
Hoë produksiekoste en risiko’s in die landbou maak dit vir die produsent absoluut noodsaaklik om presies te weet wat sy plaas se grondpotensiaal, gewas-potensiaal en chemiese status is, en met hierdie faktore in gedagte meer presies te boer.
Die toepassing van pre-sisieboerdery het ten doel om die boerdery meer volhoubaar te maak deur die natuurlike hulpbronne, naamlik grond en klimaat, op só ’n wyse te benut dat produksie optimaal kan plaasvind.
Die grondpotensiaal moet eers bepaal word voordat presisieboerdery doeltreffend toegepas kan word. Presisieboerdery kan egter nie sinvol en reg toegepas word sonder dat die grondpotensiaalklasse vir ’n spesifieke gewas bepaal word en daar na kleiner landeenhede (gewoonlik 20 m x 20 m), elk met sy eie gewaspotensiaal vir ’n spesifieke produksieseisoen, geïntrapoleer word nie.
Met die grondpotensiaal bekend, kan die gewaspotensiaal bepaal word. Verskeie metodes bestaan waarvolgens die gewaspotensiaal bepaal kan word en dit word by wyse van wetenskaplike vergelykings gedoen.
Hierdie vergelykings neem onder andere die grondkenmerke in ag wat die produksiepotensiaal beïnvloed. ’n Tegniek wat algemeen toegepas word, is die aanvanklike berekening van die hoeveelheid beskikbare water in die grond en hoeveel daarvan gestoor kan word.
Die verwagte reënval vir die nuwe seisoen tot met fisiologiese rypwording van die gewas word dan hierby gevoeg om die hoeveelheid beskikbare grondwater te beraam. Ten laaste word die grondwater gebruik om ’n realistiese opbrengspotensiaal vir die nuwe seisoen per grondtipe en lokaliteit te bepaal.
Die chemiese status van die grond moet ook bepaal word sodat presisieboerdery doeltreffend toegepas kan word.
Grondpotensiaal
In kort dui grondpotensiaal op die grond se vermoë om ’n sekere opbrengs vir ’n spesifieke gewas in ’n gegewe klimaat te lewer. Die potensiaal van grond word deur verskeie faktore beïnvloed. Dit sluit in die klimaat, asook grondkenmerke soos die tekstuur, struktuur, diepte, onderliggende materiaal, vrugbaarheid en die topografiese ligging van die grond.
’n Spesifieke grondtipe se potensiaal moet in konteks met die streek waarin dit voorkom en die spesifieke landgebruik gesien word. Só kan dit wees dat ’n vlak Avalon- of Westleigh-grondtipe in die Oos-Vrystaat as goeie grond geag word, terwyl dit in die weste as lae potensiaal grond geag word.
Die bepaling van die grondpotensiaal vereis eerstens dat die grond gekarteer word. Kartering word normaalweg op ’n ruitpatroon van een tot twee hektaar, met onder andere ’n meganiese grondboor, gedoen tot op die onderliggende moedermateriaal.
Grondkartering behels die identifikasie van die morfologiese grondkenmerke, die klassifikasie van die grondtipe by elke waarnemingspunt en die geografiese verspreiding daarvan. Hierna word die verskillende grondtipes in verskillende potensiaalklasse ingedeel. ’n Grondkaart word dan opgestel waarop die verskillende grondpotensiaalklasse (lae, medium-lae, medium, medium-hoë en hoë potensiaal klasse) met verskillende kleure aangedui word. Bogenoemde word per land gedoen (Figuur 1).

In die proses word die gronde volgens potensiaal van mekaar onderskei, sodat die lae en medium-lae potensiaal gronde van kontantgewasverbouing onttrek kan word. Hierdeur word die boerdery se volhoubaarheid oor die lang termyn alreeds verbeter.
Een van die faktore wat dalk as die belangrikste beskou kan word om die grondpotensiaal onder droëlandgewasproduksie te bepaal, is waterhuishouding en die beskikbaarstelling van water aan gewasse. Met bogenoemde bekend, kan baie nader beweeg word aan die werklike grondpotensiaal, oftewel die sogenaamde gewaspotensiaal (Figuur 2).

Presisieboerdery
Presisieboerdery kan in kort gedefinieer word as die regte toepassing van ’n landboupraktyk op die regte plek en die regte tyd, met die kleinste impak op die omgewing.
Om bogenoemde te vermag, is dit noodsaaklik dat nie net die grondtipe en gewaspotensiaal bepaal word nie, maar ook dat die chemiese status van die gronde op die lande bepaal word.
PRESISIEGRONDMONSTERNEMING
Vir die doeleindes van presisieboerdery word die chemiese status van gronde soos volg bepaal.
Lokaliteitspesifieke grondmonsters word met die hulp van ’n GPS geneem. Die monsters kan op twee maniere geneem word:
- Ruitmonsterneming (grid sampling): ’n Voorafgekose ruitpatroon word met die GPS oor die land geplaas, waarna daar op elke lokaliteit ’n grondmonster geneem en elkeen individueel na ’n laboratorium gestuur word.
