
Katbos (Asparagus laricinus) en bankrotbos (Seriphium plumosum), voorheen bekend as Stoebe vulgaris, is twee van die kommerwekkendste houtagtige onkruide wat weidings in die NWK-bedienings-gebied bedreig.
Bankrotbos en katbos is struike wat vinnig toeneem. Dit verdring natuurlike sowel as aangeplante weidings deur die graspolle uit te druk en te vervang.
Bankrotbos
Hierdie onkruid, wat ook as slangbos bekendstaan, kom wydverspreid in verskeie dele van Suid-Afrika voor. Dit is ’n digte, yl-vertakte struik met ’n grysblou voorkoms – waarskynlik ’n tipe fynbos wat mettertyd vanuit die Kaapse fynbos na ander streke van die land versprei het. Dit maak die plant besonder gehard en goed aangepas vir koue, vlak en suur grond.
Bankrotbos word byna nooit bewei nie en kan digte stande vorm, wat gras heeltemal uit die veld verdring. Die saad van een plant kan meervoudige jare lank in die grond oorleef en sowat 430 saailinge kan uit ’n enkele struik voortspruit.
Katbos
Katbos is ’n meerjarige struik met dun, houtagtige, grys vertakkings, wat vanuit ’n diep bywortelstelsel groei. Die takke dra klein, immergroen, naaldagtige blaartjies.
Die plant produseer rooi bessies wat deur voëls geëet en verder versprei word. Daarom kom katbos dikwels onder draadheinings, langs ankerpale en by groot bome voor, waar voëls oornag.
Hierdie onkruid is uiters gehard, dit vrek nie van ryp nie en kan selfs brande oorleef, aangesien tot 80% van die plant se biomassa in die wortels lê. Die stekerige dorings en blare veroorsaak dat katbos baie selde deur diere benut word.


Invloed op drakrag
’n Goeie duimreël vir weidinggesondheid is dat daar sowat een miljoen graspolle per hektaar moet wees (vergelykbaar met ’n plantestand van mielies of ander gewasse). Katbos en bankrotbos het veel breër plantbasisse en veral bankrotbos onderdruk grasgroei oor die plant se bedekkingsoppervlakte. Prakties beteken dit dat vir elke vierkante meter wat deur ’n bankrotbos bedek word, ’n vierkante meter minder gras in die veld beskikbaar is. By ’n digtheid van 10 000 bosse per hektaar (ongeveer een bos per vierkante meter) kan die drakrag van die veld met 70% tot 80% daal, afhangend van die bosse se grootte.
Die drakrag word gedefinieer as die hoeveelheid veld of weiding wat benodig word om een grootvee-eenheid (GVE) – gelykstaande aan die voedingsbehoeftes van ‘n 450 kg os wat 500 g per dag groei en ‘n dieet van 55% verteerbare energie vreet – vir ‘n vir ’n jaar te onderhou, sonder enige byvoeding.
In Noordwes, rondom Lichtenburg, het natuurlike veld ’n gemiddelde drakrag van 6 ha per GVE. Wanneer bosse die veld oorneem en die drakrag met 70% daal, word 20 ha per GVE benodig.
Byvoorbeeld: ’n Plaas van 600 ha kon vroeër 100 GVE dra, maar weens ernstige bosindringing kan dit nou slegs 30 GVE onderhou. Anders gestel: Om dieselfde 100 GVE te onderhou, word 2 000 ha weiding dan benodig. Die ekonomiese impak is duidelik en beheer is ononderhandelbaar.


Beheeropsies
Beide bankrotbos en katbos word soms effens bewei as die blare nog jonk en sappig is. Intensiewe beweiding, veral met bokke, kan ’n mate van beheer bring, maar goeie weidingsbestuur is noodsaaklik, aangesien diere sal verkies om ander plante te vreet voor hulle die indringerbosse aanpak. Dit kan lei tot oorbeweiding van gewenste spesies en verspreiding van die indringers.
- Meganiese beheer (sny of uittrek) is moeilik weens die diep wortels, waarvan nuwe takke en latte maklik weer uitspruit. Brande maak om dieselfde rede ook min verskil en kan selfs die ontkieming van bankrotbossaad stimuleer.
- Chemiese beheer lewer ook gemengde resultate omdat katbos se naaldagtige blare en bankrotbos se droë, wollerige blare onkruiddoders swak opneem. Daarom is die beste strategie vir chemiese beheer om eerder chemikalieë toe te dien, wat deur die wortels van die plant opgeneem kan word.
