
Derek Mathews (63), die voormalige voorsitter van Graan SA, kyk met dankbaarheid terug op sy wonderbaarlike herstel nadat hy vroeër vanjaar ernstig beseer is toe hy van ’n leer afgeval het. “Ek wil nie in die kollig wees nie. Ek dink nie dis gepas nie,” het Derek gesê toe NWK Arena hom vir ’n artikel oor sy ervaring nader. “Ek getuig graag omdat ek dankbaar is.”
Derek hét baie om voor dankbaar te wees. Hy het volkome herstel van breinbloeding en verskeie frakture. Met sy ontslag uit die Milpark-hospitaal in Johannesburg het die neurochirurg aan hom gesê: “Vat jou prentjies (skanderings) saam dat jy in die toekoms kan onthou hóé naby jy aan ’n baie slegte uitkoms was.”
Verwydering van bye het ’n lelike nadraai
Derek en sy vrou van 40 jaar, Karin (61), boer op die plaas Silverton naby Lichtenburg. Daar was vyf byneste in hul huis se dak en ’n byeboer van Pretoria het dit op 2 Mei kom verwyder. Hy het Derek aangeraai om die dak vir ’n paar dae oop te los sodat wilde bye die oortollige heuning sou kon uithaal, waarna hy die dak kon toemaak en seël.
Die volgende dag het onweerswolke egter saamgepak en Derek het besef dat hy vinnig die sinkplaat wat oopgeskuif was, weer moes regskuif. “Ek het die leer langer gestel sodat dit nie van die dak sou afval as dit sou gly nie. Dit is egter toe presies wat gebeur het.”
Hy kan niks van die ongeluk onthou nie. Karin het op hom afgekom waar hy erg beseer was, met bloed wat uit sy ore en neus gekom het. Hy kan onthou dat sy gesê het dat sy hul kinders gebel het om te kom help om hom op te tel.
Die omvang van sy beserings
Derek is op ’n tuinstoel getel en na ’n voertuig gedra. Die egpaar se oudste dogter, Gail Buys, is ’n verpleegster en het ’n ambulans gebel. Hulle het intussen met Derek na Klerksdorp gery. “Van die rit onthou ek niks nie. Ook nie dat ek pyn gehad het nie. Dit was wel seer toe hulle my in die ambulans gelaai het.”
By die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp is skanderings van Derek geneem. Buiten die breinbloeding en twee skedelfrakture, was ses van Derek se linkerribbes gebreek en sy long gekneus. Hy is dadelik na Milpark verwys en sou met ’n lugambulans daarheen vervoer word, maar die helikopter kon weens gure weer nie opstyg nie. Hy is toe met ’n intensiewe sorg-ambulans vervoer.
Die volgende oggend omstreeks 07:00 het Derek in Milpark se intensiewe sorgeenheid wakker geword. ’n Traumachirurg, neurochirurg, ortopeed en oor-, neus- en keelspesialis het na hom omgesien.
Daar is daagliks skanderings gedoen om die bloeding op sy brein te monitor en die dokters was verheug om te sien dat dit self opklaar. Daar moes wel vloeistof vanaf die linkerlong gedreineer word.
Ná die agtste dag is Derek na die hoësorgeenheid geskuif, waar hy gespeen is van die morfien wat hy vir die pyn ontvang het. Hierna is die suurstof wat hy ontvang het, ook verminder.
“Die dokter het gesê ek moet deur die saal gaan stap, waarna hy my suurstofvlakke sou nagaan. As dit reg was, kon ek huis toe gaan.”
Tot die verpleegsters se verbasing, is Derek die groen lig gegee en ná tien dae uit die hoësorgeenheid ontslaan, en was hy op pad huis toe. “Genade, onbeskryflik groot!” glimlag hy.
Hy is ná drie weke terug vir ’n opvolgondersoek, waartydens die dokters verstom was oor sy vinnige herstel. “Hulle was van plan om fisioterapie voor te skryf, maar ek kon my arms optel en het krag gehad. Toe sê hulle: ’nee wat. Go and live a happy and healthy life!’”
Baie redes tot dankbaarheid
NÓG ’N HARTSEER SLAG
Derek is dankbaar dat dit nie nodig was om sy beserings op ’n operasietafel te behandel nie. Sy suster, Sandra Marais, het ’n knievervanging ondergaan kort nadat Derek uit die hospitaal ontslaan is. Sy het egter infeksie opgedoen en is oorlede.
