Mielie-, slag- en speenkalfpryse is belangrike drywers wanneer dit kom by die afronding en bemarking van vleisbeeste. Dit berus op vooruitskattings, en soms word die langtermyn voor- en nadele van ’n stelsel eerder as riglyn gebruik om tussen stelsels te kies.
Daar word baie gedebatteer oor watter stelsel vir die afronding en bemarking van vleisbeeste gebruik moet word. Die volgende vrae word gereeld gevra: Moet ek my speenkalf as sulks bemark, of eerder self in my plaasvoerkraal verder voer? Moet ek die diere net van 180 kg na byvoorbeeld 230 kg neem, of voer ek hulle tot op 550 kg of 650 kg? Moet ek nie eerder tollies ná speen vir ’n jaar op bergveld of ander uitskotweidings laat loop en hulle dán vir drie maande in my plaasvoerkraal afrond nie? Of moet ek nie laasgenoemde osse op 480 kg van die veld af bemark as organies-geproduseerde vleis nie? Die opsies en verskillende kombinasies daarvan is legio!
Verskillende stelsels
Vervolgens word hieraan perspektief verleen aan die hand van drie stelsels wat onlangs in die media verskyn het.
’N OSSTELSEL IN MOEILIKE BERGVELD
Hofmeyr (2020) bespreek ’n lonende opsie vir die benutting van moeilike terrein. Hier kan ’n osstelsel ’n lonende alternatief bied vir die normale koei-en-kalfstelsel.
Drie basiese beginsels geld in ’n osstelsel:
- Om die regte tipe speenkalf te koop.
- Om jaarliks op dieselfde tyd af te skop.
- Om teen minimum insette te werk.
Indien bulle uit ’n stoetkudde aan kliënte verkoop word, is dit ’n goeie opsie om van hul speenkalwers terug te koop vir die osstelsel. Dit is bekende genetika en hulle behoort plaaslik goed te presteer. Indien nie, is dit raadsaam om verhoudings te vestig met betroubare en bewese verskaffers, waar kalwers jaarliks aangekoop kan word.
Die produsent kan ’n premie van byvoorbeeld 50 c/kg vir gesonde, goed versorgde kalwers en goeie bestuur aanbied. Dan moet die kalwers verkieslik tussen 250 kg en 280 kg weeg. Indien hulle swaarder is, is dit meestal ouer kalwers wat swakker groei.
Die osstelsel is sterk seisoenaal. Kalwers word jaarliks in Maart of April aangekoop en oorwinter op bergveld. Aanvullings hier het slegs ten doel om gewig te handhaaf. In die daaropvolgende somer word kompensatoriese groei op somerveld ten volle benut. Na afloop van ’n jaar bereik hulle gemiddeld 385 kg (’n toename van gemiddeld 120 kg/os oor die verloop van die jaar). Hierna word hulle vir 90 dae in die voerkraal afgerond tot ongeveer 600 kg (gemiddelde daaglikse toename, oftewel GDT, van 2,0 kg tot 2,5 kg), aldus Hofmeyr (2020).
Minimum insette is deurslaggewend om die osstelsel te laat klop. Die selfvermenging van lekke en voerkraalrantsoene word, waar moontlik, aanbeveel. Indien beskikbaar, kan ’n produsent se eie graan en neweprodukte hier aangewend word. Wanneer die ossies veld toe gaan, word hulle slegs teen sponssiekte, miltsiekte, lamsiekte en knopvelsiekte geënt. Hulle word ontwurm en met vitamien A ingespuit voordat hulle na die veld gaan en dan weer ontwurm wanneer hulle na die voerkraal gaan.
Volgens Hofmeyr (2020) kan twee tollies vir elke koei/kalfeenheid gedra word op ongeveer 0,7 ha
per eenheid vir albei opsies (Oos-Vrystaatse suurveld). Teen R26/kg op die hoef realiseer die osse R6 240 per eenheid van twee osse. Die prys vir ’n speenkalf is wel meer, maar dan moet die kalfpersentasie 100% wees. Enigiets minder tel in die guns van die osstelsel.
