Die eerste deurvloeiskaal is in November 2024 met groot sukses by NWK se silokompleks in Koster geïnstalleer. Werk gaan eersdaags begin by die volgende silo’s wat vir installasie geïdentifiseer is. Hierdie unieke uitvindsel deur NWK Ingenieursdienste gaan nou die spoorweegbrûe wat so te sê in onbruik is, vervang.
NWK was dekades gelede grootliks van spoorweë afhanklik vir die vervoer van graan. Die verval van hierdie infrastruktuur het die bedryf egter genoodsaak om na padvervoer oor te skakel. Silo’s is destyds ontwerp met spoorvervoer in gedagte. Treinwaens is op hierdie spoorweegbrûe tot die regte gewig gelaai.
Die oorskakeling na hoofsaaklik padvervoer het bepaalde veranderings genoodsaak en die grootste uitdaging was om graan vanuit die opbergingstrukture teen die korrekte gewig op vragmotors te laai.
Spoorweegbrûe kan nie vir vragmotors gebruik word nie en die graan wat op vragmotors gelaai is, se gewig is aanvanklik geskat en dan agterna eers by weegbrûe op paaie bevestig. Vragmotors moes dus heen en weer beweeg tussen die weegbrûe en uitlaaipunte om op óf af te laai totdat die gewig reg was.
Dié metode se herhaalde beweging het geweldige druk op die silo-infrastruktuur geplaas met die deurtrap van rybane en draaipunte, vragmotors wat onnodige hoeveelhede brandstof verbruik en silotoerusting wat herhaaldelik aan- en afgeskakel moes word. Dit was boonop ʼn tydsame proses en verkeerbeheer was ‘n nagmerrie, veral in oestyd.
NWK Ingenieursdienste het koppe bymekaar gesit en met ‘n werkbare plan vorendag gekom om dié uitdagings die hoof te bied. Die vloei van graan word nou in pakkies van ongeveer 160 kg opgedeel. Elke pakkie word tydelik tot stilstand gebring sodat dit geweeg kan word, waarna dit na die vragmotor deurgelaat word.
Dié stelsel, wat “deurvloeiskaal” gedoop is, bestaan uit twee bakke wat afwissel om die stroom graan te onderskep. Terwyl een bak volgemaak word, word die ander bak geweeg en deurgelaat.

Die graanvloei na hierdie bakke wissel in sekondes en word elektronies/pneumaties beheer met silinders op die bakke se toevoer- en uitlaatsluise. Al die pakkies wat deurbeweeg se gewigte word bymekaar getel en sodra die loonvrag-teiken bereik word, stop die stelsel eenvoudig en die vragmotor kan met die regte gewig na die weegbrug aanbeweeg.
Die installasiekoste van ʼn deurvloeiskaal beloop slegs ongeveer die helfte van dié van ‘n nuwe weegbrug. Die groter voordeel is egter die feit dat die graan vinnig, kostedoeltreffend en korrek volgens die loonvrag op vragmotors gelaai kan word.