• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, Sep 15, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

Dr Sonia Steenkamp, Senior navorser, LNR-Graangewasse

15 Sep 2025
in Tegniek
’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

Aalwurmsimptome word in kolle waargeneem.

Share on Facebook

Aalwurms is taai en aanpasbaar, al is hulle só klein dat ’n mens hulle nie met die blote oog kan sien nie.

Hulle was al daar voor die mens van hulle bewus was, maar soos wat die natuur vir miljoene jare al werk, was hulle getalle in ewewig met hul omge­wing en was aalwurmskade nie in die natuur sigbaar nie. Die mens het egter alles kom omkrap.

Die feit dat produsente begin het om voedsel op ’n groot skaal te produseer, het natuurlik beteken dat hulle ’n monokultuur begin inisieer het. Die taai aalwurmpie het hierdie geleentheid opgeraap, want nou was daar ’n oorvloed kos vir hom.

Aangesien die aalwurm­getalle baie laag was, was daar aanvanklik nie regtig skade nie. Die mens het egter aangehou met mono­kul­tuur­verbouing, want kos moet geproduseer word om almal te kan voed. Ongemerk het die aalwurm ook by hierdie stand van sake aangepas en, soos wat die spreekwoord sê, begin skep toe dit pap reën.

Met al die gunstige toestande wat so reg in aalwurms se kraal begin val het, het hulle stadig maar seker begin aanteel. Soos wat die tyd aangestap het, het hulle naderhand onbeheersd begin aanteel en die skade wat dié groot getalle aangerig het, het naderhand sigbaar begin word.

Hoekstene van aalwurmbeheer

Produsente het toentertyd uiteraard nie geweet wat hierdie skade veroorsaak nie, maar het begin om planne te maak en begin kyk watter metodes die beste werk om die skade teen te werk. Op dié manier het produsente onbewustelik en sonder enige moderne kennis van grond-oorgedraagde interaksies die drie belangrikste hoekstene waarop aalwurmbeheer vandag nog berus, bekendgestel.

Hierdie drie hoekstene is:

  • Wisselbou.
  • Die seleksie van kultivars wat weerstand teen spesifieke aalwurms het.
  • Chemiese beheer, wat as die toedien van “groen” bemesting en kraalmis begin het. Die bemesting en dieremis wat hulle só toegedien het, het ook aalwurmdodende eienskappe gehad en die voorlopers geword van die moderne aalwurmdoders wat vandag bekend is.

Hiermee saam is daar veral in die laaste 50 jaar deurlopende vooruitgang gemaak op die gebied van besproeiing, bemesting, die teel van gewasvariëteite en seleksies wat die opbrengspoten­siaal verbeter het.

Dié voortdurende vooruitgang het ook presisieboerdery moontlik gemaak, en vandag is al hierdie aspekte gevestig en noodsaaklik vir gewasproduksie. Chemie moet toenemend ingespan word om meer intensief te boer en kos te produseer.

Dit is veral in ’n kommersiële boerdery die belangrikste steunpilaar om aalwurms te beheer. Die doeltreffendheid van chemiese aal­wurm­doders het daartoe gelei dat gespesialiseerde gewasproduksie kon uitbrei en dat veral hoëwaarde-kontantgewasse meer geredelik verbou kan word.

Wisselbou en in ’n mate weerstandsteling het agterweë begin bly. Gevolglik is die afhanklikheid van chemiese aalwurmdoders verhoog, veral waar meer intensiewe verbouing van hoëwaarde-kontantgewasse plaasvind. Die mens moes die prys vir hierdie afhanklikheid terdeë betaal en begin nou die gevolge daarvan voel en sien.

Aalwurmdoders

Die meeste doeltreffende aalwurmdoders wat tans nog op die mark is, asook dié wat al verwyder is, soos byvoorbeeld Aldicarb of Two-Step, word as toksies of hoogs toksies geklassifiseer en word as rooibandprodukte bemark. Verbruikers het daarvan bewus begin raak en verbruikersgroepe gestig wat daarop aandring dat veral voedselprodukte se veiligheid gewaarborg moet word.

Voorts dring hulle ook daarop aan dat die verbouing van hierdie voedselprodukte op die voorwaardes van goeie landboukundige praktyke gedoen moet word sodat dit ’n minimum impak op die omgewing moet hê.

In Europa word die standaarde en prosedures bepaal deur verbruikers wat markgedrewe organisasies bestuur. Só het EuroGAP, wat intussen GlobalGAP geword het, ontstaan en wêreldstandaarde vir die sertifisering van landbou- en akkerbouprodukte ingestel. Deur die reëls wat deur hulle ingestel is, te volg, kan die gesondheid van werkers en die welstand van diere verseker word.

Op eie bodem begin soortgelyke groepe ook ontstaan. Dit beteken dat baie van die plaaslike aalwurmdoders as taboe geoormerk kan word omdat hulle so toksies is, veral as ’n produsent vir winkelkettingroepe produseer wat spesifiek op die verbruiker gefokus is. Die toekoms en beskikbaarheid van aalwurmdoders in Suid-Afrika sal afhang van beleide wat deur die plaaslike regulatoriese gesag geskep word, asook eise wat deur verbruikersgroepe bevorder word. Besluite wat dus in Europa geneem word, sal die grootste impak op die Suid-Afrikaanse beleid hê.

