Die gebruik van satelliete en onbemande lugvaartuie (hommeltuie) in die landbou bedryf is deesdae al ou nuus. Daar was ’n tyd toe dit die gunstelingonderwerp vir bespreking rondom die braaivleisvuur was. Ons is egter bykans daar waar presisietoerusting op stropers, trekkers en planters ook algemeen begin raak. Produsente wend dit al meer aan en dit is dikwels net die aanvanklike hoë koste om hierdie tegnologie in gebruik te neem wat ’n beperking tot toetrede is.
Tegnologiese ontwikkelings in die landboubedryf in die 21ste eeu strek egter baie wyer as net ’n GPS op ’n stroper. Dit omvat eintlik in breë terme verskeie betekenisvolle ontwikkelings ten opsigte van rekenaartegnologie en die Internet of Things (IoT).
Presisieboerdery en digitale landbou berus grootliks op die doeltreffende hantering van uitgebreide hoeveelhede data op só ’n wyse dat die gemiddelde landbouer maklik toegang kan kry tot die praktiese aanwendings van hierdie tegnologie – sonder die nodigheid om regtig te verstaan wat die ingewikkelde werking/berekenings van die stelsels behels.
Sommige van die verstommende ontwikkelings in landboutegnologie sluit in outomatiese weerstasies, gewsmontering met verskeie sensors vanaf ‘n afstand deur veral satelliete, elektroniese grondvogmeting, outomatiese besproeiingstelsels, operateurlose trekkers en intelligente sagteware vir pes- en plaagbeheer. Verder is daar ook robotte wat die oes kan insamel en selfs sagtevrugte kan pluk, onkruide kan beheer deur onkruid-identifikasiesagteware en selfs outonoom in staat is om skape te skeer!
Gary Wishnatzki, mede-stigter van Harvest Croo Robotics, het onlangs aangekondig dat een van hulle aarbeiplukkers wat getoets word in staat is om ‘n 25-akker aarbeiland in net drie dae te pluk. Dit kan ‘n span van 30 mense doeltreffend vervang.
In ’n mediaverklaring deur die Universiteit van Pretoria, wat op 9 Junie 2021 vrygestel is, verduidelik professor Wynand Steyn (hoof van die Departement Siviele Ingenieurswese) die werking van kunsmatig vervaardigde elektroniese “avokadopere” wat tans nagevors word.
Die avokadopere, wat met ’n 3D-drukker gemaak word, is toegerus met gevorderde mikrosensors wat die bootvaart van regte advokadopere van Suid-Afrika na Nederland monitor. Dit word tussen die advokadopere verpak en meet dan die uitwerking van alle bewegings van die vragskip en selfs temperatuurveranderinge op die vruggehalte tydens die vaart.
Die resultate kan gebruik word om net die beste gehalte vrugte vir die kieskeurige Europese markte te lewer. Hierdie toepassing kan ook gebruik word vir die monitering van varsprodukte soos tamaties, wat maklik beskadig word deur die vervoer en hantering daarvan.
Die landboubedryf is danksy tegnologiese ontwikkelings besig om ’n nuwe era te betree. Dit hou inderdaad ook etiese vraagstukke in, soos die vervanging van werkers deur masjiene. Dis iets wat nie ligtelik opgeneem kan word nie, maar die vraagstuk staan ook in skrille kontras met die verwagte toekomstige tekort aan mannekrag wat lande soos Amerika en Japan nou reeds voorsien om in staat te wees om aan die vraag na landbouprodukte vir die menslike mark te voldoen.
Dit lei ’n mens onwillekeurig na die vraag of ’n produsent ten gunste van ’n masjien sal kies indien dit die werk net so goed soos ’n mens kan doen – sonder om siek te word, te staak of minder produktief te wees indien daar nie toesighouding is nie.
Die tyd sal leer watter keuses uitgeoefen word, maar tegnologie is hier om te bly en reuse bedrae ontwikkelingsgeld word hierin belê. Dit sou nie gebeur het indien beleggers nie van mening was dat die mark gereed is om dié nuwe ontwikkelings te omarm nie.