
Dis 19 Oktober en die sperdatum vir hierdie uitgawe van NWK Arena wink. Ook hierdie rubriek moet klaar om betyds op ’n bladsy uitgelê te kan word. Ek skryf oormôre my laaste vraestel ná ’n jaar se studies. Met die uitslae van die eksamen nog uitstaande, is ek hoopvol dat ek geslaag het. Dis darem een boksie wat ek (hopelik) sal kan “tiek”.
Ek kyk met gemengde gevoelens terug na die jaar wat nou vinnig einde se kant toe staan. Ek voel in baie opsigte soos ’n verloorder. Ek is nog nie ’n mamma of selfs swanger soos ek gehoop het nie. Tog is ek geweldig trots op my vier susterskinders en kon ek heelwat gehaltetyd saam met hulle deurbring. Die oudste een het ’n kwalifikasie in somatologie verwerf en ’n blink toekoms wink. Die ander een het op die leerlingraad gedien en weer die een balkie na die ander in haar besige matriekjaar verwerf.
Ek het nie vyf boeke gelees soos wat ek beplan het nie. Tog het ek hoendervleis gekry oor puik beriggewing oor aktuele kwessies en meningstukke wat die alledaagse só ráák kon vasvat.
Die fotomuur in my gang is helaas nie klaar nie. Ons het nog nie eens daarmee begin nie! Tog het ek en my man sonkrag laat installeer en só ons huis se waarde verhoog. Ek het nie self ’n koek gebak vir ons kerkbasaar in September nie. Tog het dit my nie afgesit om betrokke te raak nie en het ek een láát bak (die tannies by die koektafel het lekker gegiggel omdat my man wel sy koek sélf gebak het).
Enkele ander hoogtepunte sluit in ’n konsert met die internasionale Green Day en Offspring op die verhoog, ’n reis na die pragtige Karoo in Maart, waar ons saam met produsente gejuig het oor reën wat die eerste keer in sewe jaar hier geval het, my ma se 80ste verjaardag (my pa sal syne op 28 November vier) en asemrowende wildbesigtigings in Ntsiri by Hoedspruit.
Skielik voel ek weer die armpies van twee wildvreemde dogtertjies om my lyf om dankie te sê vir die “Checkers stickies” wat ek vir hulle daar by die betaalpunt gegee het.
Ek wonder of daardie hawelose persoon wat op die sypaadjie gelê en slaap het, okay is. Ek moes by hom gestop het en nie verbygery het nie. Dalk was hy siek en kon ek ’n ambulans bel. Ek het hierdie jaar foute gemaak. Dié woorde van “Genade, onbeskryflik groot” kom by my op: “Ek is die naam van kind nie werd, wou self my sake reël. My lewe, kanse, tyd en geld is nutteloos verspeel.” Tog het ek liefgehad. Innig lief.
Die donderweer dreun dramaties buite nadat dit vanmiddag sowat 14 mm hier in Lichtenburg gereën het. Ek dink ’n goeie seisoen wink vir produsente.
Hier waar ek sit en tik, sien ek die gesiggie van ’n rooikophoutkapper omraam deur die koeëlronde gaatjie vanuit ’n ou stomp in ons agtertuin waarin hy nes gemaak het. Dis wat ’n jaar máák. Die klein dingetjies wat jou laat glimlag of selfs jou asem wegslaan …
Geseënde Kersfees! Ons probeer volgende jaar weer. Al verloop die reis nie altyd soos ons beplan nie, hoop ek dat joune ’n onverwagse avontuur inhou wat daardie “ompad” die moeite werd maak.







