Deel 2

In die Mei/Junie-uitgawe van NWK Arena is daar uitgebrei oor bevindings dat die gronddiepte wel ’n invloed het op die opbrengs wat behaal is in proewe in die Coligny-omgewing. In hierdie artikel word die invloed van die gronddiepte op opbrengste in ander gebiede ook ondersoek.
Proewe is in drie gebiede wat in topografie en klimaat van mekaar verskil, gedoen. Die studie het gebruik gemaak van data oor presisieboerderypraktyke. Grondpotensiaalkaarte en historiese stroperkaarte is gebruik.
Aan die einde van hierdie artikel behoort die produsent ’n meer omvattende begrip te hê van die werklike invloed wat gronddiepte op die opbrengs van mielies in verskeie klimaatstreke en onder verskillende toestande het.
Studiegebiede
COLIGNY
Coligny in Noordwes is as die eerste studiegebied gebruik. Dit is geleë in die koue semi-ariede klimaatstreek (Shultze, 1994), met ’n gemiddelde reënval van 551 mm tot 600 mm per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 21,8°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 10°C is (SA Explorer, 2017).
Die gronde wat in hierdie streek voorkom, word beskryf as Ba25 wat rooi en geel apedale gronde met plintiese ondergronde, met ’n bogrondse kleipersentasie van 17,2% en ’n gemiddelde effektiewe diepte van 809,9 mm is (Land Type Survey Staff, 2002).
Die produsent het gedurende die studietydperk 16 000 plante per hektaar geplant. Die studiegebied het uit twee lande bestaan met ’n totale oppervlakte van 270 ha. Die data wat van die studiegebied verkry is, strek oor ’n tydperk van tien jaar.
MARQUARD
Marquard in die Oos-Vrystaat is as die tweede studiegebied gebruik. Dit is geleë in die suidwestelike Hoëveld-klimaatstreek (Shultze, 1994), met ’n gemiddelde reënval van 526 mm per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 28,1°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 15,9°C is (SA Explorer, 2017).
Die gronde wat in hierdie streek voorkom, word beskryf as Bd29 wat rooi en geel apedale gronde met plintiese ondergronde, met ’n bogrondse kleipersentasie van 16,3% en ’n gemiddelde effektiewe diepte van 759,5 mm is (Land Type Survey Staff, 2002).
Die beraamde plantdigtheid gedurende die tydperk van dié studie was 25 000 plante per hektaar. Die studiegebied het oor twee lande gestrek, met ’n totale oppervlakte van 195 ha. Die data wat van die studiegebied verkry is, strek oor ’n tydperk van sewe jaar.
BELFAST
Belfast in Mpumalanga is as die derde en laaste studiegebied gekies. Dit is geleë in die oostelike Hoëveld-klimaatstreek (Shultze, 1994), met ’n gemiddelde reënval van 835 mm per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 22,5°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 14,7°C is (SA Explorer, 2017).
Twee hoofgrondtipes word hier aangetref:
- Eerstens Ba21 wat rooi en geel apedale gronde met plintiese ondergronde en ’n gemiddelde bogrondse klei-inhoud van 23,3% en ’n gemiddelde effektiewe diepte van 574,9 mm is.
- Tweedens Ad21 wat vrydreineerde rooi en geel apedale gronde met ’n gemiddelde bogrondse klei-inhoud van 22,4% en ’n gemiddelde effektiewe diepte van 572,1 mm is (Land Type Survey Staff, 2002).
Die beraamde plantdigtheid gedurende die tydperk van dié studie was 50 000 plante per hektaar. Die studiegebied het oor 28 lande gestrek, met ’n totale oppervlakte van 488 ha. Die data wat van die studiegebied verkry is, strek oor ’n tydperk van 13 jaar.
