Deelnemers aan vanjaar se NWK Jongboerprojek het harde klippe gekou weens die uiterse droogte en hittetoestande.
Waar ‘n deelnemer in 2023 die hoogste opbrengs mielies nóg op droëland (10,2 t/ha) sedert die projek se totstandkoming in 2014 geproduseer het, was vanjaar se hoogste opbrengs 5,36 t/ha. Dit is deur David Pitout van die Koster-gebied behaal. Hy het die hoogste reënval (487 mm) aangeteken, wat ver onder die langtermyngemiddeld van 665 mm in dié gebied is.
David en die 27 ander projeklede het die jaar op 1 November afgesluit en die toppresteerders is daardie aand tydens ‘n spoggeleentheid by Du Preez Prag vereer.

Ruwan van den Berg van Hartbeesfontein het ‘n mielieoes van 4,28 t/ha behaal en het die tweede plek ingepalm.
Pieter Carroll van die Lichtenburg-omgewing het die toekenning vir die beste sonneblom-opbrengs ontvang. Hy het 2,17 t/ha geproduseer. Hoewel dit minder is as dié van Dalton Viljoen se 2,47 t/ha, het Pieter sonneblom met ‘n hoër olie-inhoud geproduseer waarvoor hy ‘n premie ontvang het. Dalton boer in die Koster-omgewing en beklee die tweede plek in die sonneblom-afdeling.

David het ook die eerste plek in die sojaboon-afdeling ingepalm met 2 t/ha. Robert Pretorius is tweede met 0,96 t/ha.
Rudolph Schulenburg is vereer vir die beste administrasie. Herman Steyn het die oesskattingkompetisie gewen, wat behels het dat deelnemers aan die projek die opbrengs van Anton Hansen se sojaboon-aanplanting moes skat, wat uiteindelik 0,9 t/ha was.
Doen die basiese reg gedurende ‘n droogte
Anche Suurd, landbou-ekonoom by NWK Finansiering en ‘n studieleier van die Jongboerprojek, sê die uitermatige droogte en hitte het deelnemers genoop om moeilike bestuursbesluite te neem.
Dit was die meeste deelnemers aan die projek se eerste droogte en dus ‘n waardevolle leerskool.
“Die besluit rondom topbemesting byvoorbeeld – sou die reën betyds wees en topbemesting is nie toegedien nie, sou dit opbrengste negatief beïnvloed het. Sou deelnemers egter topbemesting toedien en dit reën nié, het dit stygende insetkoste tot gevolg.”
Sy meen die besluit rondom giftoediening was ook moeilik, omdat produsente hierna reën benodig vir optimale funksionering van die gifstof. “In baie gevalle het die gif nie gewerk nie, omdat dit nie gereën het nie.”
Anche sê die grootste les wat die droogte deelnemers aan die projek geleer het, is dat ‘n droogte nie die tyd is om nuwe of vreemde metodes te beproef nie. “Moenie groot uitgawes aangaan en trekkers of implemente koop wat nie werklik nodig is nie. Die paaiement gaan jou kontantvloei onder onnodige druk plaas.”
Die droogte het ook die belangrikheid beklemtoon om graanvoorraad in ‘n silo te hê wat produsente kan oordra na ‘n volgende seisoen ten einde skuld te delg.
Anche het bygevoeg dat akkurate rekordhouding ‘n bestuursaspek is waarmee deelnemers aan die projek gewoonlik sukkel. “Soveel te meer hierdie jaar. Niemand wou waarskynlik die werklikheid op papier sien nie! Almal het geweet hulle is in die moeilikheid, hulle het net nie geweet hoe groot die moeilikheid is nie.”
‘n Helpende hand aan jongboere
Pieter Kleingeld, NWK se groephoof- uitvoerende beampte, het by die afsluitingsfunksie gesê dat landbouers hulle in ‘n snel veranderende en uitdagende tyd bevind, met klimaatsverandering wat ‘n groot kwelpunt is.
Gepaardgaande met die wisselvalligheid van kommoditeitspryse en insetkoste, asook stygende grondpryse, raak dit moeiliker vir jongelinge om die landbou-omgewing te betree.
“NWK het daarom die Jongboerprojek van stapel gestuur. Dit bied hulle die geleentheid om hul kennis en ervaring te verbreed en skep ‘n platform om met ander jongboere te kan netwerk.
“Die program word deur AgTech@NWK se wetenskaplik geskoeide produksiepraktyke ondersteun. ‘n ‘Spaarprogram’ bied deelnemers die geleentheid om sekuriteit te vestig tot daar voldoende fondse is om hulle eie grond aan te skaf met lojaliteitspunte wat ook in aandele omskep word,” het hy verduidelik.
In 2023/2024 is daar R50,1 miljoen aan die projek toegeken. ‘n Totaal van R28,5 miljoen word ongedek deur NWK toegeken en die res word binne die maatskappy se finansiële beleid en die spaarplan gefinansier.
Die projek het sedert sy ontstaan in 2014, R205 miljoen aan lede geleen met ‘n gemiddelde terugbetalingskoers van 93.8%.
Projek nie moontlik sonder borge
In 2023/2024 het deelnemers 5 833 ha geplant waarop 5 718 ton mielies, 2 093 ton sonneblom en 245 ton sojabone geproduseer is. Dit sou nie moontlik gewees het sonder verskeie borge wat ruimskoots tot die projek bygedra het nie.
Bayer het 190 sakke mieliesaad ter waarde van R1,6 miljoen vir vanjaar se projek geborg en reeds aangedui dat hulle beoog om in 2025, 280 sakke saad ter waarde van R2,2 miljoen aan die projek toe te ken. Ook Pannar het 25 sakke sonneblomsaad teen R112 500 vir vanjaar se projek geborg.
Limagrain het vier sakke mieliesaad vir die pryswenners geborg en Omnia een ton kunsmis ter waarde van R10 000. Ook Midchem het R2 500 bygedra tot die afsluiting, Graan SA R15 000 en NWK4Sure R5 000.
Jongboere op pad na Suid-Amerika
Lede van die projek, onder leiding van Jacobus Claassens (operasionele bestuurder van AgTech@NWK), vertrek op 2 Maart 2025 vir ‘n toer na Argentinië. Hulle gaan elf dae lank hier vertoef om, onder andere, meer te leer van die Argentynse veebedryf, graanuitvoer vanuit hulle hawens, asook plaaslike landboupraktyke.
Die lede gaan ‘n gesogte landbouskou besoek waar hulle die jongste tegnologie en implemente in aksie sal kan sien en skouers skuur met leiers in die landboubedryf. Hulle sal ook aandoen by ‘n CASE-fabriek om te sien hoe stropers en trekkers vervaardig word.
Absa borg die toer met R175 000 en lede van die projek gaan dit verder self befonds.