• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Nov 17, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technical
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technical
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Nederige boer palm gesogte titel in

Karina Muller, Arena-medewerker

17 Nov 2026
in Nuus
Nederige boer palm gesogte titel in

Bertus by een van sy Brahmane. Foto verskaf.

Share on Facebook

Bertus Joubert van die Hartbeesfontein-omgewing in Noordwes is op 2 September as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys. Hy boer met hoenders, gesaaides, ‘n Brahman-stoet, groente en wild. Gerhard Heinlein van Tom Burke in Limpopo is tweede en Marisa Solms van Utrecht in KwaZulu-Natal is derde.

BESKEIE van geaardheid, dinamies in sy boerdery en diep gewortel in sy geloof – dit is Bertus Joubert (33), TLU SA se Jongboer van die Jaar 2026, in ‘n neutedop. Bertus het ‘n groot deel van sy kinder- en studentejare in Perth, Australië, deurgebring nadat sy ouers daarheen geëmigreer het. Hy vertel dat hy graad 6 aan Laerskool Vastrap in Rustenburg in Afrikaans voltooi het en met hul aankoms in Australië in graad 8 geplaas is – ‘n groot omwenteling in ‘n jong seun se lewe.

Bertus lag wanneer hy vertel dat hy eintlik nooit in graad 7 was nie. Boonop het hy aanvanklik min van die Engels in sy nuwe skool verstaan. Hy het nietemin sy skoolloopbaan daar voltooi en ook ‘n BCom (Rek)-graad behaal.

Sy pa, Joffré, het in ‘n supermark belê en later die alleen-eienaar geword. Ná sy studies het Bertus by die winkel aangesluit en waardevolle bestuurservaring opgedoen.

Die Joubert-gesin het gereeld na Suid-Afrika gekom om familie te besoek en ook na hul boerderybelange, wat steeds hier was, om te sien.

Terugkeer na sy tuisland

Nadat Bertus ‘n private vlieglisensie verwerf het, het hy en ‘n vriend besluit om per vliegtuig deur Suidelike Afrika te toer. Ná hierdie toer het hy besef dat sy wortels in Afrika lê. “Ek het nooit werklik tuis in Australië gevoel nie. Ek het nie soos hulle aangetrek en gepraat nie…”

Hy het besluit om terug te keer. Hoewel sy gesin aanvanklik nie dié besluit verwelkom het nie, het hulle stelselmatig gevolg. Vandag is sy ouers en sy suster, Jani, ook terug in Suid-Afrika.

Ná sy terugkeer het Bertus vir twee jaar by sy ouma, Suzie Joubert, in Rustenburg gebly en in dié tyd ‘n kommersiële vlieglisensie verwerf. Hy het hom ook as professionele jagter en jaguitrus­ter bekwaam.

Bertus het daarna voltyds vir ‘n maatskappy begin vlieg en terselfdertyd ‘n Brahman-stoet op die been gebring. Tydens die grendeltyd kon hy veral baie tyd aan die stoet bestee. Hy het ook begin om sy pa se plase by Klerksdorp en Kroonstad te bestuur.

Intussen het hy na sy eie plaas begin soek – ‘n proses wat drie jaar geduur het en uiteindelik deur gebed en geloof ‘n werklikheid geword het. Die plaas in die Hartbeesfontein-omgewing is die grondslag waarop JSA Farms gebou is.

In die eieraanleg van JSA Farms. Foto verskaf.

Van hoenders tot pampoene

Bertus het ‘n eieraanleg op die plaas begin en le­wer eiers aan groothandelaars. Hy is ‘n lid van Top Lay Eierkoöperasie, waarvan sy pa tans die voorsitter is. Hy koop lêhenne as kuikens aan en maak hulle groot – ouer henne word aan informele markte verkoop.

Bertus plant ook graan en het in die laaste seisoen pampoen op die plaas gekweek. Dié pampoene is  op die Johannesburgse en Pretoriase varsproduktemarkte verkoop.

Omdat Bertus by soveel verskillende fasette van die boerdery betrokke is, lyk geen dag dieselfde nie. “Ek weet dikwels nie hoe my dag gaan verloop nie,” vertel hy. Goeie personeel is daarom vir hom van kardinale belang. Hy erken dat dit ‘n uitdaging is om die regte mense in die regte posisies te kry, maar wanneer die span op dreef is, verloop sake glad. “Ek kommunikeer gereeld met my personeel, soms ook via WhatsApp-groepe.”

