Dawid het syfers van Graan SA, Absa asook die Landbounavorsingsraad, voorgehou om te wys hoe drasties die veeboer se wins weens stygende insette gedaal het.
Veronderstel die produsent het 100 koeie met ‘n speenpersentasie van 70%, speen 70 kalwers met ‘n gewig van 200 kg en voer ‘n koei 700 kg mielies per jaar, kom dit neer op 14 ton wat gespeen is. In 2010 het produsente R221 200 hiervoor verdien. Een plaasarbeider sou hom R15 800 kos, terwyl hy/sy R94 850 vir voer sou moes opdok. Dit het hom/haar met ‘n wins van R110 550 gelaat.
In 2024, was voerkoste vir die bogenoemde scenario ‘n astronomiese R362 950 en arbeid R53 000, wat die produsent met slegs R14 550 gelaat het.
“As jy nog boer soos in 2010, het jy nie aangepas nie en is jy nie volhoubaar nie. Die kanse is goed dat jy nie 2035 gaan sien nie,” het Dawid gewaarsku.
Goeie rekordhouding begin by gewigte en datums
Dawid sê speen- en geboortegewigte asook die datums van geboortes, sterftes en inentings behoort die basis van ‘n veeboer se rekordhouding te vorm.
“Dit is ook belangrik om te weet watter koei en bul ‘n betrokke kalf se ouers is.” Hy het bygevoeg dat vrugbaarheid die belangrikste vorm van vooruitgang in ‘n veeboerdery is en dat die dragtigheidsyfer verwys na die hoeveelheid koeie wat gedek is, nié gekalf het nie.
“Uit bogenoemde syfers kan ons aflei dat, as jy jou speensyfer van 70% van 80% (dus tien meer kalfies) verhoog, jy bykans R60 000 meer kan verdien. ‘n Swaarder speengewig van 230 kg kan ‘n verdere R60 000 beteken.
Rekordhouding van die koei-kalf-omset is ook belangrik. “Hoeveel van die koei se gewig sit sy om na ‘n kalf? Daardie kalf moet by speen sowat 50% van sy ma weeg.”
Wat is beter – ‘n kalf of ‘n swaarder kalf?
Anri Strauss (tegniese skaap- en beesspesialis by Chemunique) het gesels oor volhoubare mineraalaanvullings en gesê dat die beste drywer van winsgewendheid op ‘n plaas reproduksie is.
Indien vee genoegsame kos inneem en geen siektes het nie, behoort hulle ‘n dragtigheidsyfer van tussen 50% en 55% te hê. Die regte lekprogramme kan dit na ongeveer 80% tot 90% neem. In nat seisoene moet P voldoende wees, terwyl genoegsame proteïen in droë seisoene die belangrikste is.
Die belangrikste mikrominerale is Zn, Mn, Cu, Co, I, Se, Fe en Cr. Hierdie minerale is belangrik vir eierselle se gehalte en gesondheid asook spermselle se beweeglikheid.
Zn is ook belangrik vir wonde se herstel en Anri het veeprodusente aangeraai om dit saam met vitamien A toe te dien om die doeltreffendheid te verhoog.
Swart diere waarvan die hare roesbruin verkleur, is dikwels ‘n aanduiding dat die produsent Cu moet aanvul. Die beste opsie is om minerale met lekke aan te vul. Inspuitbare middels word stadig vrygestel en produsente kan hiermee nie hoë dosisse toedien nie. Daarom is dit nie noodwendig voldoende vir ernstige tekorte nie.
Anri het ook na navorsingsresultate verwys waarvolgens ‘n 12 kg swaarder speengewig danksy twee verskillende mineraalbronne bereik is. “Selfs deur die voerkraal het hierdie kalwers ‘n voorsprong,” het sy gesê.
Lekbakbestuur moet reg wees
Craig Shepstone (voedingskundige konsultant by Chemunique) het praktiese riglyne oor lekaanvulling gedeel en produsente aangeraai om die inname van ‘n nuwe lek daagliks te monitor. “Dalk is die produk wat jy vermeng het te smaaklik en neem hulle te veel in,” het hy verduidelik.
Die grootste oorsaak van swak reproduksie is ‘n tekort aan die regte voeding op verskillende tye van die jaar. Droë plante in wintermaande kan tot vier dae langer neem om te verteer as in die somer en die hoeveelheid proteïen hierin neem ook geweldig af.
Die Vryburg-omgewing is bekend vir P-tekorte en Craig het aanbeveel dat dié mineraal regdeur die jaar aangevul moet word.
Weiding – kies grasspesies wat natuurlik in ‘n omgewing voorkom
Jamie Gerber (tegniese bemarker by Barenbrug) het volhoubare veld- en weidingbestuurder in droogtetoestande toegelig en gesê dat produsente grasse moet kies wat minder water vereis.
