Al is die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing aanvanklik gestig om uile te red, kon die eienaars, Brendan en Danelle Murray, nog nooit nee sê om in te spring as ’n viervoetige of ander geveerde in nood verkeer het nie. Sommige van die babadiertjies moet gevoed word, wat die span nogal besig hou.
Onthou gerus om ’n bydrae te maak tot die fonds van hierdie verdienstelike organisasie. Hier is ’n paar van die reddingspogings van die afgelope twee maande.
’n Nuwe lewe breek deur sy eierdop
Ervaar die wonderwerk van nuwe lewe terwyl ’n aasvoëlkuiken sy reis van eier na die wye wêreld aanpak. VulPro, ’n nie-winsgewende aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, het dié spesiale oomblik op Facebook gedeel.
Kliek op die skakel om die wonderwerk te sien, wat ’n bewys is van die sukses van dié organisasie se teelprogram.
Nutsman versorg uilkuiken

Slange is ook belangrik
Min mense weet dat 16 Julie die spesiale dag is wanneer daar op slangbewustheid gefokus word. Al gril die meeste mense vir slange, speel hulle tog ’n belangrik rol in die ekologie omdat hulle die knaagdierpopulasie beheer en ’n waardevolle voedingsbron vir roofdiere is. Hierdie vyf wenke vir “slangveiligheid” is op Wêreld Slangbewustheiddag op SA Hunters se webblad gedeel:
- Slange val nie mense aan nie, maar sal hulself verdedig as hulle bedreig voel.
- Handhaaf sowat 5 m tussen jou en ’n slang om te verhoed dat jy gepik word.
- Gebruik ’n flitslig wanneer jy saans buite loop.
- Moenie slange doodmaak of probeer hanteer nie.
- Laat slegs ’n ervare slanghanteerder toe om ’n slang uit jou huis of tuin te verwyder en in ’n veilige omgewing vry te laat.