suid-Afrika se oespotensiaal kan bepaal. Dit bestaan reeds danksy toegewyde saadmaatskappye en kan in die opbrengsstygings oor die afgelope dekades gesien word.
Die gerealiseerde gemiddelde opbrengs van Suid-Afrika, soos in Grafiek 1 voorgestel (Nasionale Oesskattingskomitee, 2024), is egter wanneer beperkte voeding, water, peste en plae reeds hul tol geëis het. Dit is produsente se verantwoordelikheid om kennis te hê oor hierdie beperkende faktore en hoe om die uitwerking daarvan so klein as moontlik te hou.

Een van die makliker faktore om te beheer, is plantvoeding. Omdat mielies die belangrikste gewas in Suid-Afrika is, stel hierdie artikel ’n kort benadering vir ’n bemestingstrategie vir dié gewas voor (Du Plessis, 2003).
Dit word algemeen aanvaar dat ’n plant ’n hoë opbrengspotensiaal vroeg in die seisoen het, maar dit nie kan volhou nie. ’n Mielieplant kan middeldeur gesny word wanneer die boonste of hoofkop mooi gevorm het, om op elke knoop onder elke blaar een onvolwasse kop te ontbloot. Meer koppe is nie noodwendig altyd gewens of moontlik nie, want dit is nie die enigste opbrengskomponent wat gemaksimeer moet word nie.
Die opbrengskomponente van mielies is soos volg:
- Plantestand.
- Aantal koppe per plant.
- Aantal rye per kop.
- Aantal pitte per ry.
- Pitgewig.
Hierdie komponente beïnvloed mekaar en elke kultivar het ’n unieke optimale verhouding. Hoë plantestande by besproeiing maak dit byvoorbeeld onmoontlik om hoë koptellings per plant te hê. Die opbrengskomponente word op verskillende stadiums van die seisoen vasgestel, soos in Figuur 1 voorgestel.

Die potensiaal wat deur die opbrengskomponente geskep word, kan weens verskeie redes nie volgehou word nie, soos omgewingstoestande en voedingstekorte – wat relevant tot hierdie artikel is. Omnia se 5R™-beginsel vir plantvoeding is al deeglik beklemtoon – die regte produk, hoeveelheid, tyd, plek en gehalte. Die regte produk moet teen die regte tyd toegedien word om die teenwoordige fisiologiese prosesse te stimuleer en opbrengskomponente so hoog as moontlik te hou.
Bepaling van opbrengskomponente
Die aantal volwasse blare (VT) word getel deur die aantal sigbare blaarkragies te tel (Figuur 2). Dit is die vou in die blaar aan die basis waar die blaar aan die stam heg. Sigbare blare in die kelk waarvan die kraag nie sigbaar is nie, word nie as volwasse blare getel nie.

Grafiek 2 – 7: Opbrengs en voedingstofverbruiksdoeltreffendheid kan verhoog word wanneer die regte produk op die regte tyd toegedien word.






