• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Nov 17, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technical
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technical
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

Dawid van Heerden, Veekundige

17 Nov 2026
in Tegniek
´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

Die bul moet die koeikudde aanvul en verbeter. ‘n Bul se waarde word beïnvloed deur die behoefte aan die spesifieke genetiese eienskappe wat hy na die kudde bring.

Share on Facebook

‘n Goeie koeikudde vorm die grondslag van enige suksesvolle beesboerdery, hetsy ‘n kommersiële kudde of ‘n stoetkudde. Elke koei dra egter slegs 50% van die genetiese waarde van haar eie kalf by, terwyl ‘n bul 50% van die genetiese waarde van elke kalf in die kalweroes bydra.

IN ‘n kalfseisoen kan ‘n swak koei vir die produsent dalk een swak kalf gee, maar ‘n swak bul gee vir hom 30 swak kal­wers . . . indien die koeie kalf. In ‘n kudde waar ‘n enkele bul 25 tot 33 koeie dek, versprei sy genetiese invloed veel ver­der as dié van enige individuele koei. Daarom is die seleksie van ‘n bul met bewese genetiese meriete en ekonomies belangrike eienskappe van kardinale belang vir die kudde se langtermynwinsgewendheid.

Alhoewel die drie bulle van dieselfde ras (Brahman) en ongeveer dieselfde ouderdom is, verskil hulle
merkbaar in raamgrootte.

Bulkoste per kalf

Die aankoop van ‘n bul word dikwels as ‘n groot eenmalige uitgawe beskou. Dit is egter meer sinvol vanuit ‘n produk­sie-oogpunt om die bul as ‘n lopende produksie-inset te beskou. Die belangrike vraag is dus nie noodwendig: “Wat het die bul gekos?” nie, maar eerder: “Wat het die bul gekos per kalf of per kilogram kalf wat gespeen is?”

Die kostedoeltreffendheid van ‘n bul kan relatief eenvoudig bereken word deur sy totale koste oor sy produktiewe leeftyd te verdeel, deur die aantal kalwers, of die totale kilogram kalwers, wat hy gedurende sy leeftyd geproduseer het.

Die koste per kalf word grootliks beïnvloed deur bestuursfaktore soos:

  • Die aantal jare wat die bul in die kudde gebruik word
  • Die aantal koeie wat die bul jaarliks dek
  • Die bul-tot-koei-verhouding (byvoorbeeld: 4% of een bul per 25 koeie en 3,3% of een bul per 30 koeie)

Daarbenewens word die koste per kalf beïnvloed deur die prestasie van die kudde, insluitend:

  • Speenpersentasie
  • Die bul se geskiktheid en langlewendheid
  • Verliese as gevolg van vrektes of reproduksieprobleme
  • Die bul se sloopwaarde aan die einde van sy produktiewe leeftyd
  • Die kalwers se gemiddelde speengewig

Die faktore wat ‘n bul se ekonomiese waarde bepaal, word nie uitsluitlik deur sy aankoopprys beïnvloed nie, maar deur die wisselwerking tussen genetiese potensiaal en bestuurs­praktyke. Goeie genetika, gekombineer met doeltreffende bestuur, goeie voeding en gesondheidsbestuur, stel produsente in staat om meer waarde uit ‘n bul te verkry.

Gevolglik kan ‘n duurder bul, wat meer kalwers produseer, swaarder kalwers speen en langer produktief bly, uiteindelik teen ‘n laer koste per kilogram kalwers produseer as ‘n goedkoper bul met swakker prestasie.

DRIE SCENARIO’S

Tabel 1 illustreer die invloed van bestuur en genetiese meriete op die koste waarteen ‘n bul kalwers en kilogram kalf produseer. Die drie scena­rio’s is gebaseer op prestasievlakke wat in Suid-Afrikaanse beesproduk­siestelsels aangetref word.

  • Scenario 1 verteenwoordig ‘n kudde waar bestuurspraktyke nie optimaal toegepas word nie. Die bul word vir ‘n korter tydperk gebruik, die speenpersentasie is laer en kalwers word teen ligter gewigte gespeen.
  • In Scenario 2 word dieselfde bul gebruik, maar bestuurspraktyke is beter. Dit sluit onder andere beter kampbestuur, voeding, gesondheidsbestuur en reproduksiebestuur in, wat lei tot ‘n langer produktiewe leeftyd van die bul, ‘n hoër speenpersentasie en swaarder speenkalwers. Die resultaat is dat die koste per kalf en per kilogram kalf geproduseer beduidend daal. In hierdie voorbeeld word die bulkoste per kilogram kalf bykans gehalveer bloot deur beter bestuur toe te pas.
  • Scenario 3 gebruik dieselfde bestuursvlak as Scenario 2, maar vervang die bul met ‘n dier met hoër genetiese meriete en vervolgens ‘n hoër prys. Dié scenario illustreer hoe verbeterde genetika, wanneer dit met goeie bestuur gekombineer word, verdere ekonomiese voordele kan ontsluit deur swaarder kalwers te produseer.

