Voëlkyk is ’n gewilde stokperdjie onder natuurliefhebbers wat tot iets meer kan lei, soos twee Suid- Afrikaanse bewarings organisasies ontdek het. Lees hier meer oor die uitstekende werk wat hulle doen.
VulPro red vir Mr P
Kerri Wolter van VulPro, die rehabilitasiesentrum vir roofvoëls (veral aasvoëls) in die Magaliesberge, het die volgende bydrae oor ’n Afrika-witrugaasvoël met die bynaam Mr Pipe (Mr P) ingestuur:
Mr P is op 5 Mei 2021 uit die Olifantsrivier-wildreservaat net buite Hoedspruit in die Laeveld gered. Hy ondergaan tans rehabilitasie by VulPro en sal later in die wildreservaat vrygelaat word. Hy sal met ’n toestel toegerus word om sy vrylatings-, oorlewings-, voedings- en bewegingspatrone te monitor.
Die oorsprong van sy bynaam is ook sy reddingsverhaal. Op die aand van 4 Mei is Mr P opgemerk met ’n stuk plastiekpyp om sy nek en binne-in sy snawel, wat sy bek oopgedwing het. Dit was ’n besliste doodsvonnis vir die voël, want hy kon nie op hierdie manier oorleef nie.
VulPro se span is in kennis gestel en het die volgende dag vanaf Hartbeespoort na die Olifantsrivier-wildreservaat vertrek. Graham en Sandy de Witt, aandeelhouers van die wildreservaat, het hom ’n volle dag dopgehou en net voor sonop op 5 Mei is Mr P verdoof en deur Kerri en die veeartse behandel.
Dit was die eerste suksesvolle verdowing van ’n aasvoël waarvan VulPro weet. Ongelukkig het die pyp skade aan sy tong aangerig. Die span van VulPro hou die situasie gevolglik fyn dop om seker te maak hy sal in die natuur kan oorleef.
Uile só gered by Hartbeespoort
Die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing is ’n nie-winsgewende maatskappy en ’n rehabilitasiesentrum vir alle uil- en wildsoorte in Suid-Afrika.
Brendan en Danelle Murray het tien jaar gelede begin fokus op die bewaring van uile en neem jaarliks meer as 1 000 van dié voëls in deur hul reddingspogings. Wanneer die uile gerehabiliteer is en in die natuur kan oorleef, word hulle vrygelaat in die reservaat – ’n plaas wat binne ’n bewaringsgebied van 12 000 hektaar geleë is.


