Liefste toekomstige Nicolene
Dis 31 Desember 2025. Jy word wakker en loer na die kind wat teen jou bors lê en slaap. Jy is 40 jaar oud en het die lewe geskenk aan ’n gesonde baba waarvoor jy ’n liefde van ongekende omvang koester. Of jy is swanger en streel liefderik oor die boepie waarbinne ’n lewe vorm aanneem.
In die vertrekke langsaan lê geliefdes nog en slaap. Gesinslede of vriende – hartsmense saam met wie jy later vanaand ’n nuwe jaar gaan verwelkom.
Jy staan op, maak ’n koppie groentee en gaan sit met ’n blik van moederbeer se heerlike kersie- en pekanneutbeskuit op die stoep. Jy besef hoe dankbaar jy is dat albei jou ouers nog leef en met relatiewe goeie gesondheid geseën is. Albei het vanjaar hul 80ste verjaardae gevier. Jy slaan jou dagboek oop en begin by 1 Januarie 2025. Hoogtepunte, oorwinnings, vreugdes – klein en groot – maar ook kwellings, is by elke dag neergepen. Dit is iets wat jy sedert 2021 doen sodat jy nabetragting kan hou oor die jaar wat verby is. Waarop kan jy voortbou in die komende jaar en wat moet jy eerder agterlaat?
Dit was ’n uitdagende jaar. Soos elkeen maar is. Jy het weer begin studeer, bykans 20 jaar nadat jy ’n honneursgraad verwerf het. Jy het jouself tóé belowe jy is kláár met die boeke. Volleerd.
Hoe naïef. Daar is altyd ruimte vir verbetering. Altyd iemand na wie jy kan opkyk. Altyd nuwe navorsing wat jou manier van doen as uitgedien bewys. Jy het vyf boeke gelees, ten minste een van hulle ’n roman wat jou gedwing het om jou verbeelding in te span en jou weggevoer het na ’n bestaan ver verwyderd van jou eie.
Daar is dae waarop jy ontstellende gebeurtenisse neergepen het waaroor jy nou giggel en besef jy het oorreageer. Dit is ’n paar maande later en dit maak reeds nie meer saak nie. Hoekom het ek dan soveel kosbare breinkrag en energie hieraan gewy?
By ’n krisis van groter omvang staan daar geskryf: “Dit maak seer. Ek verstaan nie, maar ek hoor: Wees stil en weet, ek is die Heer.”
(Klein) dinge waarop jy trots is, sluit in ’n vergadering waartydens ’n kollega ’n persoonlike, kwetsende aanmerking gemaak het en jy gekies het om die bal te speel, nie die man nie. Lichtenburg is ’n klein dorpie. Iemand vertel weer ’n sappige skinderstorie oor ’n vrou wat besig is om te skei. Jy bly nie eens staan om te hoor wie vir wie verkul het nie, maar draai summier om en loop.
Dit was kerkbasaar in Maart en September. Die versoeking was groot om weer die maklike uitweg te kies en net geld elektronies oor te plaas, maar jy het piesangbrood gebak en by die kindertafel gaan hand bysit.
Ander (klein) oorwinnings sluit in die feit dat jy nie weer jou selfwaarde bevraagteken het nie toe jy ’n vrou op Instagram gesien het met ’n blokkiesmaag waarop jy kaas kan rasper. Jy het talle beseringsvrye kilometers gehardloop en net jou sport geniet. Jy kan tien opstote in die gim doen. Die fotomuur in die gang is uiteindelik klaar. Jou krismisrose blom!
Sommer vroeg in die jaar staan daar geskryf: “Wonderwerke gebeur! Richard (my liewe man) maak uiteindelik ’n kasdeur toe as hy iets uitgehaal het!”
Knap gedaan op nóg ’n jaar. Jy het gelag en gehuil. Gewaag, gewen én verloor. Jy het liefgehad en nié gehaat nie. Jy het geval en weer opgestaan. Ek is trots op jou.
Deo Volente.
Al my (onvoorwaardelike) liefde, Nicolene van vandag (2 Desember 2024).
Mag 2025 NWK Arena se lesers se wildste verwagtinge oortref en geken wees aan talle hoogtepunte en seën in oorvloed.