’n Sleepwa vir ’n hommeltuig en toebehore het belangstelling van regoor die wêreld gelok toe dit in Mei by Nampo ten toon gestel is. Dit is die vindingryke produk van Okkie Vermeulen (DJI-instrukteur by NWK) en Nic Keyser van Coligny (eienaar van Nic Trailers en ’n jarelange klant van NWK).
’n Video op Farm Space se Facebook-profiel van dié wa is al meer as 33 000 keer gekyk en daar is in die twee maande ná Nampo alreeds 42 van hierdie waens gelewer. NWK Arena het met dié gedugte span gesels om meer oor hulle konsep uit te vind.
Die ontwerp is sedert Nampo selfs méér verfyn en Nic is alreeds besig om aan ’n wa te werk wat ’n DJI T50- en T60-hommeltuig (wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie) sal kan akkommodeer.
Geen prototipe om mee te werk nie
Okkie het kontrakteurspuitwerk verrig toe sy paaie met dié van Nic gekruis het. Nic het geboer en in 1996 ’n onderneming geopen. Hy het in 1999 produksielyne vir waens gevestig en hulle begin bou.
’n Ingenieur en produsent in die Coligny-omgewing het sowat vier jaar gelede vir hom ’n hommeltuig aangeskaf en wou by Nic weet of hy sou help om ’n wa daarvoor te bou. Dit was nog nie gedoen nie en Nic het dus nie ’n prototipe gehad om van te werk nie. Sy eerste probeerslag was “lomp”, met ’n dubbelas-wa wat moeilik sou sleep en draai.
Nóg ’n hommeltuigoperateur in die Lichtenburg-omgewing, Niël Zimmermann, het Nic vir ’n wa genader, en dis tóé dat sy en Okkie se paaie gekruis het. Okkie, wat toe reeds ’n geruime tyd met die hommeltuie gespuit het, het bepaalde idees gehad oor hoe die ideale wa moes lyk.
Dis tydrowend om die hommeltuie uit hul kiste te haal, die gif te meng en die hommeltuig dan weer te bêre. By ’n volgende land moet dié tydsame proses herhaal word. Hoewel die hommeltuig nie swaar is nie, verg dit boonop twee mense om dit uit ’n kis te lig.
“’n Ou wat met ’n hommeltuig spuit, verkoop ure en hektare,” verduidelik Okkie die behoefte aan spoed en doeltreffendheid.
Hy het gemerk dat hommeltuigoperateurs in Amerika platforms op hul waens bou vanwaar die hommeltuie kan opstyg en minder stof veroorsaak. Die hommeltuie kan weer hierop land en operateurs kan hierop staan om ’n visuele lyn van sig te hê indien hulle in ’n gebied met ’n swak sein is.
Okkie het egter die gevare hiervan besef. “Hommeltuie het ’n radar wat slegs die grond ‘raaksien’ en nie ’n platform nie. Dit beteken dat die vlieënier die hommeltuig op die platform moet laat land. Indien iets skeefloop, is die waarborg dus nie van toepassing nie,” het Okkie verduidelik.
Vir die stof het hy ’n eenvoudige oplossing: “Spuit bloot die grond nat voordat die hommeltuig opstyg en land.”
Tog het hy geweet die Amerikaners het “iets beet” en Nic versoek om hulle voorbeeld te volg. Hy het vir Nic ’n foto van hulle wa gestuur, waarop Nic soos volg gereageer het: “Kind of ugly, but okay. Dink ons kan beter doen.”
Okkie lag: “En boom! Oom Nic het my genooi om te kom kyk en ek was baie opgewonde. Toe ek hom wou wys hoe om die voorste deel van die wa breër te maak, was hy reeds besig daarmee.”
Dit was ’n sirkus!
Nic herroep sy aanvanklike indrukke van spuitwerk met ’n hommeltuig: “Dit het soos ’n sirkus gelyk. Dié ou hardloop daardie kant toe, daardie ou hardloop soontoe. Een ou gooi homself vol gif soos wat hy met die pyp hardloop, die ander maak ’n kraan toe en mors… Dit was chaos!”
Hy verduidelik die belangrikheid van ’n vloeiende gedagtegang en dat dit vir hom belangrik was dat die waens hommeltuigoperateurs se werkvloei moes vergemaklik. “Hulle moes op een plek kon staan en met alles werk. Dis mos ergonomies.”
Nic het “seker 50 waens” gebou voordat die model waarmee hy Nampo toe is, die lig gesien het. Die wa het rakke waarop die hommeltuie en kragopwekkers staan, wat kan uittrek en instoot. Dit is voorts toegerus met ’n leer wat maklik op- en afslaan, kompleet met ’n dakkie sodat operateurs koelte kan hê. Daar is tot ’n haak waaraan hommeltuig-operateurs hul afstandbeheerders kan hang.
“Oom Nic hou van kleins af van sweis,” sê Okkie. “Van yster,” voeg Nic by. “Oom Nic vra die regte vrae, strategiese vrae, en was daarom die regte man om aan ons droom gestalte te gee,” voeg Okkie by.
