• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, Jun 16, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Groei vir Goud-wenner deel sy suksesresep

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur: NWK Arena

22 Jan 2025
in Nuus
Groei vir Goud-wenner deel sy suksesresep

Janna du Rand ontvang sy toekenning van die voorsitter van Graan SA, Derek Mathews, wat self in Noordwes boer.

Share on Facebook

Hoewel die wenner van Graan SA se Groei vir Goud-kompetisie in die mielie-afdeling in Noordwes nie vanjaar sy hoogste opbrengs ooit behaal het nie, was dit nietemin sy produktiefste oes deurdat hy 27,1 kg graan per millimeter reën kon produseer.

Ten spyte van ’n uiters droë en uitdagende 2024, kon Janna du Rand (39) van Mareetsane steeds 9,78 t/ha behaal op die betrokke blok wat vir die Groei vir Goud-kompetisie ingeskryf is. Dit is danksy ’n kombinasie van slim bestuurspraktyke, ’n goeie kultivar en bowenal, “bewerking hier by Janna se knieë rond”, wat hy sê op die kort afstand tussen sy knieë en die grond dui, en dus ’n onwrikbare geloof in sy Skepper.

Janna weet dat elke druppel reën letterlik goud werd is. Meer wisselvallige reënval, duurder insetmiddels en onvoorspelbare graanmarkte maak dit ’n bykans onbegonne taak om vir die beste opbrengs moontlik te plant. Hy klas daarom nou eerder sy lande volgens hul potensiaal en identifiseer in hierdie kategorieë verdere risiko’s soos oordragvog, onkruiddruk, windskade en verspoelings.

Meer kapitaal word dan aan hoë potensiaal lande bestee en minder risiko’s op lae potensiaal grond geneem.

Janna is die vierde generasie op die plase Jakkalsdans en Aldona, en boer saam met sy ouers en een broer. Hy het homself ná skool eers as ingenieur bekwaam omdat hy graag in staat wou wees om sy eie implemente te ontwerp, wat hy in die boerdery kon aanwend.

Buiten vir die saaikomponent wat hy behartig, doen hy ook kontrakteurbewerkings en stroopwerk vir ander produsente. J&J Boerdery het ook ’n beesvertakking wat bestaan uit kommersiële Limousin-beeste en ’n wildkomponent met oornaggeriewe.

In die 2023/2024-seisoen is 950 ha witmielies, 790 ha sonneblom, 450 ha sojabone en 320 ha grondbone geplant. Sowat 150 ha was oorlêlande.

Elke korreltjie grond word bestuur

Met sy terugkeer na die plaas in 2008 het hy daarop gefokus om grond gesondheid te stimuleer en stelselmatig presisieboerdery begin toepas. Dit was vir hom belangrik om ’n balans te vind tussen die verkryging van ’n opbrengs op belegging terwyl hy steeds aanpasbaar bly vir groei en uitbreiding.

Die gronde waarop Janna plant, is meestal die Avalon-tipe. Die spesifieke blok wat vir die kompetisie ingeskryf is, het ’n kleipersentasie van 6% en keerlae van 1,5 m tot 2,5 m diep.

Omdat dit sandgronde is, word bewerkings en materiaal daarop fyn beplan om soveel moontlik skaduwee op die grond te kry, verdamping te bekamp en windskade te verminder. Die materiaal op die lande verhoog ook die wateropname en bekamp die afloop van waardevolle reënwater.

Die lande word nie deur beeste bewei nie. Oesreste word in die grond ingewerk en sand wat maklik op die ry kompakteer, word diep gerip.

Janna maak van wisselbou gebruik en meen dat dit sinvol in die produsent se sakestrategie moet inpas. “Dit moet ook as ’n primêre gewas versorg en bestuur word, winsgewendheid en produktiwiteit verhoog en nie skade aanrig nie,” verduidelik hy.

Slegs rye word op verskillende dieptes met ’n spoorverkeerstelsel gerip om deur verdigtings te skeur, afhangende van die tipe gewas wat geplant word. Lande word skoon gehou met rolstawe, saadvoorbereidingskoffels of deur onkruide met chemie te beveg.

