Slegs ’n jaar nadat ’n Ile de Franceboer van Setlagole soveel as 40% van sy stoetooie verloor het, het hy vier eerste plekke by dié ras se nasionale kampioenskappe ingepalm.
Rudi Nel (33) van die Nelru Ile de France-stoet se junior kampioen-ooi, RN23-53, het die senior kampioen-ooi uitgestof en is as die grootkampioen-ooi gekroon. Hy het ook die meeste punte by die kampioenskappe behaal en só die algehele eerste plek by die 2024 nasionale kampioenskappe beklee.
Die Ile de France Genootskap se SA Nasionale Kampioenskappe is op 26 April by die Bloemskou in Bloemfontein aangebied. Rudi se diere het ook vyf tweede plekke, vyf derde plekke, vier vierde plekke en een vyfde plek verwerf.
’n Liefde by sy ouma geleer
Rudi het op die plaas Swartlaagte grootgeword, waar hy vandag ook boer. Hy het by Hoërskool Stella gematrikuleer, waarna hy ’n B.Agric-graad by die Universiteit van die Vrystaat verwerf het. Hierna het hy sewe jaar lank by ’n Beefmaster-voerkraal naby Christiana gewerk voordat hy by sy pa, Bertus Nel, op die plaas aangesluit het.
Sy oorlede ouma, Maryna Nel, het met Ile de France-skape geboer en Rudi het met hulle grootgeword. “Ek was van kleins af baie lief vir dié skaapras. My ouma het selfs haar ‘skaapwerk’ vir Vrydagmiddae gereël sodat ek haar daarmee kon help as ek van die skool af teruggekom het,” vertel Rudi.
Maryna het van die skape ontslae geraak toe haar gesondheid verswak het en Rudi moes toe sy eie kudde vestig. “Omdat dit deesdae moeilik is om ’n wins te maak met enige boerderypraktyk, moes ek ’n skaapras kies wat vinnig groei, ’n goeie omsetverhouding het, maklik aanpas en vrugbaar is. Ek het daarom op die Ile de France besluit.”
Rudi voeg by: “Dit is ’n skaap wat geweldig goed groei, so die som klop nog om ’n Ile de France te voer met voere se pryse wat deur die dak skiet.”
’n Goeie ram is die sleutel tot ’n presterende stoetery
In 2019 het hy sy eerste stoetdiere by Gerrit Erasmus gekoop toe laasgenoemde na die Karoo verhuis het. “My oupa het altyd gesê jy koop ’n boer se ou diere omdat daardie diere nog vir ’n rede in sy stoet is,” vertel Rudi.
Hierna het hy ook beproefde stoetooie by Bossie Clarke gekoop. Hy was op soek na ’n ram en glo daarin om in ’n besonderse ram te belê omdat jy altyd die vrugte daarvan sal pluk.
Hy doen deeglike huiswerk oor diere wat op veilings beskikbaar is en wil ook meer weet oor hierdie diere se vorige drie geslagte. “Ek koop eerder ’n bogemiddelde dier met goeie genetika as ’n baie mooi dier sonder genetika,” verduidelik hy.
Hy was gelukkig genoeg om sy hande te kon lê op ’n ram met die naam V6, wat in 2017 die senior reserwekampioen by die SA Ile de France nasionale skou was. Rudi meen sy drie ander staatmakerramme – Plofstof, Lexus en Buskruit – was onontbeerlik om die stoetery te bring tot waar dit vandag is. Sy kampioen-ooi, RN23-53, is dan ook die dogter van Plofstof.
Daar is meestal aangeplante bloubuffel- en borseltjiegras op Swartlaagte, asook kameelbome, vaalbos en rosyntjiebos. Die diere word elke oggend ná ontbyt veld toe gejaag en snags gekraal weens probleme met diefstal.
Rudi boer ekstensief en gee die dragtige ooie slegs ekstra voeding ses weke vóór tot ses weke ná lam. Die lammers kry ook goeie kruipvoer, wat hulle groei bespoedig.
’n Groot ramp het Rudi egter verlede jaar getref. Sy swaar dragtige ooie het in ’n kweekland geloop toe ryp op 19 Mei geval het. Die eerste diere het twee dae later begin vrek en hierdie vrektes sou ses weke lank duur.
Die ooie het blousuurvergiftiging, ook bekend as geilsiekte, opgedoen. Blousuur-glukosiedes vorm in plante wat skielik ’n watergebrek ly wanneer hulle deur ryp beskadig word. Dit veroorsaak dat die dier se grootpens opblaas, verlam die brein en lei tot algehele suurstofnood en uiteindelik versmoring.
“Ek moes basies ’n tweede keer begin,” vertel Rudi. Hy voeg by dat hy uit pure moedeloosheid amper tou opgegooi het en al sy skape wou verkoop. Hy het egter genoeg hoë gehalte diere behou om aan die kampioenskappe te kon deelneem.



Vergelyk appels met appels
Rudi het verlede jaar vir die eerste keer aan die nasionale Ile de France-skou deelgeneem en beskou dit as ’n goeie maatstaf waar hy sy diere met dié van ander telers van regoor die land kan vergelyk. “Dit gaan nie net oor wen nie. Jy moet jou diere met dié van die res van die land vergelyk om te weet waar jy staan en waar jy moet verbeter.”
Hy glo daaraan om die diere vroeg genoeg te laat afrond. Indien hulle te vet word, kan die vertoner altyd die voere beperk sodat hulle gewig verloor, maar indien diere te maer is en die tyd raak min, kan hulle moontlik nie betyds skou- of veilingsgereed wees nie.
Rudi steun op Voermol se produkte, wat hy self meng. Hy glo dat sy diere ook goed aangepas moet wees vir die veld. “My lammers kry kruipvoer nadat hulle gespeen is tot op 60 kg, waarna ek selekteer. Die diere wat ek in die stoetery hou, gaan hierna veld toe, waar hulle slegs goeie lek kry. Hulle word dan gehard en sal goed by enige iemand aanpas.”
Hartwater bly ’n groot uitdaging in die Setlagole-omgewing en Rudi moet elke jaar voorsorg tref teen bloutong.
Hy het ook ’n boerbokstoetery en het onlangs met Meatmasters begin stoet. Hy en sy pa boer ook saam met ’n verskeidenheid papegaaie.
Met die uitsonderlike resultate wat Rudi by die kampioenskappe behaal het, kon hy met selfvertroue twee stoetramme en agt stoetooie na die Overvaal Ile de France-klubveiling neem, wat op 3 Augustus by Bona Bona Game Lodge aangebied is.
Rudi is tevrede met sy stoetery en beskou dit as ’n gawe van die Here om ’n goeie oog vir ’n dier te hê en die regte diere te kan raaksien. Sy langtermynplan is bloot om elke jaar te verbeter.