Sandra en haar man, Hennie, was in Pretoria woonagtig, maar sy is op die familieplaas, Silverton, begrawe. Hennie was ten tye van haar dood in die Kaaimanseilande, waar hy opleiding in lugverkeerbeheer gegee het. Sy sou binnekort by hom aansluit.
“Die laaste kommunikasie wat ek met haar gehad het, was sy wat sê: ’nog net vyf weke, dan vlieg ek!’” sê Derek.
“Ek is besonders dankbaar dat dit nie nodig was vir my om teater toe te gaan nie.”
SY GESIN BIED FANTASTIESE ONDERSTEUNING
Terug by die huis het Derek nie veel las van pyn gehad nie, behalwe snags as hy moes slaap. “Dit was baie ongemaklik en my ribbetjies was maar seer en sensitief.”
Hy het een dag genies en die geweldige pyn het sy asem weggeslaan. “Karin het ’n papiersak gaan haal om my te help om nie te hiperventileer nie. Dit was ontsettend seer!” vertel hy.
Hy is vol lof vir sy vrou se ondersteuning in hierdie tyd. “Karin is die most amazing vrou wat jy aan kan dink. Sy het my elke minuut bygestaan. Sy én my oudste dogter.”
Sy seun, Michael John, het op eie stoom aangegaan met die boerdery. “Hy het my ongelooflik trots gemaak met die manier waarop hy net beheer oor alles geneem het.”
Hulle was op die punt om grondbone te oes. ’n Kontrakteur wat hulle sou help, kon nie meer dié verpligting nakom nie en Derek sou hulle eie masjinerie aanskaf toe die ongeluk gebeur het. “Michael John het by my in ICU gekom en gesê ek moenie worry nie, hy sal ’n ander plan maak. Toe ek by die huis kom, was dit (die oes) afgehandel.”
Hy raak emosioneel wanneer hy meer vertel oor sy gesin se bystand. “Ek het ’n fantastiese ondersteuningstelsel in my gesin. Absolutely unbelievable. Verstaan jy wat ek sê van dankbaarheid?”
DIE WORTEL VAN ’n GOEIE GEESTESTOESTAND
Die gesprek draai na ’n jong boer in die omgewing wat sy eie lewe geneem het. Derek was self al deur diep finansiële waters en ken die gevoel van hopeloosheid. “I’ve been there. Ek ken dit baie goed,” knik hy sy kop.
“Ek het al vir Karin gesê: ‘Ek het nie vandag die antwoord oor wat ons volgende stap is nie. Dit is ’n doodloopstraat en ek weet nie wat om te doen nie.’ Dan kom jou geloof en vertroue, en jy is dankbaar vir wat jy het. Dan kom daar antwoorde vanuit onverwagse bronne.
“Ek is uitgesproke oor my verhouding met NWK. Dit kon finansieel baie anders gewees het. Ek is dankbaar dat ons sáám oplossings kon vind.”
Hy glo dat dankbaarheid die wortel van ’n goeie geestestoestand is. “Dis absoluut die basis daarvan. As jy in ’n donker gat is … Wees dankbaar vir wat jy wel het. Jy het opgestaan en haal asem, just be grateful for that.”
Steeds by georganiseerde landbou betrokke
Derek het twee maande voor sy ongeluk as voorsitter van Graan SA se raad uitgetree. Hy begin lag oor die vraag van dié tydsberekening. “Ek het nie besluit om uit te tree omdat ek van ’n leer gaan afval nie! Ek en Karin het eendag daaroor gesels. Ons het gewonder wat sou gebeur as ek nog die voorsitter was. Dis egter hoekom jy ’n ondervoorsitter het.
“Graan SA is ’n amazing organisasie. Die span mense … Die samehorigheid binne die organisasie as ’n geheel. Die gedrag van die verkose raad spoel oor na die personeel. Die wyse waarop Graan SA operate – dis ’n fantastiese familieband en die organisasie is sterk.”
Derek is steeds by die Mielietrust betrokke en is by AgriSA se kongres in Oktober tot visepresident verkies. Intussen sien hy uit na sy 42ste oes wat voorlê. Hy dink terug aan 1983, toe hy sy opleiding by ’n landboukollege voltooi en by sy pa op die plaas aangesluit het.
“Ek het eendag vir my pa gevra hoe ek dan kon trou as ek al vyf jaar lank gewerk het, met niks om daarvoor te wys nie. Dit was die lang droogte van die tagtigerjare. My pa het geantwoord: ‘Kyk om jou! Dit wat jy sien, is nie niks nie’. Dáár het ek begin leer om in alle omstandighede dankbaar te wees.”







