Die eerste lam op Taaibospan naby Sannieshof is vanjaar op 7 Mei gebore, en teen 26 Mei het Grietha van Rensburg al met 92% tweelinge en 14 drielinge gespog. Dié lamseisoen sou 35 dae duur – 35 dae waartydens Grietha haar álles gee en saans elke twee ure opstaan om na haar kudde om te sien.
“Daar waar jou voetspore lê, dáár lê jou sukses.” Grietha van Rensburg het dié woorde van haar buurman en mentor, Jan Hattingh, ter harte geneem. Veral tydens 2021 se eerste lamseisoen in Mei het haar voetspore na die krale van haar indrukwekkende Amulet Vleismerino-stoet diep gelê en weliswaar vrugte afgewerp.
Eens ’n stadsmeisie
Grietha (47) was slegs 20 jaar oud toe sy met Louis getroud is en hulle hul op Taaibospan kom vestig het. Sy was ’n verkoopskonsultant vir dieregesondheidsmaatskappye tot 2005. Louis, self ’n suksesvolle Bonsmara-boer en dieselwerktuigkunde, is dikwels deur produsente met skape vergoed wanneer hy hulle trekkers herstel het.
Hy het sowat 30 ooie gehad. “Toe besluit Louis en oom Jan sommer dat ek met skape moet begin boer,” lag Grietha. Die ooie was “iets van alles” – van Corriedale tot Letelle. Grietha het sowat 20 van hulle gehou en die res laat slag. Jan het kort hierna ’n veiling gehou waar Grietha vir haar 60 ooie en ’n ram gekoop het.
Op die vraag waarom Vleismerino’s, antwoord sy: “Dit was maar oom Jan se liefde. As ek nou terugdink, sou ek geen ander ras gekies het nie. Dis ’n veeldoelige skaap – vleis en wol – met baie goeie moedereienskappe. Dit is die grootste oorweging waarna jy kyk, ongeag met watter soort skaap jy boer,” verduidelik sy.
“Hulle het baie goeie melk, indien jy daarvoor selekteer. Die vleiseienskappe is baie goed en dit bly jou grootste inkomste. Moet egter nie die wol weggooi nie. Ek betaal my inentings en doserings met die wolgeld, en koop dan weer ’n topstoetram.”
Swartskape was haar gelukbringers
Grietha het destyds nie die hulpbronne gehad wat jongboere vandag het nie. “Daar was nie WhatsApp- of Facebook-groepies nie. Jy moes maar lees en self sukkel.”
Sy het ’n suiwer Vleismerino-ram gekoop en telkens by die ooie gesit. Tog is daar aanvanklik elke jaar ’n swart lammetjie op Taaibospan gebore.
In daardie stadium het Jan haar aangemoedig om ’n stoet te begin en voorgestel sy kies ’n naam. “My kudde het só gegroei dat ek gevoel het hierdie swart lammetjies was my gelukbringers,” deel Grietha. Sy het woordeboeke nageslaan en ge-Google en op die naam Amulet besluit, wat “gelukbringer” in Frans beteken. “Dit is uniek en eie aan my omstandighede.”
Haar kudde het tot 300 ooie gegroei. In 2013 het Jan ophou boer en Grietha gevra om sy stoet te koop. “Hy het 362 stoetooie gehad, wat sowat R1,2 miljoen werd was.” Sy was oorbluf, maar het besef sy kon nie dié geleentheid deur haar vingers laat glip nie.
Grietha en Jan het onderhandel en hy het voorgestel dat sy sy laaste produksieveiling daardie jaar oorneem. “Ek het sewe jaar gelede my eerste produksieveiling gehou en met die vierde produksieveiling my laaste paaiement aan oom Jan terugbetaal,” vertel sy trots.
Lammers by dosyne
Verlede jaar kon Grietha met ’n lampersentasie van 187% spog – sónder kunsmatige inseminasie.
Die ooie word in twee groepe van 250 elk verdeel, jong vervangingsooie uitgesluit. Die eerste groep word op 1 Desember gepaar om teen 1 Mei te lam en die tweede groep teen 1 Junie om teen 1 November te kan lam.
Grietha se meerlingsyfer is bogemiddeld goed, en sy is gelukkig om dit met natuurlike dekking te behaal. Sy skryf dit toe aan goeie voeding en benadruk dat dit die hoeksteen van ’n gesonde skaapkudde is.