Vegetatiewe stadiums volg met pluim- en baardverskyning en bestuiwing (R1), blasievorming (R2), melk (R3), deeg (R4), duikpit (R5) en fisiologiese volwassenheid (R6) (Abendroth, Elmore, Boyer & Marlay, 2011). Tabel 1 som die bepalende groeistadiums vir die verskillende opbrengskomponente op.
Wat in die grond gebeur, is van kardinale belang in die vroeë stadiums. Om ’n geharde blok mielies te skep wat goeie weerstand teen die omstandighede kan bied, is dit belangrik om ’n ywerig groeiende stand mielies te hê teen die tyd wat V6 bereik word (Nielson, 2012). ’n Fase van spoedige groei begin reeds met V5 en die voedingstofopname skiet dan die hoogte in. Enige stremming in die vorm van hitte, droogte en voedingstowwe tydens V6 tot R1 sal ’n groot uitwerking op die potensiële opbrengs hê.
Die grootte van die fabriek word dan in terme van die blaaroppervlak bepaal. Daarom moet enige keerlae in die grond opgehef wees sodat die plant al in die vroeë stadiums diep wortels kan ontwikkel. Dit is ook tydens V6 tot R1 wanneer die grootste gros voedingstowwe, waarvan stikstof en kalium per gewig die meeste is, gedurende die seisoen opgeneem word.
Voedingstofopname
Mieliesaailinge is tot met V3 van die gestoorde stysel in die saadkiem afhanklik. Met V2 begin die plant sy afhanklikheid na die nodale wortelstelsel (sywortels) skuif. ’n Goeie ingesteldheid is dat ’n mielie “groeimomentum” moet hê. Dit word gestimuleer met genoegsame stikstofbemesting in die regte vorm, in die regte gehalte op die regte plek. Indien dit byvoorbeeld nie gereën het nie, is die stikstof wat nog bo-op die grond lê nie beskikbaar nie en het dit moontlik reeds met ureum vervlugtig.
Tydens die V10- tot V14-stadium word die grootste daaglikse hoeveelheid voedingstowwe opgeneem, wat ook saam met die grootste hoeveelheid droëmateriaal wat gegenereer word, val. Dit kan gesien word in Tabel 2 volgens ’n studie wat in 2013 in Illinois gedoen is, wat die voedingstofopname tydens die verskillende stadiums bepaal het (Bender, Haegele, Ruffo & Below, 2013).
Die beste praktyk in droëlandtoestande is om voor V6 topbemesting te gee sodat die voedingstowwe gereed kan wees vir opname tydens die piektye. Om die risiko te versprei, kan die topbemesting verdeel word om tydens V5 en V10 gegee te word, indien toerusting dit moontlik maak. Ander hulpmiddels soos afstandwaarneming kan gebruik word om die voedingsbehoefte van mielies te bepaal.
Die hoeveelheid stikstof wat ’n mielieplant benodig, kan aan die chlorofilinhoud van blare gekoppel word. Dit kan met ’n handtoestel (SPAD-meter) gemeet word of met Omnia se SUPER-5™-satellietbeelde akkuraat bepaal word.
Met ’n goeie stel beelde kan wisselende stikstofbemestingskaarte ontwikkel word om die 5R™-konsep te gehoorsaam. Die regte produk moet aangewend word – die risiko’s verbonde aan ureum is al benadruk en ammoniumnitraat word as stikstofbron verkies om die beskikbaarheid so hoog as moontlik te hou.
Die studie wat in Illinois gedoen is, toon die hoeveelheid voedingstowwe in kg/ha wat vir ’n oesopbrengs van 12 t/ha nodig was. In die studie het die agronome ook die opnamekurwes vir stikstof, fosfaat, kalium, magnesium, swael, sink en boor ontwikkel (Bender, Haegele, Ruffo & Below, 2013).
Let op by watter groeistadiums die gradiënt die hoogste is (op die grafiek die skerpste opwaarts beweeg). Dit is die stadium wanneer die grootste hoeveelheid van die spesifieke voedingstof opgeneem word. ’n Algemene wanindruk is dat die voedingstofopname met die aanvang van die reproduktiewe fase RT/R1 gestaak word.
In teenstelling hiermee kan gesien word dat swael se opname byvoorbeeld met graanvul net so hoog is soos met die vegetatiewe groeistadiums. Byna 50% van die totale swael word met graanvul opgeneem. Dieselfde geld vir fosfaat, waar byna 50% eers met graanvul opgeneem word. Dit is in kontras met stikstof en kalium, waar teen graanvul reeds meer as twee derdes van die totaal opgeneem is (Bender, Haegele, Ruffo & Below, 2013).
Met besproeiing, waar kunsmis deur die water gepomp en regdeur die seisoen bemes kan word, is dit maklik om tydens die piektye reeds voeding beskikbaar te hê. Waar mikro-elemente toegedien word, moet hoogloopspuite waar moontlik gebruik word om toedienings tydens die piekopnames te gee. Boor sal volgens Bender, et al. (2013) by V10 en R2 baie goed opgeneem word en waarskynlik die opbrengs verhoog.
Samevatting
Elke produsent se toerusting en omstandighede verskil, maar dit is nodig om te oorweeg waar ’n belegging gemaak kan word om die regte produk op die regte tyd toe te dien. Met potensiële opbrengste wat drasties verhoog as gevolg van kultivarontwikkeling, is die gevolg dat die beskikbaarheid van voedingstowwe ook drasties moet verhoog. Dit is nie meer so maklik soos om te plant en een topbemesting te gee en dan vir die res van die seisoen terug te sit nie. Daar moet gelet word op opnames wat later in die seisoen piek.
Bemesting is die grootste enkele uitgawe wat ’n produsent het, so daar moet dus sorgvuldig met die belegging gewerk word. Met kunsmispryse wat die hoogte in skiet, moet produsente in Suid-Afrika die doeltreffendheid van hul praktyke oorweeg en probeer om die voedingstofverbruiksdoeltreffendheid so hoog as moontlik te hou. Dit kan net met agronomiese kennis gedoen word.
Bronnelys
- Abendroth LJ, Elmore RW, Boyer MJ & Marlay SK (2011). Corn growth and development. Iowa State: Iowa State University
- Bender RR, Haegele JW, Ruffo ML & Below FE (2013). Modern corn hybrids’ nutrient uptake patterns. Better Crops, 97(1), 7-10
- Du Plessis J. (2003). Maize production. Pretoria: Departement van Landbou
- Evans LT, & Fischer RA (1998). Yield potential: Its definition, measurement and significance. Crop Science, 39(6), 1544-1551
- Nasionale Oesskattingskomitee (2024). Oppervlakte en produksie van wit- en geelmielies. Pretoria: SA Graan
- Nielson RL (1 Januarie 2012). Corn management for extreme conditions. Corny News Network aanlyn by http://www.kingcorn.org/news/archive.html