
Die twee begunstigdes van 2025 se Grip4Charity-gholfdag gaan elk R200 000 ontvang – die grootste opbrengs nóg wat dié jaarlikse liefdadigheids-gholfdag van NWK, opgelewer het.
Verteenwoordigers van Manger Care Centre in Benoni asook Wings of Inspiration Care Centre in Roodepoort het Vrydag (6 Februarie 2026) denkbeeldige tjeks van R200 000 elk by ‘n geselligheid by NWK se hoofkantoor ontvang, nadat R400 000 met verlede jaar se gholfdag ingesamel is. Die geld sal binnekort aan die organisasies betaal word.
Verlede jaar se Grip4Charity-gholfdag is op 16 September by Magalies Park in Hartbeespoortdam aangebied. NWK se verskaffers skryf spanne van vier spelers in en plekke word vinnig opgeraap. Wyn word by die aand se geselligheid opgeveil om opbrengste verder aan te vul.
“Hierdie gholfdag het in 2005 ‘n nederige ontstaan gehad waartydens ons R46 000 in totaal vir twee begunstigdes ingesamel het. Dit is vir NWK belangrik om te probeer teruggee aan die gemeenskap. Mense het geweldige uitdagings op verskillende maniere en wat ons probeer doen is maar ‘n klein druppel in die emmer in terme van wat werklik nodig is,” het Pieter Kleingeld, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, by Vrydag se geleentheid gesê.
“Die dag is nie moontlik sonder NWK se verskaffers nie. Ons stap ‘n lang pad saam met hulle en ons is nie net sakevennote nie, maar kyk hoe ons sáám ‘n verskil kan maak. Ek hoop ons kan vir nog baie jare hierop voortbou en op ‘n nederige manier ‘n bydrae lewer tot die res van die gemeenskap.”
Daar is sedert die gholfdag se ontstaan R3 492 080 ingesamel en aan 37 organisasies geskenk.

Manger Care Centre fokus al vir 40 jaar op die opheffing en bemagtiging van haweloses, verslaafdes en gestremdes. Hulle word geleer om te bak, te boer en staalwerk te doen waarmee hulle hul eie inkomste kan genereer. “Ons het verlede jaar volledige kwalifikasies, wat wissel van NQF 1 tot NQF 4, aan 112 mense toegestaan,” het Zen Teitge, die CEO van Manger Care Centre, Vrydag vertel.
“Ons beoog om hierdie geld aan te wend vir ‘n nuwe hawe wat ons besig is om in die Bapsfontein-omgewing te vestig, waar 300 bykomende mense gehuisves sal kan word. Hier sal hulle ook leer boer en die geld kan gebruik word om besproeiing aan te lê of die strukture te verf,” het Teitge bygevoeg.
Wings of Inspiration Care Centre word die afgelope tien jaar deur die identiese tweelingsusters – Kirsten Richardson en Anthea Da Costa – bedryf. Hulle kom self uit moeilike omstandighede en het met erfgeld dié Christelike organisasie gevestig om kwesbares by te staan.
Die organisasie bestaan uit elf hawes waar 440 mense in totaal versorg word. Dit sluit bejaardes, weerlose vroue en kinders in.
“Ons het ‘n instandhoudingsprojek vir die ouetehuis opgestel en Maandag rock en roll ons!” het die susters opgewonde vertel. “Die eenheid vir verswakte bejaardes se kombuis moet dringend oorgedoen word. Daar sal nuwe kaste, werksoppervlaktes om kos op voor te berei, asook ‘n stoof ingesit word. Verfwerk, die badkamers, dak, plafonne … Ons het ‘n doenlysie van twee bladsye lank!”
Vanjaar se Grip4Charity-gholfdag word vir 17 September beplan.






