NWK se normale besigheid is om produsente te ondersteun deur hulle van bedryfskapitaal te voorsien om hulle produksiemiddele aan te koop ten einde ‘n boerdery te kan bedryf.
Die betrokke geval was ‘n kommersiële transaksie, en mnr. Wallis en sy ouma (Lenie Wallis), laasgenoemde as borg, het hulle bates – mét beide se geskrewe toestemming – aangebied as sekuriteit vir die voorsiening van die bedryfskapitaal, waarop daar verbande geregistreer is.
Mnr Wallis was nie ‘n sukesvolle produsent nie, kon nie sy skuld vereffen nie en is uiteindelik op aansoek van ‘n derde party gesekwestreer, wat die oproep van sekuriteite tot gevolg gehad het, in samewerking met die eksekuteur wat in wyle Lenie Wallis se bestorwe boedel aangestel is.
NWK het ‘n verantwoordelikheid teenoor die maatskappy en sy aandeelhouers om die nodige stappe te neem om skuld te vorder en gepaardgaande sekuriteit te realiseer.
‘n Wesenlike gedeelte van NWK se aandeelhouers is afgetrede produsente en weduwees van afgestorwe produsente wat afhanklik is van die aandelewaarde en dividende wat uitgekeer word. Indien NWK nie die nodige stappe neem nie, soos in bogenoemde aangeleentheid, word hierdie aandeelhouers benadeel.
Daar is verskeie onwaarhede in die plasings op sosiale media, asook die artikel op Maroela Media, en NWK behou hom die reg voor om strafregtelike en siviele stappe te neem.