NWK-personeel het op 31 Julie aan die jaarlikse Tekkie Tax deelgeneem en Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, het dit goedgedink om dié inisiatief met ’n uitreik na die kinderhuis te kombineer. Personeel is gevra om klere en skoene wat hulle nie meer gebruik nie na die kantoor te bring, met die doel om dit aan Abraham Kriel te oorhandig.
Kinderharte verbly
“Kinders is vir my ’n teer saak. Hulle is ’n gawe van ons Skepper en die land se toekoms. Dit is volwassenes se plig om as hul mentors op te tree en hulle op die pad van die lewe te kry. NWK se sosiale verantwoordelikheidsprojekte fokus grotendeels op kinders en die jeug.
“Kinderhuise en die groot rol wat hulle speel om ’n veilige hawe vir kinders te skep, word dikwels misgekyk. ’n NG-predikant, ds Abraham Kriel, het al in 1880 dié visie gehad en hom in sy eerste gemeente, Dutoitspan in Kimberley, vir minderbevoorregtes beywer en ’n huis gekoop wat in ’n jeugtuiste omskep is.
“Abraham Kriel se kinderhuise is welbekend en hulle naam het eerste by my opgekom. Ons is ook reeds in sekere gebiede in Potchefstroom by graanprodusente betrokke,” het Johan verduidelik.
Die kinderhuis in Potchefstroom versorg kinders tussen die ouderdom van drie en 20 jaar en is veral bekend vir sy jaarlikse Liggiefees, wat tydens die feesseisoen duisende mense lok wat saans na die indrukwekkende liginstallasies kom kyk en na gewilde sangers kom luister. Weens die
COVID-19-pandemie en inperking is dié gebeurtenis, wat ook as ’n fondsinsameling dien, egter afgelas.
Projek word uitgebrei
Ná ’n behoeftebepaling het NWK ook 215 sakkies met toiletware vir die seuns en dogters saamgestel. Dit het onder andere tandepasta, ’n tandeborsel, deodorant, lyfroom, lipsalf, sjampoe, ’n waslap en toffies bevat.
Ria Conradie, eienaar van Lichtenburg Kantoormeubels, het ook klein sokkerballe geskenk, wat aan die kinderhuis oorhandig is.
Zeldri Nel, skakelbeampte van Abraham Kriel, het haar dank namens die kinderhuis teenoor NWK betuig. “Toiletware is baie duur en hierdie skenking maak werklik ’n noemenswaardige verskil.”