
Bek-en-klouseer (BKS) is ’n ernstige aansteeklike dieresiekte wat Suid-Afrika se veebedryf bedreig. BKS hou nie net biologiese en ekonomiese risiko’s in nie, maar het ook ingrypende regsimplikasies vir produsente.
Wanneer ’n bek-en-klouseer-uitbreking plaasvind, is die vraag nie net wie geraak word nie, maar ook wie die regsplig dra, en wat die gevolge is indien dit nie nagekom word nie.
Die regsraamwerk
Die bekamping en beheer van BKS word hoofsaaklik gereguleer deur die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984, oftewel die 1984-Wet), asook die regulasies wat ingevolge die 1984-Wet uitgevaardig is. Die 1984-Wet skep ’n verpligte en afdwingbare stelsel van siektebeheer, waarin beide die staat én die produsent ’n rol speel.
Die Wet op Dieregesondheid (Wet 7 van 2002, oftewel die 2002-Wet) is in 2002 gepromulgeer, maar het nog nie in werking getree nie. Sodra dit in werking tree, sal dit die 1984-Wet herroep. Sommige publikasies verwys na die 2002-Wet asof dit reeds geld, en dit kan produsente verkeerd inlig oor hulle verpligtinge. Die 1984-Wet is tans die geldende regsraamwerk vir die beheer van BKS in Suid-Afrika.
Volgens die 1984-Wet is dit duidelik dat BKS ’n beheerde siekte is, wat beteken dat spesiale maatreëls geld sodra daar ’n vermoede of bevestiging van ’n uitbreking is.
Wie is waarvoor verantwoordelik?
DIE STAAT
Die staat, verteenwoordig deur nasionale en provinsiale dienste vir dieregesondheid, is verantwoordelik vir:
- Die afkondiging van beheer- of kwarantyngebiede.
- Die uitreiking van ’n bewegingsverbod- of permitstelsels.
- Toesig, inspeksies en monitering.
- In sekere gevalle, bevele vir die uitskot van diere.
Dit beteken egter nie dat die staat alleen aanspreeklik is vir die beheer van BKS nie.
DIE PRODUSENT
Die 1984-Wet plaas ’n swaar en direkte verantwoordelikheid op die produsent self. ’n Produsent is onder meer verplig om:
- Onmiddellik ’n vermoede van BKS by die naaste staatsveearts aan te meld (Artikel 11(1)(b)(ii) van die 1984-Wet).
- Alle redelike biosekuriteitsmaatreëls op plaasvlak toe te pas (Artikel 11(1)(a) van die 1984-Wet).
- Nie diere, karkasse, produkte, voer of toerusting te verskuif in stryd met regulasies of permitvereistes nie (Artikel 12(4) van die 1984-Wet).
- Inspekteurs toegang tot die plaas te verleen (Artikel 16 van die 1984-Wet).
- Streng te voldoen aan enige opdragte wat ingevolge die Wet uitgereik word (Artikel 15 van die 1984-Wet).
Dit is belangrik om te besef dat onkunde of verkeerde oordeel oor simptome nie ’n geldige verskoning bied nie.
Biosekuriteit: ’n Regsplig, nie ’n keuse nie
Biosekuriteit is nie bloot ’n aanbeveling of beste praktyk nie – dit is ’n regsplig. Voorbeelde van verwagte maatreëls sluit in:
- Beheer van toegang tot die plaas.
- Ontsmetting van voertuie, toerusting en skoene.
- Kwarantyn van nuwe of terugkerende diere, of diere wat simptome van die siekte toon.
- Rekordhouding van diere se bewegings.
’n Produsent wat nalaat om redelike biosekuriteitsmaatreëls toe te pas, kan regsgevolge in die gesig staar, selfs al was daar geen kwaadwilligheid nie.
Gevolge van nie-nakoming
Nie-nakoming van die 1984-Wet kan ernstige gevolge hê, waaronder:
- Strafregtelike vervolging, wat boetes of gevangenisstraf kan insluit.
- Siviele aanspreeklikheid indien ’n ander persoon skade ly weens nalatigheid.
- Verlies van marktoegang en kontraktuele gevolge.
- Moontlike versekeringseise wat afgekeur word weens regulatoriese oortredings.
Daarbenewens kan die reputasieskade aan ’n produsent of streek langdurig wees.
Samevatting
- BKS is nie net ’n veeartsenykundige krisis nie – dit is ook ’n regsrisiko.
- Die 1984-Wet vereis van produsente om proaktief, waaksaam en samewerkend op te tree.
- In ’n omgewing waar die verspreiding van siektes ’n hele bedryf kan ontwrig, is nakoming van die regsraamwerk nie onderhandelbaar nie.
- Vir produsente beteken dit eenvoudig dat goeie biosekuriteit en tydige rapportering nie net goeie boerderypraktyke is nie – dit is die wet.