In Noordwes is rooigras, smutsvinger, bloubuffel- en witbuffelgras, Rhodesgras asook borseltjiegras, goed aangepas.
- Borseltjiegras is goed aangepas op sandgrond en kan produktief wees in lae P-gronde. Dit is hoogs smaaklik, bied goeie voerkwaliteit en toon goeie droogteverdraagsaamheid.
- Boubuffelgras is aangepas op leem- en kleigronde en verdra droogtes goed. Dit het egter ‘n groot behoefte aan P, maar benodig minder N en K en bied goeie wei- en hooikwaliteit.
- Rhodesgras is aangepas op ‘n wye verskeidenheid grondtipes en toon goeie soutverdraagsaamheid in brakgronde. Dit is meerjarig en vestig vinnig.
- Smutsvinger is ook aangepas op ‘n wye verskeidenheid grondtipes en ‘n goeie meerjarige gewas.
- Witbuffelgras groei goed onder bome waar daar baie voedingstowwe voorkom en dit verdra ryp goed. Dit is smaaklik en lewer goeie laatseisoen produksie.
“Sodra jy die regte saadtipe gekies het, is saadbehandeling ‘n bykomende wyse om sukses te verseker. Kalk, polimeer, biostimulante en mikrovoedingstowwe word bygevoeg om ontkieming en vestiging te maksimeer,” het Jamie verduidelik.
Wyse van veldbenutting ondergeskik aan die wyse van rus
Johan Mouton, bestuurder van navorsing en produkontwikkeling by Molatek, het oor die kostedoeltreffendheid van lekaanvullings gesels.
Hy het verwys na dr Arnold Tyler, die stigter van Onderstepoort wat oorspronklik getaak was om perdesiekte te ondersoek. Hy het foto’s gewys van ‘n os wat Arnold ná vier jaar op veld sonder enige aanvulling geslag het, teenoor ‘n os wat beenmeel met 15 g fosfaat ingeneem het. Laasgenoemde se karkas het 180 kg swaarder geweeg.
Johan het verduidelik dat produsente moontlik aanvullings nie kostedoelftreffend vind nie omdat die doeltreffendheid daarvan verskil na gelang van veldtipes. “Die kwaliteit van weiding is die belangrikste rolspeler in aanvullings se doeltreffendheid,” het Johan verduidelik. “Moenie weiding probeer vervang met aanvullings nie.”
Hy het foto’s van kaalgevrete veld gewys en gesê dat boerderystelsels wat goed vaar, elke tweede of derde jaar tydens die benuttingspatroon ‘n groeiseisoensrusperiode het. “Op ‘n rotasiebasis van ‘n derde, kwart of watookal. Dit vorm die basis van goeie lekaanvulling.”
Werk sáám met jou veearts teen hartwater
Dr Kelly Barnard van Octavoscene het gesê dat die voorkoming van hartwater neerkom op die doeltreffende beheer van die bosluispopulasie op jou plaas. “Bosluise is vanuit ‘n ekonomiese oogpunt die mees noemenswaardige parasiet. “Jy kan direkte (gewigsverlies, verminderde melkproduksie) en indirekte verliese (siektes soos hartwater) weens bosluise kwantifiseer. Nie elke bosluis het ‘n siekte nie, maar elke bosluise kan skade veroorsaak.”
Bontluise is draers van hartwater. Twee en twintig geswolle vroulike bontluise kan tot ‘n gewigsverlies van 20 kg by ‘n koei oor 90 dae lei en 11 kg gewigsverlies by ‘n kalf veroorsaak. Een van hierdie bosluise kan tot 18 000 eiers op ‘n slag lê.
Hulle hou van hoë temperature en humiditeit, asook lang gras. “Die doeltreffendheid van dip neem af wanneer vee deur nat gras loop en dit lei uiteindelikheid tot weerstandigheid teen dié middel,” het sy gewaarsku en produsente aangeraai om hul vee te dip vóór hulle na ‘n nuwe gebied verskuif word.
‘n Dier met hartwater se bloedselle word aangetas en die dier verloor geweldig baie water wat in die borskasholte versamel. Dit veroorsaak dat longe tydens asemhaling nie kan uitsit nie en die dier versmoor uiteindelik.
Hartwater kan slegs met ‘n breinsmeer gediagnoseer word, nié ‘n bloedsmeer nie. Kelly het produsente aangeraai om die kop sowel as oor van ‘n karkas met vermoedelike hartwater te verwyder, omdat Asiatiese hartwater wel met ‘n oorsmeer gediagnoseer kan word.
“Elke plaas het ‘n unieke identiteit en profiel. Is jou plaas in ‘n area endemies tot hartwater of ervaar jy moontlik bloot ‘n sporadiese uitbreking? Het jy ‘n nuwe dier in jou kudde? Werk saam met jou veearts wat jou plaas verstaan en gereeld daar kom. Ten einde hartwater te beheer, moet jy die bosluis beheer.”