Nic vertel verder: “Ek het as boer net geluister na wat my ‘gifou’ gesê het ek moes doen en dit gedoen. As jy ’n hommeltuig nie ken nie, is dit vir jou moeilik en intimiderend. Iemand moes vir my sê hoe die ding (wa) moes lyk. Okkie kén chemie en hy kén ’n drone, en hy het daardie kennis tafel toe gebring.”
Agterop die wa is ’n 1 000 ℓ tenk vir water waarmee onder andere spuitstowwe gemeng kan word.
Die grootste uitdaging was die vermenging van gif, omdat vooropkomsgifstowwe swaar elemente bevat wat vinnig uitsak. Nic en Okkie het tientalle pompe beproef – onder andere een uit Italië, wat nie gewerk het nie. Die uiteindelike oplossing was eenvoudig.
Nic het ’n hidrouliese ingenieur se hulp ingeroep, wat voorgestel het dat hulle ’n hoër tenk met ’n tregter na onder opsit sodat ’n draaikolk/vortex (soos wanneer ’n bad uitloop) sou vorm. Dit was belangrik dat daar lug moes inkom sodat die water en chemie kon meng.
Ander unieke eienskappe van die wa, sluit in:
- ’n Eenvoudige pyp met ’n spiraal binne wat die inhoud in die rondte laat draai, keer dat skuim vorm wanneer dit by die pomp uitkom.
- Die pomp wat tans gebruik word, het slegs ’n sterkte van 350 W. “Dit gaan nie oor die druk nie, maar eerder volume,” verduidelik Okkie.
- Daar word sowat 500 ℓ gif op ’n slag vermeng sodat vermorsing beperk word indien die wind opsteek of reën uitsak. Dit word later weer deur die stelsel gefiltreer.
- Daar is ’n raam bo-op die tenk sodat die operateur met gemak veilig hierop kan staan om die chemie te meng.
Sien is glo
Okkie verduidelik meer oor ’n kladtoets waarvolgens ’n papiertjie in ’n land gesit word en die hommeltuig daaroor vlieg en spuit. Die papiertjie ontleed hoeveel aktiewe gif die hommeltuig spuit. “Dit neem gemiddeld 18 minute van meng, dan is ons op 15 ha. Met die draaikolk in die tenk, neem dit slegs drie minute,” vertel hy.
Met hierdie resultate is hulle Nampo toe. Die sales pitch van die video op Farm Space: “Hierdie outjie maak dat ek 140 ha ’n dag kan spuit,” sê Okkie. Dit is in teenstelling met ’n skrale 50 ha tot 60 ha vir ’n beginner, sonder die wa om sy lewe te vergemaklik.”
“Net oor die mengtyd… Dis soos ’n tapkar vir ’n stroper. Jy kry amper nóg ’n stroper by!” som André Tjoepie Groenewald van Farm Space dit mooi op in die video.
Nic en Okkie moes bontstaan by Nampo en het 1 200 klante in vier dae gesien. Die span van DJI was ook baie beïndruk en Okkie het die geleentheid gebruik om voorstelle aan hulle agente te maak oor hoe die hommeltuie selfs beter toegerus of aangepas kan word.
“Só veredel jy hulle produk en word meer verkoop. As hy meer verkoop, verkoop ék meer,” sê Nic en wys na ’n pak kwotasies op sy lessenaar wat ook na oorsese klante moet gaan.
Okkie is oortuig dat daar, nie ver van nou af nie, ’n dag gaan kom wanneer elke produsent ’n hommeltuig sal gebruik. “Ons stuur jong ouens oorsee om geld te gaan maak,” sê hy met verwysing na skoolverlaters wat in Amerika gaan boer.
“Dit gaan stop. Ons gaan vir hulle ’n geleentheid gee om ’n drone te koop en hulle eie ondernemings in Suid-Afrika te begin. Daar sit jong outjies oorsee wat my al gekontak het. Hulle wil terugkom en die geleentheid aangryp. Ek wil sulke mense help, want ons verloor uitsonderlike talent.”
AgTech@NWK het intussen ook ’n velddiensvoertuig aangeskaf waarmee hommeltuie in die veld herstel kan word wanneer dit nodig is. “Wanneer jy voorheen ’n probleem in die veld ervaar het, moes jy die drone ingee en tot vyf weke wag. Intussen staan jou 2 000 ℓ gif. Nou gaan ons uit en diens dit in die veld,” sê Okkie.
Kliëntediens is vir beide Okkie en Nic belangrik, en die wa kom met ’n lewenslange waarborg. Hulle raak liries oor die toekoms van hommeltuie in landbou en droom reeds groot oor waarheen dié tegnologie ook die bedryf in Noordwes gaan neem.
“Jy moet net aanhou innoveer sodat jy voor kan bly,” sê Nic.
Kliek op die skakel om na ’n video van die double-up drone-waentjie op Farm Space se YouTube-kanaal te kyk.