Die beskikbaarheid van elektriese krag op plase is deesdae ononderhandelbaar. Die blote aard van die bedrywighede op plase maak deurlopende toegang tot elektrisiteit noodsaaklik. Produsente kan nie water pomp vir mens en dier sonder krag nie. Besproeiingstelsels benodig heelwat energie om behoorlik te funksioneer, en boonop is dit ook irriterend as Eskom se kragvoorsiening onderbreek word.
Kraggebruikers is toenemend besig om alternatiewe kragbronne te ondersoek en te implementeer. Sonkragstelsels op plase en selfs in stede en dorpe is veral besig om ’n algemene gesig te raak. Dit werk uitstekend, maar het ’n beperking omdat die opwekking staak as die son sak. Om dit te oorbrug, word duur batterystelsels gekoppel aan omsetters, wat gebruik word om die donker tydperk te deurleef.
Ander moontlike oplossings lê in die gebruik van wind en water om krag mee op te wek. Ongelukkig is die land relatief droog en is die oes van waterenergie nie ’n algemene oplossing nie. Die getybewegings in die see bied ’n oplossing hiervoor, maar sulke projekte kan slegs met ’n enorme hoeveelheid geld ontwikkel word.
Windenergie is ’n moontlike alternatiewe oplossing. Die gebruik hiervan is tans nog nie sodanig gevorderd dat dit ’n oplossing op plase bied nie. Kleiner stelsels is reeds in die mark beskikbaar, maar dit bied nie ’n oplossing vir ’n hoë energievraag soos besproeiing nie.
’n Mens sien toenemend die uitbreiding van windplase in winderige dele van die land. Dit is dikwels oorweldigend om die aantal windturbines wat opgerig word in hierdie projekte te aanskou. Windturbines is redelik omgewingsvriendelik nadat dit opgerig is omdat daar nie afvalstowwe gegenereer word nie en dit ook nie die natuurlike hulpbronne uitput nie. Daar is egter ook ’n negatiewe kant aan windturbines, naamlik die impak wat dit op voëls en vlermuise het. Uiteraard is die menings oor hierdie reusagtige strukture dikwels verskillend.
’n Verskeidenheid ontwerpe word vir windtorings gebruik. Die Deense ontwerp, wat plaaslik redelik algemeen gebruik word, se toring is 80 m hoog en die lemme is 44 m lank, met ’n vee-area van 0,7 ha. Teen 20 omwentelinge per minuut, lê die punt van die lem meer as 5 km af in slegs 60 sekondes.
Sommige teenstanders van windtorings is van mening dat voëls nie uit die lempunt se pad kan kom nie, omdat hulle dit nie betyds raaksien en dan kan reageer nie. Sekere studies hieroor toon egter dat dit slegs ’n ernstige probleem is as die torings se posisionering op voëls se vlugroetes tussen voedingsbronne en hulle slaapplekke is. Dit is egter ook bewys dat meer voëls deur kragdrade doodgemaak word as deur windtorings.
’n Verdere ontstellende feit is dat vlermuise se longe bars weens die draaikolk (vortex) wat die lemme veroorsaak. Hulle kan die lem moontlik met eggo-lokasie vermy, maar indien die lem naby hulle verbybeweeg, lei die draaikolk tot vlermuisvrektes.
Voëls het nie longe nie en hulle lugsakke kan die lugdruk reguleer. Indien heelwat turbines naby mekaar opgerig word, sien voëls – veral roofvoëls – dit as ’n groot struktuur en hulle vermy dit deur bo-oor of verby die struktuur te vlieg.
Die meeste mense is dit eens dat die mensdom meer omgewingsvriendelik moet optree. Om energie op te wek deur steenkool te verbrand, is beslis nie meer aanvaarbaar nie. Wind en son is verseker ’n beter keuse, maar selfs dit het ’n impak op die omgewing. Watter bydrae lewer elke persoon om sy voetspoor in die natuur te beperk?
Bron: Dr Dave Pepler. Hoe verklaar jy dit? Hoofstuk 28. Penguin Books, 2016