Alhoewel die koste van die bul in Scenario 3 op ‘n rand-per-kilogram- of rand-per-kalf-basis soortgelyk is aan dié van Scenario 1 en aansienlik hoër is as dié van Scenario 2, is die inkomste wat deur die bul
gegenereer word beduidend groter as in die vorige scenario’s.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die be­stuurspraktyke en bestuurskoste tussen Scenario 2 en Scenario 3 nie verskil nie. Die enigste veranderlikes is die bul se genetiese meriete, sy aankoopprys en die inkomste wat deur sy nageslag gegenereer word. Hierdie voorbeeld illustreer dat die waarde van ‘n bul nie uitsluitlik aan sy aankoopprys of koste per kalf gemeet moet word nie, maar eerder aan die totale ekonomiese bydrae wat hy tot die kudde lewer.

Tabel 1: Bulkoste per kalf gespeen en per kilogram kalf gespeen onder verskillende
bestuurs- en genetiese scenario’s.

Die veiling

DIE DUURSTE BUL

Daar word gereeld gepraat oor die indrukwekkendste bulle wat op veilings aangebied word – die bul waarvoor almal uitkyk en wie se genetiese waardes, bloedlyne en eie prestasie sy prys tot groot hoogtes opstoot. Die meeste beesprodusente sal nooit een van hierdie uitsonderlik duur bulle koop nie, maar elke produsent loop die risiko om die bul te koop wat hom uiteindelik die meeste gaan kos.

Die waarde van ‘n teelbul word nie in rand per kilogram karkas gemeet nie, maar eerder in sy genetiese meriete en sy vermoë om koeie dragtig te kry. Die waarde van goeie genetika word veral sigbaar in vervangingsverse, waar die gevolge van swak genetiese seleksie vir verskeie generasies ‘n negatiewe invloed op die kuddeprestasie en winsgewendheid kan hê.

Die waarde van ‘n bul word dus bepaal deur ‘n kombinasie van sy eie prestasie, genetiese potensiaal, vrugbaarheid en die produsent se vermoë om toepaslike bestuurspraktyke toe te pas wat daardie genetiese potensiaal ontsluit.

Die duurste bul op die veiling is daarom nie noodwendig die bul wat die hoogste bod ontvang nie. Die duurste bul is die een wat, hetsy weens sy eie tekortkominge of weens swak bestuur, nie daarin slaag om oor sy leeftyd ‘n bemarkbare produk in die vorm van genoegsame speenkalwers te lewer nie.

DIE BESTE BUL

Die beste bul op die veiling is nie noodwendig die duurste bul of die bul met die hoogste teelwaardes nie. Die beste bul is die bul wat die beste vir ‘n spesifieke produsent en sy produksiestelsel gaan werk.

Die geskiktheid van ‘n bul berus hoofsaaklik op twee beginsels:

  • Die bul moet aangepas wees vir die omgewing en produksiestelsel waarin hy gebruik gaan word.
  • Die bul moet die bestaande koeikudde aanvul en geneties verbeter.

Daarom is daar nie noodwendig een beste bul op ‘n veiling nie. Die belangriker vraag is watter bul op die veiling die beste bul vir jou plaas sal wees. Wanneer ‘n bul geselekteer word, moet daar gekyk word na die produksiestelsel, teikenmark, klimaat, voedingsvlak en ander omgewingsfaktore waarin die dier oor die lang termyn moet presteer.

Die bul moet ook geskik wees vir die vroulike diere waarmee hy gepaar gaan word. Sy rol is nie slegs om kalwers te produseer nie, maar ook om tekortkominge in die kudde aan te spreek en genetiese vordering te bevorder volgens die produsent se doelwitte.

Eienskappe soos groei, vrugbaarheid, melkproduksie, aanpasbaarheid en karkas­eienskappe in die kudde kan deur die seleksie van die regte bul verbeter word. Die waarde wat hierdie genetiese verbetering vir die kudde inhou, beïnvloed uiteindelik hoeveel ‘n produsent bereid is om vir ‘n bul te betaal.

DIE PRYS VAN BULLE

Die waarde van ‘n bul word hoofsaaklik bepaal deur sy eie meriete, naamlik sy genetiese potensiaal, vrugbaarheid en vermoë om koeie en verse suksesvol dragtig te kry. Daar is egter bykomende faktore wat tot ‘n bul se waarde bydra wanneer hy onder die vaandel van ‘n geregistreerde stoet, telersgenootskap of studiegroep op ‘n veiling aangebied word.