Proewe het groot waarde

Janna pas presisiestuurstelsels toe met RTX en Centerpoint-sein, wat sowat 5 cm to 10 cm akkuraat is op die meeste masjiene. Buiten saad- en kunsmismonitors op planters, gebruik hy ook bykomende vloeibare tenks met elektriese motors vir die toediening van entings en biostimulante in vore.

Hy steun op grondkarteringskaarte en neem monsters wat na verskeie laboratoriums gestuur word. Sodoende word ’n korrelasie tussen resultate verkry om aanbevelings so goed as moontlik te kan bestuur.

Die stropers is toegerus met opbrengsmonitors om probleemareas te kan identifiseer. “Daar is egter geen beter inligting as om jou eie proefperseel te skep, jou eie data in te win en gevolgtrekkings te maak volgens jou eie behoeftes en toestande op jou plaas en praktyk nie,” beklemtoon Janna.

“Jy kan dan self sin maak van jou spandering, produktiwiteit en sommer nuwe tegnologie op die proef stel, of praktyke, kultivars, bemestings, rywydtes, spuitprogramme en blaarvoeding toets. Praktyke verskil só baie van mekaar dat distriks- of nasionale proewe hoogstens vir jou ’n verwysing of vertrekpunt bied om jou eie proefperseel te vestig,” verduidelik hy.

Voor hy ’n produk op skaal begin plant, moet dit oor minstens drie jaar in Janna se eie proefstelsel bewys dat dit goed sal aard in die grondtipe en binne sy praktyk.

Pannar staan uit

Janna was juis oortuig van Pannar 5R-891BR se potensiaal danksy proewe hiermee op sy plaas en dit was uiteindelik die kultivar waarmee hy die wen-opbrengs sou behaal. “Dit was die vyfde jaar wat ek hierdie produk aangeplant het en dit maak die grootste deel van my witmielie-aanplantings uit. Dit bied konstante produksie in droë én nat jare.”

Die betrokke blok is tussen 6 en 8 Desember 2023 geplant. Janna plant alle gewasse op rye van 0,91 m met agt-ry planters. Die plantpopulasie was 19 500 plante/ha, met 18 000 plante/ha wat gerealiseer het.

Janna het 82% stikstof (85 kg NH3, oftewel ammoniakgas) 250 mm diep, vier weke voor planttyd, toegedien. Saam met die planter is ’n vol plantmengsel van Omnia-kunsmis toegedien. Die opbrengs is in die eerste week van Julie gestroop.

“As jou strategie werk, dan loop die opbrengs en winsgewendheid hand aan hand, want laer potensiaal lande word meer winsgewend geproduseer en benut sonder ’n hoë risiko, terwyl hoër potensiaal lande vir hul volle potensiaal bewerk word, wat jou daardie hoë opbrengs en winsgewendheid bied.”

Steun op geloof tydens droogte

In die 2023/2024-oesjaar het Janna soggens uit die bed gespring, die gordyne oopgetrek en op sy foon gekyk, “net om te sien dat die weer wat vandag moes kom, wéér met ’n week aangeskuif het”. Hy vertel: “Dit breek ’n mens bietjie vir bietjie af.”

Hy het in hierdie uitdagende tye sterk op sy geloof gesteun. “God weet waartoe jy in staat is. Hy het ’n plan met jou op die grond en stap daagliks saam met jou ’n pad.”

Wat vir Janna en sy bure in die sentrale en westelike somer saaigebied toenemend ’n probleem raak, is dat die optimale planttyd vir die meeste gewasse tot in Desember aanskuif. “Dit het ’n groot invloed op die beskikbaarheid van onderdele en slytparte meegebring.”

Hy verduidelik: “Die meeste groot nywerhede sluit in Desember vir ’n langer tydperk – die besigste en belangrikste tyd van ons seisoen. Boere het net een kans om hul aanplantings reg te doen en kan nie bekostig om masjinerie vir selfs net sekondes te laat staan nie.

“Produsente het nie noodwendig voldoende kontantvloei om vooraf die nodige onderdele en voorrade te koop nie. Maatskappye skaf ook nie meer oormatig voorraad aan nie omdat dit hulle syfers negatief beïnvloed. Selfs al is landboumaatskappye gedurende vakansietye oop, het hulle dikwels net die voorraad op hulle rakke beskikbaar.”