“Dit wat jy vir ’n skaap ingee, gaan jy uitkry. As jy voer plant en jou grond is arm, gaan jou voer arm wees. Die skape gaan dan ook tekorte hê. Daar is produkte waarmee jy spoorelemente kan aanvul, wat baie belangrik is om goeie immuniteit te kry.”
Sy noem dat sy veral goeie resultate met die wintervoer, Sorom van Pannar, behaal. “Dit is goeie voer wat jou lank dra. As jy dit teen Maart plant, dra dit jou tot in Oktober.”
Daar is 15 kampe vir die skape op Taaibospan. Grietha het kleiner hokkies en uitkeerkampe volgens haar behoeftes gevestig, wat hantering tot ’n minimum beperk. “Dit plaas minder stres op die diere. Hulle hou nie van baie hantering nie, veral dragtige diere. Dit veroorsaak aborsies en plaas oor die algemeen groter druk op ’n dier se immuniteit.”
Grietha het vyf jaar gelede boonop heeltemal weggedoen met manlike arbeid. “My lampersentasie het toegeneem en die mortaliteit het afgeneem,” glimlag sy. “Vroue sien dit net anders, want hulle probeer dinge anders doen. Ons sien dinge wat mans nie eens raaksien nie en kommunikeer ook makliker met mekaar,” verduidelik sy.
Seleksie is belangrik
“Jy kan nie sentimenteel wees en met ’n Daisy en Blommetjie boer nie. Dit sit nie kos op die tafel nie. Jy moet ’n kopskuif maak en sê die boerdery is ’n onderneming, en dan voluit daarvoor gaan.” Daarom is seleksie Grietha se belangrikste bestuursinstrument – een wat sy streng toepas. Swak presteerders kry selde nog ’n kans.
Daar is die afgelope reënseisoen 750 mm op Taaibospan gemeet, wat ongehoord is vir hierdie gebied. Terwyl ander skaapboere met haarwurm in hierdie nattigheid moes sukkel, het Grietha nie een geval van hierdie parasiet gehad nie.
“Ek het ook nie met vrotpootjie gesukkel nie. Dit is danksy streng seleksie oor ’n tydperk. As ’n ooi twee of drie keer vrotpootjie kry, laat ek haar gaan. Vandag het ek ’n topkudde met min vrektes. ’n Mens kan vir eindelose eienskappe selekteer as jy net jou visie daarop instel en verbeter.
“Produsente redeneer dikwels dat hulle net ’n beperkte aantal diere het. My raad aan hulle is om vyf van hulle swak diere uit te gooi en met vyf goeies te vervang. Oor tien jaar sal jy wees waar ek nou is.”
Sy baan die weg vir ander vroue
Grietha het ’n junior keuringskursus by Jan van Biljon van Viljoenskroon voltooi. “Ek het my junior kursus eers mooi deurgetrap en praktiese ondervinding opgedoen.” Hierna het die genootskap haar genomineer om ’n senior keurings kursus te voltooi. Sy was kort daarna die eerste vrou om by die Bieliemieliefees in Reitz in die Vrystaat te beoordeel.
Wanneer dit by haar eie kudde kom, verkies Grietha ooie met korter, dikker bene. “Die koppe moet steeds vroulik vertoon, met sterk breë bekke.”
Grietha is steeds die enigste vrou wat op die SA Vleismerino-genootskap se raad dien en haar termyn is pas met nog vier jaar hernu. Sy is egter hoopvol dat nog vroue binnekort hulle plekke op soortgelyke bestuursforums sal kan volstaan. “Skaapboerdery is ’n lekker boerderybedryf vir ’n vrou. Dit is nie so groot dat dit onhanteerbaar is nie.”
Sy voorsien ook al die afgelope tien jaar jaarliks sowat 150 lammers aan die Moslem-mark. “Die aanvraag is oorweldigend. Gehalte verkoop die produk. Die diere is gesond, vet en ongeskonde. Dit is ’n maklike mark, sonder baie administrasie.”
Grietha van Rensburg deel graag haar ondervinding en kennis met ander. Skaapprodusente is welkom om haar by 082 952 1955 te skakel.