Personeelbestuur bly nietemin een van sy grootste struikelblokke. “Dit is die belangrikste deel van die boerdery, maar dit bly ook ‘n groot verantwoordelikheid, want elkeen het sy eie persoonlikheid en doelwitte. Dit is ‘n uitdaging om almal op dieselfde bladsy te kry en te laat saamwerk.” Tans het hy 27 voltydse personeellede in diens.

As wenner het Bertus die gebruik van ‘n BYD Shark-hibriedbakkie vir ‘n jaar ontvang, asook tegnologie van SmarTime en iNspexia wat hy vir drie jaar kan gebruik.

Wenboer op die regte pad

TLU SA het hom via sosiale media gekontak en ge­noem dat hulle sy vordering met belangstelling dophou, en hom aangemoedig om vir die Jongboer van die Jaar-kompetisie in te skryf. “Dit was altyd ‘n droom om in te skryf, maar ek het gevoel ek wil eers nog meer doen en ervaring opdoen voordat ek dié stap neem. Toe ek die boodskap ontvang, het dit my geïnspireer om in te skryf.”

Die beoordelingsproses het met aanlynvrae begin. Bertus is toe as een van die top twaalf finaliste aangewys, waarna die onafhanklike beoordelaarspaneel van vyf lede die finaliste besoek het. Volgens TLU SA het die beoordeling verder gestrek as die produksiesyfers. Finaliste is onder meer beoordeel vir hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.

Hierna is die top drie finaliste gekies. Bertus erken beskeie dat hy nie verwag het om te wen nie. Volgens hom was die ander twee finaliste sterk mededingers. Hierdie toekenning is vir hom ‘n bevestiging dat hy op die regte pad is. “Dit is lekker om jou teen ander jong boere te meet en te weet dat jy uitstaan, veral omdat my boerdery eintlik maar nog net drie jaar oud is. Dit is ook goed vir my personeel se moraal.”

Bertus is ‘n lid van die TLU, NWK, Senwes, Top Lay, die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) en Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA).

Struikelblokke op die pad

Sy grootste uitdagings lê in die hoenderbedryf, veral wat biosekuri­teit betref. “Met die uitdagings rondom voëlgriep was ons al amper in biosekuriteit geskool toe bek-en-klouseer ‘n realiteit geword het. Ek meen hierdie ervaring het daartoe bygedra dat my beeste tot dusver vry van dié siekte is.

“Elke dag bring ook sy eie uitdagings, maar dit is vir my lekker om te kyk hoe ek dit kan hanteer.”

Volgens Bertus is drie van die belangrikste eienskappe waaroor ‘n jong boer moet beskik geloof, geduld en goeie beplanningsvermoë.

Bertus Joubert (middel) van JSA Farms is TLU SA se Jongboer 2026. Saam met hom is sy pa, Joffré Joubert, ook ‘n produsent, en Willie Aucamp, minister van landbou. Foto: TLU SA

In ‘n artikel op TLU SA se webwerf het Bertus uitgebrei oor sy rol as jong boer in Suid-Afrika. Vir hom strek die waarde van boerdery egter veel verder as voedselproduksie. “Ek het die afgelope paar jaar die voorreg gehad om baie mense se lewens deur my boer­dery aan te raak. Ek kon werk skep vir mense wat gesukkel het, kos gee aan dié wat dit nodig gehad het, hoop bring aan mense wat dit verloor het en soms vir hulle ‘n nuwe begin wys.

“Ek glo Suid-Afrika is een van die moeilikste plekke ter wêreld om te boer. Daarom beteken dit baie dat jong boere erkenning ontvang vir die werk wat hulle doen.”

Hy hoop sy deelname sal ander jong produsente aanmoedig om aan te hou bou aan Suid-Afrikaanse landbou. “Ek hoop ander jong boere kan iets uit my storie put en aanhou streef na uitnemendheid, selfs wanneer die uitdagings groot raak. Baie jong boere kies om oorsee te gaan boer, maar ek glo ons het hulle hier nodig. Hulle kan ‘n werklike verskil maak in Suid-Afrika en in ons landbousektor.”

Bron: https://www.tlu.co.za/mense-maak-die-verskil-tlu-sa-jongboer-finalis-bertus/

Tags: Nov/Des 2026
Previous Post

Create new thinking patterns for change

Next Post

Healthy soil enhances soybean production


Recommended

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

17 Nov 2026
Healthy soil enhances soybean production

Healthy soil enhances soybean production

17 Nov 2026
Nederige boer palm gesogte titel in

Nederige boer palm gesogte titel in

17 Nov 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

17 Nov 2026
Healthy soil enhances soybean production

Healthy soil enhances soybean production

17 Nov 2026
Nederige boer palm gesogte titel in

Nederige boer palm gesogte titel in

17 Nov 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In