Die realiteit hiervan is dat al is die omgewings- en toksiese standaarde van ’n aalwurmdoder in plek, die noodsaaklike maatreëls wat van belang is, naamlik die omgewingsimpak, blootstelling van die operateur tydens toediening en die kans vir residuele stowwe in voedselprodukte, die toekoms van só ’n produk sal bepaal. Hierdie strenger veiligheidsmaatreëls het daartoe gelei dat baie van die aalwurmdoders reeds by die Europese Unie (EU) van die mark onttrek is.

As produsente plaaslike aalwurmdoders verloor, sal dit verseker hul vermoë ondermyn om in die landboubedryf te kan kompeteer. Verliese wat op eie bodem met aalwurms geassosieer word, staan op 14% en skade op stapelvoedsel­gewasse soos byvoorbeeld mielies word op 10% beraam. Hierdie getalle stem ook ooreen met oorsese tendense.

Dus is produsente in sekere omstandighede geheel en al afhanklik van chemiese aalwurmdoders. Ten spyte hiervan word die ouer, gevestigde aalwurmdoders al meer beperk as gevolg van plaaslike en internasionale regulatoriese druk.

Verbruikersorganisasies pas verder druk toe en die misbruik van aalwurmdoders, met gevolglike negatiewe mediadek­king, maak dinge ook nie makliker nie. Soos wat die middels een na die ander van die mark af gaan, raak die produsent se keuse van chemiese beheermaatreëls al meer beperk. Die gevaar van hierdie beperkte keuse is dat produsente despe­raat begin raak en dan ongetoetste en/of minder doeltreffende opsies begin toepas.

Daar is darem ’n silwer randjie om hierdie donker wolk. In 2016 het pandemonium losgebars toe Aldicarb, wat een van die doeltreffendste aalwurmdoders was, van die mark onttrek is.

Gewasproduksie het egter nie noemenswaardig verminder nie. Daar was wel alternatiewe wat Aldicarb se plek ingeneem het. Vandag is die meeste chemiese en biologiese maatskappye besig om na alternatiewe te kyk wat groot potensiaal toon.

Veral chemiese maatskappye ervaar baie uitdagings rondom die registrasie van nuwe produkte. Hulle fokus veral op die interaksie wat tussen die aalwurm, gewas, omgewing en aalwurmdoder plaasvind. Hierdie navorsing sluit die tyd, dosis en plasing van toediening – elk vir ’n spesifieke gewas – in.

Die data wat bymekaar gemaak word, word dan na die registrateur gestuur vir registrasie. As die produk tien tot 15 jaar later in die mark beskikbaar gestel word, is daar ’n groeifase waardeur die produk gaan, wat dan bepaal of dit op die mark aanvaar word.

Hierdie aanvaarding is geskoei op die voordele wat die produk kan bied. Tans kyk die chemiese maatskappye na produkte wat meer omgewingsvriendelik is. Die uitdaging is dat reeds gevestigde aalwurmdoders toksies of hoogs toksies is. Die verdediging van hierdie nuwe produkte bied nou baie uitdagings vir die maatskappy, veral as daar na die uitvoermark gekyk word. Tog is daar wel goeie produkte wat ondanks hierdie uitdagings in die mark beland, wat ouer produkte sal vervang.

LNR-Graangewasse se rol

By LNR-Graangewasse se nematologie-afdeling word daar, in samewerking met die verskillende maatskappye, baie navorsing oor hierdie nuwe produkte gedoen, hetsy deur kontrakte wat met die maatskappye gesluit word of deur befondsde navorsingsprojekte.

Hiermee saam word daar ook in samewerking met ander Landbounavorsingsraad (LNR)-instansies na die gebruik van byvoorbeeld dekgewasse gekyk om aalwurmgetalle
te onderdruk.

Die nematologie-afdeling ondersteun ook telers om weerstandbiedende kultivars vir die mark te ontwikkel. Die doel van al hierdie navorsing is om meer opsies aan die produsent te bied sodat hy ’n geïntegreerde benadering kan volg om die ontwikkeling en impak van aalwurmpopulasies te verminder. Só word die produsent se hand versterk om hom nog steeds in staat te stel om vir Suid-Afrika, en in sekere gevalle vir die buiteland, hoë gehalte en veilige kos te kan produseer.

Dele van hierdie artikel is gebaseer op inligting uit Jones RK, 2017. Nematode control and nematicides: Developments since 1982 and future trends. In: Nematology in South Africa: A view from the 21st century. H Fourie, VW Spaull, RK Jones, MS Daneel and D de Waele, eds. pp. 129-150.

Tags: Sep/Okt 2025
Previous Post

Goedkoop glifosaat kan jou duur lesse leer

Next Post

Landbou vandag

Recommended

Ondervoorsitter tree met ’n geruste hart uit

Ondervoorsitter tree met ’n geruste hart uit

15 Sep 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

15 Sep 2025
’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

15 Sep 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Ondervoorsitter tree met ’n geruste hart uit

Ondervoorsitter tree met ’n geruste hart uit

15 Sep 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

15 Sep 2025
’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

’n Toekomsblik op aalwurmdoders in Suid-Afrika

15 Sep 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In