Tien beeste van ‘n produsent van die Lichtenburg-omgewing het onlangs gevrek nadat hulle die uiters giftige inkbessie gevreet het. Vergiftiging weens hierdie indringerplant, wat oorspronklik van Brasilië afkomstig is, kom gewoonlik in Junie en Julie onder beeste voor wanneer dit droër is.
Cestrum laevigatum, oftewel die inkbessie (ook bekend as inkbossie, nagskade of nagstegal) is ‘n immergroen struik van ongeveer 1 m tot 2 m in hoogte. Langs kusgebiede kan dit bome van tot 15 m lank vorm.

Die struik is destyds as ‘n sierplant vir tuine na Suid-Afrika gebring en om ook as as windbreuk te dien. Die plant word geken aan elliptiese blink groen blare, groen tot swart olyfvorminge bessies, ‘n dun vaalgrys bas, geel trompetagtige blomme en ‘n onaangename skerp reuk as mens die blare en/of stingels kneus.
Weiding is meestal kaal gevreet teen hierdie tyd van die jaar en grootvee eet dan op ‘n nie-selektiewe wyse die plant raak. Die konsentrasie gifstowwe – gitogenin en digitogenin – is ook gedurende hierdie tyd op hul hoogste in die groen bessies van die plant. Dit veroorsaak akute lewerskade wat lei tot skielike vrektes.
Simptome
Die inkbessie word maklik deur voëls versprei wat die bessie met die saad eet en in mis uitwerp. Die inkbessie was lank net tot sekere dele in KwaZulu-Natal beperk, maar kom nou ook voor in dele teen die Vaalrivier in die Noord-Vrystaat en Noordwes.

Simptome van vergiftiging is tipies dié van koliek, naamlik rusteloosheid, knersing van tande en kreuning. Die dier sal na die buik skop en krom staan. Oog-uitloopsels, hardlywigheid, swak balans, ingesonke en starende oë is ook simptome van dié vergiftiging.
Die gif werk vinnig en dikwels word die diere dood gevind voor enige simptome aangeteken kan word. Daar is ook geen behandeling vir ‘n siek dier nie, maar in gevalle van vergiftiging deur ‘n lae dosis, kan die dier ná drie of vier dae oorleef met veeartsenykundige hulp.
Voorkoming
Die bessies kan giftig wees vir beeste, skape en bokke. Om gevalle van vergiftiging te keer, moet weiding in kampe waar inkbessie voorkom, vermy word. Chemiese beheer van die bossie moet ook aangepak word. ‘n Mengsel van Browser, crop oil en Ecoblue in water word aanbeveel. Die chemiese toediening moet met ‘n rugsakspuit gedoen word.
Dit is belangrik om die toediening van die gifstof te beperk tot die teikenplant om te voorkom dat dit voordelige bome soos soetdorings en witstinkhout beskadig en onnodige hoeveelhede van die duur produkte verbruik word.
Bronnelys
http://redlist.sanbi.org/species.php?species=2853-57
https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/beheer-van-inkbessie-20180316
https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/inkbessie-vergiftiging-20180329