
Sowat 20 of 30 jaar gelede was die groot gros van NWK se produsente reeds in die silwerjare en is die bekommernis uitgespreek dat produsente se gemiddelde ouderdom besonder hoog was.
Om te boer, was meer ’n leefstyl, met boerderye wat daarop gemik was om die gesin te onderhou. Boerderye was baie kleiner as vandag, met baie meer boerdery-eenhede. Boerderybestuur was baie konserwatief en sentiment het ’n groot rol in besluitneming gespeel. Plaasarbeid was ongeskool en het geslagte lank op die plaas gebly. Min jongmense het tot die boerdery toegetree.
Sedertdien het hierdie tendens begin omdraai en het ’n nuwe generasie jong boere begin om boerdery hul beroepskeuse te maak. Die nuwe generasie jong boere doen dinge egter duidelik anders.
Dit is kenmerkend dat baie van hulle tersiêre opleiding het. Hulle sien boerdery as ’n onderneming en bestuur dit kenmerkend as sodanig. Hulle is gesteld op die bedryfsvertakkings se kosteberekenings en skroom nie om nie-winsgewende vertakkings af te sny nie, want hulle weet waar hul marges lê.
Boerderybestuur is op besigheidsgeleenthede geskoei en hulle is nie bang om berekende kanse te vat nie. Die boerdery se groei is vir hulle belangrik, met die gevolg dat hulle plase aankoop en al meer plaaswerwe leeg staan en selfs gesloop word. Sentiment speel ’n baie meer onderliggende rol.
Grond is nou ’n hulpbron wat vir die generering van winste gebruik word. Hulle gebruik tegnologie om winste te optimaliseer. Hulle belê in moderne landbouwerktuie en het ’n dryfveer om dit optimaal aan te wend. Doeltreffendheidsnorme word gemeet en nagejaag.
Hulle gebruik eerder geskoolde plaasarbeid en kom met baie minder plaasarbeid klaar, wat boonop eerder met landbouwerktuie werk as om werk met die hand te verrig. Strategiese denke is ook kenmerkend om rigting in die boerdery te gee.
Die resultaat van hul moderne manier van dinge doen, is nie tevergeefs nie, want hulle het hul opbrengsmikpunte betekenisvol opgeskuif. In die 1980’s en 1990’s was ’n langtermyn gemiddelde mielieopbrengs van
3 t/ha in die weste nie te versmaai nie. Nou is dit gemaklik meer as
5 t/ha. Die gewigstoename van vleisbeeste was skaars 1,2 kg/dag, terwyl dit nou gemaklik meer as 1,8 kg/dag is. Vleisproduksie per hektaar het ook betekenisvol toegeneem, met veldbestuur wat op produktiewe benutting gemik is.
Die nuwe generasie jong boere stel die dwarslat al hoër. Hulle is werklik ’n riem onder die hart vir die ouer geslag wat die aflosstokkie aan hulle oorgee. Suid-Afrika kan gerus op hierdie nuwe generasie produsente vertrou om die volk in die toekoms te voed.