Die voordele van die osstelsel sluit onder andere in dat dit ’n lae risiko inhou en teen ’n laer insetkoste as byvoorbeeld ’n koei/kalfstelsel gedoen kan word (Hofmeyr, 2020). Verder is daar altyd ’n mark vir osse en dit verleen uitstekende plooibaarheid aan die stelsel. Osse kan, indien nodig, makliker as teelkoeie van die hand gesit word, soos met droogtes of ander voertekorte.
Met ’n osstelsel is die aanwending van gespesialiseerde bestuurstelsels soos ultrahoëdrukstrookbeweiding eenvoudiger. Troppe kan maklik groter of kleiner gemaak word.
’N NA-SPEENGROEI- EN SPEENKALFSTELSEL
Gouws (2020) vergelyk die doeltreffendheid van ’n os- en speenkalfstelsel met mekaar. Die diere op hierdie harde Kalahari-plaas wei in ’n seskampstelsel. Goeie weiveldbestuur is volgens Gouws (2020) uiters belangrik vir die sukses van dié stelsel.
Al die beste tollies ten opsigte van bouvorm, kloue, groei en aanpasbaarheid word teruggehou vir die osstelsel en van die veld af geslag. Ander speenkalwers word aan die plaasvoerkraal “verkoop” en verder afgerond, en die oorblywende speenkalwers word as sulks bemark. Laatryp rasse, byvoorbeeld die Bonsmara, werk goed vir dié doel omdat hulle later wissel en dit, saam met gewig (groeivermoë) en vetheid, hul prys by die abattoir bepaal. Osse word op 24 tot 30 maande oud geslag en weeg dan ongeveer 510 kg.
Swak reproduksie, ’n hoër voorkoms van geboortekomplikasies (distokie) en lae speenkalfpryse benadeel ’n speenkalfstelsel, terwyl lae slagpryse die winsgewendheid van ’n osstelsel benadeel. Verdere nadele van ’n osstelsel sluit in moontlike verliese ná speen, wat die risiko verhoog, asook meer druk op die kontantvloei weens ’n verlengde produksiestelsel.
Die voordele van ’n osstelsel is onder meer dat kompensatoriese groei benut kan word, minder arbeid nodig is, minder bulle nodig is en koeitroppe kleiner en minder kwesbaar is tydens byvoorbeeld droogtes.
Gouws (2020) bespreek ’n voorbeeld waarin speenkalwers vir ’n osstelsel in Januarie by ’n kommersiële boerdery aangekoop is teen R28/kg. Hul speengewig op nege maande was gemiddeld 250 kg per kalf. Op die ouderdom van 24 maande het ongeveer tweederdes A2 en A3 uitgeslag, en die res AB2 en AB3. Die gemiddelde karkasgewig en -prys was onderskeidelik 265 kg en R41,50/kg (dus ’n bruto bedrag van R10 998 per os).
Die vervoer het R208 per os beloop en 8% enkelvoudige rente (R700 per os) is ingereken. Die netto opbrengs vir na-speengroei in die voorbeeld was dus R3 090 per os. Volgens die drakragnorme kan daar egter twee tollies per teelkoei gedra word – ’n tollie is ongeveer 0,75 grootvee-eenhede, teenoor die 1,5 grootvee-eenhede van ’n 500 kg koei en kalf. Die netto opbrengs van die osstelsel is R6 180 per twee osse. Die osse word van die veld af bemark en kan dus ook ’n premie vir organies-geproduseerde vleis ontvang.
DIE FINANSIËLE SY
Lombard en Maré (2020) bespreek die finansiële sy van ’n speenkalfstelsel, osstelsel en plaasvoerkraal.
Voordele in ’n speenkalfstelsel sluit in dat die risiko verlaag word deurdat diere vroeër bemark kan word en dus ’n korter tyd op die plaas spandeer. Nog ’n voordeel is dat die aantal kuddes in hierdie stelsel waarskynlik minder is. Van die nadele is die wisselvalligheid en beïnvloedbaarheid van speenkalfpryse. So sal die tipiese hoër aanbod voor die winter, veral waar die aantal koeie te veel is, byvoorbeeld laer pryse tot gevolg hê.
