Wees gereed vir die nuwe seisoen
Die klimatologiese indekse (ENSO en SOI) het tydens die skryf van hierdie artikel steeds gedui op ’n goeie waarskynlikheid om minstens gemiddelde reënval vir die komende seisoen te ontvang, noem Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK.
Die laat reën van die vorige seisoen het die meeste lande met goeie oorgedraagde grondvog gelaat. Boonop is die huidige verdiskontering van volgende jaar se graanpryse ook nie te versmaai nie. Hierdie besondere kombinasie sorg weereens vir ’n positiewe vooruitskouing vir die nuwe seisoen.
Met goeie produksiebestuur kan hierdie potensiële geleentheid só in ’n “vol” oes omskep word:
- Waak teen aspekte wat jou van hierdie geleentheid kan ontneem, soos onkruid, suur grond, verdigte sones in die grond, onvoldoende bemesting en onnodige diep skoffel ná plant.
- Waak ook teen die versoeking om oorboord te gaan met ’n té hoë plantestand.
- Omskep elke druppel water doeltreffend in graan.
- Die volgehoue hoë produksiekoste gaan ’n “vol” oes vereis om steeds ’n positiewe marge te realiseer.
Skakel AgTech@NWK se Presisiespan by 018 633 1143 vir hulp met grondkompaksie, asook die meet en bestuur van grondvog in droëlande.
Beheer lente-onkruid betyds
Die meeste saaigronde het ’n goeie opslag. Dít en ander lente-onkruid gaan heel gewillig wees om grondvog te verkwis en moet nou beheer word. Geeluintjies kom in hierdie tyd op en moet beheer word voordat op die lande geplant word. Volgens Eric staan bloudissel en John Deere-bossie hierdie jaar ook welig, maar kan dit maklik beheer word.
“Dit is belangrik om die lande skoon te hou en nie in ’n vuil saadbed te plant nie. ’n Skoon saadbed is ’n ononderhandelbare praktyk.” Eric noem dat die redenasie om die land later skoon te spuit dikwels nie suksesvol is nie. “Die oorblywende onkruid word dan groot, wat meebring dat dit selfs meganies moeilik uitgeskoffel word.”
Raad aan veeboere
Die bemestingsbeplanning vir aangeplante weidings behoort nou afgehandel te wees. Om die risiko’s te help versprei, kan die seisoenale toediening om die helfte verdeel word. “Dien 50% tot 60% met die eerste reëns toe en die res in Desember of Januarie na gelang van die reënval. Die tweede toediening kan uitgestel of afgestel word indien die seisoen swak uitdraai,” beveel Pieter le Roux, hoof-diere-en-weidingswetenskaplike by NWK, aan.
Hy beveel ook aan dat vleikampe vroeg in die lente benut word om ander weidings die geleentheid te gun om ná die winter te hergroei. Waar die vestiging van aangeplante weidings in die lente beoog word, moet ’n deeglik voorbereide fyn saadbed voorsien word.
“Maak seker dat die grond se voedingstatus voldoende is, werk die oorblywende winteronkruid in en wees voorbereid om somer-onkruidbeheer toe te pas,” noem Pieter. Dié weidings kan reeds teen die laatsomer benut word.
Vinnige wenke vir beesprodusente
- Oorgang na somerlek kan nou oorweeg word, mits daar genoegsame groen weiding beskikbaar is. Die hardheid of droogheid van beeste se mis dien as maatstaf vir dié besluit.
- Lentekalfkoeie (en veral eerstekalfverse) moet sowat vier weke voor kalwing met vitamien A en Multimin ingespuit word.
- Verskalwers moet op die ouderdom van vier tot agt maande met Stam 19 teen besmetlike misgeboorte (BM) ingeënt word. Andersins kan RB 51 ook later gebruik word. Volg die aanwysings noukeurig.
Ondersteun en maak ’n verskil
Onthou om NWK se inisiatief ten bate van Agri Securitas te ondersteun. Klante wat by NWK Retail-winkels en/of -vulstasies vir transaksies betaal, kan kies om R5 by die transaksie te voeg, wat as bydrae tot die inisiatief tel en oorbetaal sal word.
As die kat daar is, is die muis weg
Aangesien wilde katte in elk geval nie goed aanpas in geslote ruimtes nie, probeer Lichtenburg Dierewelsyn om hulle sover moontlik op plase in die omgewing te vestig. Die katte word vooraf gesteriliseer en produsente moet net skuiling, kos en die nodige versorging voorsien.
Katte is uiters doeltreffend om knaagdierplae op plase onder bedwang te bring. Daar was in die verlede reeds baie suksesvolle plasings en die terugvoer van produsente was onder andere dat hul rotprobleme iets van die verlede is.
Om ’n kat aan te neem, kontak asseblief Lichtenburg Dierewelsyn by 083 336 3939.