- Presisiegrondmonsterneming (smart sampling): Digitale opbrengskaarte en plantegroei-indekskaarte wat geografies verwys is, word gebruik om probleemareas te identifiseer om sodoende sones vir monsterneming te identifiseer. ’n Enkele grondmonster word vir ’n sodanige lokaliteit geneem.
Ruitmonsterneming word die algemeenste gebruik. Hiervolgens word die geografiese verspreiding van die vlakke van die land se plantvoedingstowwe bepaal, wat die weg baan tot die differensiële herstel van wanbalanse. Bogenoemde regstellings word differensieel met GPS-toegeruste kalkstrooiers, planters en topbemesters gedoen.
Toepassings van presisieboerdery
VOORPLANTTOEDIENING VAN KUNSMIS
Voor die koms van presisieboerdery is slegs stikstof voor planttyd op veral sandgronde toegedien. Met die koms van presisieboerdery word fosfor (P) en kalium (K) nou ook vooraf toegedien.
Bemesting met bogenoemde plantvoedingstowwe word vooraf wisselend met chemiese voorskrifkaarte toegedien, wat in differensieerbare toedieners gebruik word. Dit het die voordeel dat kunsmis wat voor planttyd toegedien word volgens die gewaspotensiaalkaart differensieel toegedien kan word om die grond met die hoogste potensiaal meer te bemes, en swakker gronde minder of glad nie vooraf te bemes nie.
Voorts word dit dieper en onder die ry in die wortelsone in nat grond geplaas en nie soos in die geval van kantbemesting, waar dit bo-op die grond of vlak in die grond toegedien word nie. ’n Eenvormige plantmengsel word dan normaalweg gebruik.
Spoorverkeer is egter ’n vereiste vir voorplanttoedienings. Hier is outomatiese stuurstelsels op trekkers baie handig sodat herhaaldelik op spesifieke posisies in die spoorverkeerstelsel gery kan word en gewasrye dus ook op spesifieke posisies in die stelsel geplant word.
Met grondpotensiale en die gewaspotensiaal vir die spesifieke seisoen bekend, kan differensiële bemesting volgens die potensiaal doeltreffend toegepas word.
Doeltreffende differensiële bemesting vereis dat die geografiese verspreiding van die land se chemiese status bekend is en dat enige wanbalanse differensieel herstel is. Die land se chemiese status word bepaal deur grondmonsters op ’n GPS-ruitpatroon van een of twee hektaar te neem, na gelang van die variasie van die gronde oor die land. Elkeen word dan individueel deur ’n grondlaboratorium ontleed.
Die ontledingsresultate word aan die onderskeie geografiese GPS-punte gekoppel, waarna chemiese kaarte vir die land gemaak en voorskrifkaarte rekenaarmatig uitgeskryf word. Die beste gronde is gewoonlik die armste aan plantvoedingstowwe omdat die meeste hier onttrek word.
Daar word met differensiële bemesting volgens potensiaal gestreef na die toediening van die regte hoeveelhede plantvoedingstowwe en ook in die regte verhouding tot mekaar. Dit sluit stikstof, fosfor, kalium, kalsium, magnesium en swael in. ’n Land se fisiese eienskappe hoef net een keer bepaal te word, maar die chemiese analise moet elke vier tot vyf jaar herhaal word.
Bemestingstowwe kan op verskeie maniere en op verskillende tye voor en tydens die produksieseisoen differensieel toegedien word. Dit sluit in:
- Voor planttyd (op die ry en 20 cm onder die ry, of breedwerpig uitgestrooi en ingewerk).
- Tydens planttyd (in die band).
- Topbemesting (breedwerpig uitgestrooi, bo-oor die plante of op die grond tussen die rye of met skoffeltoedieners langs die plantry).
Samevatting
- Die bepaling van ’n plaas se grond- en gewaspotensiaal asook chemiese status vorm die basis van presisieboerdery.
- Die konstante druk waaronder produsente verkeer om die ekonomiese aanwending van hul hulpbronne te optimaliseer, noodsaak die bepaling van grond- en gewaspotensiale, asook die chemiese status, om sodoende kunsmis wisselend toe te dien.
- Gemiddelde boerdery – waar die hele land dieselfde behandel word – word dus met presisieboerdery vervang, waar akkurate gebied- of sone-spesifieke monitering gedoen en insette aangewend word.
- Bogenoemde is slegs sommige van die belangrikste toepassings van presisieboerdery. Die volle waarde van moderne presisietoerusting op landbouwerktuie word beperk as die grondtipes, gewaspotensiaal en chemiese status van die grond nie bekend is nie.
Bronnelys
Du Plessis MJ, 2011. Waarom wil ’n mens meer presies boer? NWK Arena. Mei/Junie 2011.
Jaargang 43
Du Toit J, 2010. Spoorverkeer skep ’n geleentheid vir voorplanttoediening van kunsmis. Noordwes Nuus. Julie/Augustus 2010. Jaargang 42
Misstofvereniging van Suid-Afrika, 2003. Bemestingshandleiding, 6de hersiene uitgawe, 2de herdruk. MVSA, Pretoria