In ’n osstelsel moet koeikuddes kleiner wees om plek te maak vir meer osse. Die voordeel is egter dat osse, in geval van nood, in enige stadium verkoop kan word om getalle op die plaas te verminder sonder om genetiese materiaal te verloor, en die kernkoeikudde bly behoue (Lombard en Maré, 2020).
Die winsgewendheid van plaasvoerkrale word sterk aangedryf deur die vleis- tot mielieprysverhouding. Laer mieliepryse is gunstig vir voerkrale, maar lei gewoonlik tot hoër speenkalfpryse weens ’n hoër aanvraag. Plaasvoerkrale is meer kapitaalintensief as die speenkalf- en osstelsels, en daar is bepaalde risiko’s wat met die hoë konsentrasies diere gepaardgaan.
Voedingsbestuur en veral gesondheidbestuur is hier van kardinale belang. Die stelsel is meer arbeidsintensief en waar dit gemeganiseer word om op arbeid te bespaar, jaag dit weer kostes op. Infrastruktuur is duur, maar noodsaaklik om stres en swak diereprestasie te beperk.
Die omset van diere in die voerkraal is egter voordelig omdat dit vinniger kontantvloei tot gevolg het.
Die plaasvoerkraal word minder deur die klimaat beïnvloed as ander seisoenale stelsels en daar kan verskeie produksiefases per jaar voltooi word, ongeag die seisoen. Plaasvoerkrale met grondvloere kan egter in baie nat en baie droë toestande bydra tot longkwale, wat koste opjaag en bestuur bemoeilik.
Volgens Lombard en Maré (2020) moet die geleentheidskoste van plaasinsette deeglik oorweeg word. ’n Voerkraal sal slegs finansieel sin maak waar die verdere waarde teen markverwante pryse toegevoeg kan word aan byvoorbeeld ’n produsent se eie mielies of speenkalwers. Dieselfde beginsel geld egter indien veldafronding oorweeg word.
Die korrekte raskeuse en raamtipe is ook volgens Lombard en Maré (2020) van belang. Klein- tot mediumraamrasse doen beter op veld en dus in die osstelsel. Sommige inheemse rasse wissel later en pas dus ook beter by die osstelsel – dit gee die produsent meer tyd om te sorg dat die diere gewig aansit. Lombard en Maré (2020) verwys ook na omgewingsbeperkings en -geleenthede, soos bergkampe, wat goed in die osstelsel benut kan word.
In ’n voorbeeld met die mielieprys teen R2 600/ton, maak ’n plaasvoerkraal R332 per kalf per siklus, bereken vir 100 kalwers teen 1,5% mortaliteit (Lombard en Maré, 2020). Die voerkraal verhoog in hul voorbeeld die mielies se waarde met R116/ton. As die mortaliteit egter na 3% verhoog, maak mielies ’n verlies van R19/ton en die speenkalwers ’n verlies van R249/kalf. Dit sou dan beter gewees het om die mielies eerder as graan te verkoop. Daar is dus baie min ruimte vir foute maak in hierdie stelsel.
Ten slotte
Dit is duidelik dat elke produsent hierdie keuse op ’n ingeligte wyse moet maak, in ag genome die spesifieke omstandighede van sy boerdery. Geen enkele stelsel sal universeel die beste werk op elke plaas nie. Die voor- en nadele van elke stelsel moet deeglik oorweeg word en waar nodig, moet deskundige advies ingewin word om te help planne maak om die mees ekonomiese produksiestelsel vir die plaas in plek te kry.
Bronnelys
Gouws A, 2020. Bonsmara-osse: Doeltreffendheid is alles. Die Rooi Ras, Plaas Media. Augustus 2020, Vol 4, nr. 2 15 – 17
Hofmeyr I, 2020. Osboerdery: ’n Handige opsie vir diversifikasie. AgriOrbit
Lombard WA en Maré F, 2020. Weidingstelsels teenoor voerkrale: ’n Ekonomiese perspektief. Veeplaas, Plaas Media. Julie 2020, Vol 11 nr. 7, 8 – 9
https://www.agriorbit.com/osboerdery-n-handige-opsie-vir-diversifikasie/