Die Du Rand-gesin van Mareetsane.
Die belofte van reën in die lug.
Janna het in 2008 op grondgesondheid begin fokus en stelselmatig presisieboerdery begin toepas.

Jongboere het steun nodig

Janna is oortuig dat Suid-Afrika se produsente van die beste in die wêreld is omdat hulle so aanpasbaar is en op enige plek in die wêreld ’n sukses maak van projekte wat hulle aanpak.

“Ons boere is egter tans onder geweldige druk. Insetkoste het erg gestyg en algehele verhogings is baie meer as inflasie. Markte het nie in verhouding saam gegroei nie en winsmarges het gevolglik aansienlik verklein.

“Tesame met ’n verlaging in sekuriteitsteunwaarde op hoër insette, raak kontantvloei al minder. Al is jou boerdery bedryf sterk, as jy nie dag-tot-dag kontant vloei het nie, kan dit jou kniehalter.”

Dis veral jongboere wat toenemende druk ervaar omdat hulle boerderye nog nie sterk gevestig is met talle vertakkings nie. Hulle sukkel om die mark te betree weens swak sekuriteit op lenings.

Janna was self deel van NWK se Jongboerprogram, wat juis ten doel het om jong toetreders tot die landboubedryf hierin by te staan. “Die projek was van groot waarde vir my deurdat ek toegang kon kry tot landboukundiges en -ekonome, asook graanbemarkers en my finansies kon verbeter deur te leer hoe om spandering en uitgawes te bestuur.

“Dit is baie belangrik om sulke jongboerprogramme te hê om ’n geleentheid vir die volgende generasie boere te skep om van ’n beginnerboer na ’n volwaardige kommersiële produsent te ontwikkel.”

Bly leer en pas aan

Janna is van mening dat vandag se produsente selfs meer aanpasbaar moet wees. “Weerveranderlikes en duur insette verhoog die produsent se risiko en laat min ruimte vir foute in jou strategie.

“Ek het daarom my besigheidspraktyk aangepas deur weg te beweeg van die strategie om vir die hoogste opbrengs moontlik te bemes en só jou oes basies te koop. Ek probeer eerder om volhoubaar te boer deur op kostebesparing te fokus en vog oor te dra, terwyl ek my grondstatus en -vrugbaarheid verhoog.”

Hy glo dat graan oor ’n langer tydperk bemark moet word om pryssekuriteit te bewerkstellig. “Voorlopige vooruitskattings vir die komende seisoen se graanmarkte lyk nie baie goed nie, met ’n moontlike daling van 35% in die witmielieprys wanneer ons teen Julie 2025 behoort te lewer. Dit plaas winsgewendheid onder hewige druk en het ’n wesenlike impak op die finansiering van insette, omdat die risiko verhoog en dit kommer wek oor die produsent se terugbetalingsvermoë.”

Janna woon gereeld boeredae by, waar aspekte soos proewe, graanmarkte en weerneigings toegelig word. “Woon vergaderings van jou boerevereniging by om soveel moontlik inligting oor jou direkte gebied en omliggende omgewing te kry.”

Hy raai ander produsente aan om by hul landboukundiges en -ekonome uit te vind hoe hul uitgawes en praktyke met die bedryf se standaarde vergelyk. “Gesels ook met boere buite jou gebied na wie jy opkyk. Win inligting in, verwerk dit, maak dit jou eie en kyk waar dit waarde tot jou boerdery kan voeg.

“’n Familieboerdery is ’n baie belangrike inligtingsbron. Niemand ken die toestande beter as iemand wat reeds 40 of 50 jaar saam met die plaas kom nie.”

Die Groei vir Goud-wenners is op 25 September 2024 in Johannesburg aangewys.

Ander wenners uit Noordwes:

Stompie Olivier van die Potchefstroomomgewing was die graanopbrengswenner in die sonneblom afdeling met 4,472 t/ha.

PG van Zyl van Schweizer-Reneke was Noordwes se wenner in die sojaboonafdeling met 4,720 t/ha.

Tags: Jan/Feb 2025
Previous Post

Ons sal nie struikel nie

Next Post

Skootrekenaars van NWK die kersie op die koek op Ditsobotla-matrieks se verbeterde slaagsyfer


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In