GRONDTOEDIENING
Tebuthiuron is ’n nie-selektiewe gifstof vir houtagtige plante met ’n langwerkende uitwerking en kan tot drie jaar in die grond aktief bly. Die gifstof word deur die plant se wortels opgeneem en kan as ’n korrel of ’n wateroplossing toegedien word.
Die korrels is stabiel en kan enige tyd van die jaar toegedien word. Hulle bly bo-op die grond lê totdat reën dit oplos en in die grond inloog. In die geval van katbos kan resultate van Tebuthiuron-korrels tot 36 maande neem voordat die teikenplant afsterf.
Die wateroplossing moet aan die begin van die groeiseisoen toegedien word (verkieslik in November in somerreënvalstreke).
Indien die klei-inhoud van die grond hoër as 20% is (veral algemeen waar katbos in vleilande voorkom), is die toediening van Tebuthiuron minder doeltreffend. Met ’n klei-inhoud bo 35% is dit heeltemal onsuksesvol, aangesien die gifstof immobiel is in kleigrond en dus nie doeltreffend deur die plant opgeneem word nie.
BLAARTOEDIENING
Blaartoediening kan oorweeg word in gronde met ’n hoë klei-inhoud of as grondtoediening om ’n ander rede vermy moet word. Dit is oor die algemeen minder doeltreffend, maar kan verbeter word deur die gebruik van ’n benatter soos crop oil, wat opname deur die blare bevorder. Dit word verder aanbeveel om ’n kleurstof saam te gebruik om behandelde plante te merk, sodat dit maklik herken kan word en die risiko van verkeerde toediening verminder.
Vir die beste resultate moet blaartoediening op jong, aktief groeiende blare toegedien word. Beheer kan bevorder word deur:
- Aan die begin van die somer te spuit.
- Deur ou, nie-groeiende plantdele te brand.
- Dit meganies met ’n slasher plat te sny om nuwe groei te stimuleer.
’n Verdere voordeel van brand voor blaartoediening is veral duidelik by bankrotbos deurdat brand die ontkieming van bankrotbossaad stimuleer. Hierdie jong saailinge kan dan ook met onkruiddoder beheer word, wat die onkruidsaadbank uitput en die hergroei van bankrotbos in die volgende seisoen beperk.
Die volgende produkte kan oorweeg word:
- Metsulfuroonmetiel (slegs geregistreer vir gebruik op bankrotbos).
- Imazapyr (geregistreer vir gebruik op beide bankrotbos en katbos).
- Picloram (slegs geregistreer vir gebruik op katbos).
Ten slotte
Ontbossing en bosbeheer is nie ’n eenmalige aktiwiteit nie. Opvolgbehandelings en verbeterde veldbestuur is noodsaaklik om indringerbosse doeltreffend te beheer. Die indringing van houtagtige bosse kan beperk word deur weidingsbestuurspraktyke aan te pas. ’n Goeie weidingsprogram sluit beide beplande veldbenutting en veldrus in.
- Wanneer jong saailinge benut word, word hulle verhoed om volwassenheid te bereik en voort te plant.
- Veldrus bevorder die vestiging van ’n beskermende laag weidingsgrasse, wat indringerbosse kan bekamp en sodoende die vestiging of verspreiding van nuwe saailinge beperk.
Skakel gerus jou naaste Midchem-agent oor die beskikbare gifstowwe en metodes van toediening.
Bronnelys
Hugo E & Van der Walt M, 2016. Chemiese beheer van katbos. SA Graan/Grain, Oktober 2016. Beskikbaar by: https://www.grainsa.co.za/chemiese-beheer-van-katbos
Hugo E & Van der Walt M, 2016. Katbos: ’n Hardnekkige indringer. LNR. Pretoria. Beskikbaar by: https://arc.agric.za/arc-gci/Weed%20Science/Katbos%20’n%20hardnekkige%20indringer.pdf
Reinhardt C & Truter W, 2012. Moet jou nie om die bos laat lei nie: Slangbos (bankrotbos) (deel 8). Veeplaas. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/server/api/core/bitstreams/ff0d01db-2496-4e09-94cf-82da28045c0e/content
Steynberg R, 2015. Bankrotbos: Hoe ignoreer mens hierdie onstuitbare indringer? Die Pad Saam Oktober/November 2015. VKB. Reitz. Beskikbaar by: https://www.vkb.co.za/wsdoc/dps/padsaam_33.pdf
Uitheemse indringerplante van die Waterberg. Inligtingstuk. Waterberg Nature Conservancy. Beskikbaar by: https://www.pdlu.co.za/images/Bankrotbos.pdf