Resultate en beskrywing
Wanneer die resultate van die verskillende studiegebiede apart ontleed word (Tabel 1), is dit duidelik dat die vlak gronde die laagste gemiddelde opbrengste gelewer het. Die opbrengste by Marquard en Belfast het verbeter soos wat die gronddiepte toegeneem het tot by die diep grondklas, terwyl die gronde in Coligny se opbrengste verbeter het tot by die baie diep grondklas.
’n Moontlike rede vir hierdie tendens by Marquard en Belfast is dat daar min baie diep gronde in hierdie studiegebiede voorkom. Die afleiding kan dus gemaak word dat die vlak gronde tydens elke swak opbrengsjaar ’n beduidende invloed het of ’n groter bydrae maak tot die gemiddelde opbrengs oor die studietydperk in vergelyking met die ander diepteklasse.
Figuur 1 illustreer die resultate van al drie studiegebiede se gesamentlike data. Daar is ’n opwaartse neiging in opbrengste soos wat die gronddiepte toeneem. Die verandering in die resultate word verder deur bogenoemde afleiding versterk, aangesien die Coligny-studiegebied aansienlik dieper gronde het.

Die gemiddelde mielie-opbrengs wat in die studiegebiede verkry is, was 6 293 kg ha–¹. Die resultate in Figuur 1 het die verwagte tendens gevolg, waar die vlak grondgroep die laagste mielie-opbrengs van 5 652 kg ha–¹ behaal het, wat 641 kg ha–¹ laer was as die studiegebiede se gemiddelde mielie-opbrengste en 491 kg ha–¹ laer as die matige dieptegroep se mielie-opbrengste.
Die diep dieptegroep het ’n mielie-opbrengs van 6 646 kg ha–¹ behaal, wat slegs 64 kg ha–¹ minder was as die baie diep dieptegroep (6 530 kg ha–¹), wat die hoogste mielie-opbrengs behaal het (Figuur 1). Hierdie waarneming was te wagte aangesien ’n toename in die effektiewe gronddiepte ’n toename in die waterhouvermoë meebring, wat op sy beurt meer plantbeskikbare water in die grond beteken en dus hoër mielie-opbrengste.
Die diep dieptegroep het die mees onstabiele mielie-opbrengste gelewer, met ’n totale reeks van 10 037 kg ha–¹ en ’n interkwartielreeks van 3 005 kg ha–¹, terwyl die baie diep dieptegroep die tweede hoogste totale reeks van 8 526 kg ha–¹ en ’n meer stabiele interkwartielreeks van 2 852 kg ha–¹ gehad het.
Die matige diepte-grond het ’n meer stabiele totale reeks (8 694 kg ha–¹) gelewer in vergelyking met die baie diep dieptegroep, asook ’n swakker interkwartielreeks van 2 898 kg ha–¹. Die vlak dieptegroep het die mees stabiele interkwartiel mielie-opbrengs van 2 835 kg ha–¹ gehad, wat 17 kg ha–¹ minder was as die baie diep dieptegroep, en die tweede beste totale reeks van 8 896 kg ha–¹ (Figuur 1).
Gevolgtrekking
’n Toename in die gronddiepte het ’n toename in mielie-opbrengste oor verskeie gedeeltes van die land tot gevolg. Tog verseker ’n toename in die gronddiepte nie noodwendig meer stabiele opbrengste nie. Hierdie stelling sal verder ondersoek word in ’n derde artikel oor die gronddiepte.
Bronnelys
Land Type Survey Staff, 2002. Land type survey of South Africa. ARC-ISCW, Pretoria
SA Explorer, 2017. Belfast climate. [Online] Available at: http://www.saexplorer.co.za/south-africa/climate/belfast_climate.asp [2 March 2020]
SA Explorer, 2017. Marquard climate. [Online] Available at: http://www.saexplorer.co.za/south-africa/climate/marquard_climate.asp [2 March 2020]
Schulze RR, 1994. Climate of South Africa. Part 8: General survey. Pretoria, Government Printer