‘n Geregistreerde stoetbul moet voldoen aan die rasstandaarde en vereistes wat deur die betrokke telersgenootskap of studiegroep gestel word. Die bul word dus aangebied as ‘n dier wat aan die ras se minimumvereistes voldoen en waarvan die afstammelinge en prestasie gedokumenteer is.

Hierdie dokumentasie sluit dikwels pre­stasietoetse en rekordhouding in, soos groei- en ontwikkelingstoetse, deelname aan nasionale rekordhoudingstelsels, genetiese ontledings en in sommige gevalle genomiese toetse vir bindende genetiese afwykings, soos dubbelbespiering.

Verskeie telersgenootskappe het ook gesondheids- en vrugbaarheidsvereistes waaraan diere moet voldoen voordat hulle op veilings aangebied mag word. Dit kan inentingsprogramme, vrugbaarheidsondersoeke, libido- en siektetoetse, asook ander sertifiseringspro­sesse insluit. Hierdie prosesse bied ‘n mate van sekerheid aan die koper. Die koper ontvang nie noodwendig ‘n waarborg van prestasie nie, maar wel meer inligting waarop ‘n ingeligte aankoopbesluit gebaseer kan word.

Hierdie verhoogde vlak van sekerheid en beskikbare inligting verminder die risiko vir die koper en dra dikwels by tot die premie­pryse wat op stoetveilings betaal word. Wanneer bulle privaat of “uit die hand” aangekoop word, kan die aankoopprys laer wees. Die ko­per beskik egter nie noodwendig oor dieselfde vlak van prestasie-, gesondheids- en genetiese inligting nie. Die potensiële be­s­pa­ring in die aankoopprys moet daarom teen die bykomende risiko opgeweeg word.

Uiteindelik betaal die produsent nie net vir die bul nie, maar ook vir die inligting, toetsing, rekordhouding en risikobestuur wat saam met die bul kom.

Verse wat voor die koeikudde wei. Die keuse van ‘n bul word beïnvloed deur die tipe vroulike diere waarby hy gebruik gaan word. Eienskappe soos die geboortegewig en kalwingsgemak is byvoorbeeld van groter belang wanneer ‘n bul op verse gebruik gaan word as wanneer hy uitsluitlik op volwasse koeie gebruik word.

Samevatting

Die waarde en uiteindelike prys van ‘n bul word deur verskeie faktore beïnvloed:

  • Die produsent se vermoë om die bul se genetiese potensiaal deur goeie bestuur te ontsluit.
  • Die omgewing en produksiestelsel waarin die bul moet
  • Die koeikudde se behoefte aan genetiese verbetering.
  • Die bul se genetiese meriete en sy vermoë om gestelde teeldoelwitte te bereik.
  • Die bykomende inligting, toetsing en risiko­vermindering wat dikwels met geregistreerde stoet- en veilingsbulle g

Daar is nie ‘n enkele antwoord op die vraag wat die regte prys vir ‘n bul is nie, net soos daar nie ‘n enkele bul is wat vir elke plaas geskik is nie. Die belangrikste vraag is daarom nie hoeveel die bul kos nie, maar hoeveel waarde hy oor sy produktiewe leeftyd tot die kudde gaan toevoeg.

Daar is egter een ding waaroor die meeste produsente sal saamstem: Die duurste bul is nie noodwendig die een wat die hoogste prys op die veiling behaal nie, maar die een wat nie daarin slaag om kalwers te produseer nie. Selfs die beste genetika het min waarde indien die bul nie vrugbaar is en die koeie suksesvol kan dragtig maak nie.

Bronnelys

  • Brody S, 2023. Choosing a good-quality breeding bull. Farmer’s Weekly, 18 Februarie 2023
  • Geldenhuys K. Buying the best bull. Brangus SA tegniese adviseur
  • Queensland Department of Primary Industries. 2003. Bull selection: Buying better bulls
Tags: Nov/Des 2026
Previous Post

Healthy soil enhances soybean production

Next Post

KI se waarde: Korter dekseisoen, beter resultate


Recommended

KI se waarde: Korter dekseisoen, beter resultate

KI se waarde: Korter dekseisoen, beter resultate

17 Nov 2026
´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

17 Nov 2026
Healthy soil enhances soybean production

Healthy soil enhances soybean production

17 Nov 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

KI se waarde: Korter dekseisoen, beter resultate

KI se waarde: Korter dekseisoen, beter resultate

17 Nov 2026
´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

´n Bul se waarde lê nie in sy prys nie

17 Nov 2026
Healthy soil enhances soybean production

Healthy soil enhances soybean production

17 Nov 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In