Hy het tydens sy besoeke aan plase as dieselwerk-tuigkundige fyn opgelet hoe produsente dinge doen, en artikels in landboukundige tydskrifte oor veesiektes uitgeknip en geliasseer. Dit het ’n beskeie dog stewige hoeksteen gelê vir Victor Kruger, wat vandag suksesvolle Dorper- en Boerbokstoeterye bedryf.
Victor Kruger (62) was slegs 17 jaar oud toe hy vir John Deere as ’n dieselwerktuigkundige begin werk het. “Daar was twee of drie boere in die Jagersfontein-gebied en ’n klomp Dorpers, altyd bymekaar. Dit was vir my altyd ’n mooi prentjie gewees. Ek het altyd vir myself gesê ek sal eendag só iets wil hê,” onthou Victor met ’n glimlag.
As kind het hy hoenders en duiwe gehad en die droom gekoester om ’n boer te wees. Victor sou harde klippe kou om hier uit te kom. Met ’n salaris van slegs R120 per maand met die aanvang van sy loopbaan, het hy gereeld geld afgeknyp om elke maand ’n skaap te koop. Een Saterdag is al sy skape gesteel. “Al 35 van hulle was weg. Toe moes ek van voor af begin.”
Hy het in 2004 gemeen hy het genoeg diere gehad om sy loopbaan by John Deere vaarwel te roep en voltyds sy droom na te jaag. Die volgende jaar het hy die plaas Wienan naby Mareetsane, wat 514 hektaar groot is, gekoop.
’n Dorper is gemaak vir hierdie wêreld
Toe Victor in 2002 teelramme wou koop, is hy na ’n vooraanstaande teler naby Olifantshoek in die Noord-Kaap. Hy het ook teeldiere by bekende telers soos Ben Grobbelaar, Jannie Visagie en Hanré van Wyk gekoop.
“Vir ons wêreld is ’n Dorper meer aanpasbaar as ’n wolskaap. Hy is gehard, het ’n goeie moederinstink en die groei van die lam, asook die vleisgehalte, is goed. ’n Dorper-ooi behoort ook ’n slaglam vanaf die veld op drie tot vier maande te kan lewer,” sê hy.
Vandag is die Victor Kruger Dorperstoet 300 ooie sterk. Daar is plaaslik ’n groot aanvraag na sy ramme, asook in Botswana en Kenia. “Dorpers is aanpasbaar. Swede… In koue gedeeltes van die wêreld is daar Dorpers. Australië… Die wêreld oor,” gesels hy.
Bek-en-klouseer het uiteraard die uitvoerbedryf erg geknou en tans word Dorpers slegs na Mosambiek, Zimbabwe en Kenia uitgevoer.
GEHALTE EERDER AS HOEVEELHEID
“Almal wil tweelinge hê. Ek wil egter eerder ’n gesonde en ’n swaar lam speen. My lampersentasie is sowat 118%, afhangend van die tyd van die jaar. Die speenpersentasie is 112%.” Victor het nietemin ooie wat tweelinge met gemak grootmaak en swaar lammers speen.
Victor het twee lamseisoene per jaar – aan die begin en einde van die reënseisoen. Hy probeer die reënseisoen weens parasiete vermy. Beide sy Dorpers en Boerbokke lam drie keer in twee jaar. Hy probeer sy diere só teel dat hulle weerstand teen haarwurm bied. “Iets wat ek nog nooit ervaar het nie en wat nou kop uitsteek, is vrotpootjie weens die nattigheid.”
Hy probeer geharde ramme teel en glo dis waarom hy altyd kopers vir sy diere het. “My ramme staan nie in die krale en word gevoer nie, hulle word in die veld groot. Hulle moet hulself ten minste teen al die parasiete kan handhaaf.”
Sy vrou, Lottie, maan soms dat hy “te hard” is op sy diere, maar Victor glo dat hy die vrugte van sy streng seleksie pluk.

Kennis maak die verskil
PER TOEVAL IN DIE SKOURING
Omdat hy sy kennis oor dié ras wou opskerp, het hy verskeie kursusse by die SA Dorpersvereniging in die Noord-Kaap voltooi. Vandag is Victor ’n Dorperkeurder en -beoordelaar en dien hy op die bestuur van die Overvaal Dorperklub.
“Ek wou nooit ’n beoordelaar word nie. ‘n Seniorbeoordelaar en -inspekteur, Colleen van der Merwe, het my aangemoedig om een te word. Sy het verduidelik dat die bedryf mense met my kennis nodig het.”
Gevolglik het hy sy beoordelaarskursus drie jaar gelede voltooi. Hy het self ook al talle pryse en rosette met sy spogdiere ingepalm. Hoewel hy nog net op provinsiale vlak meegeding het, het hy nog elke keer ’n kampioen of reserwekampioen opgelewer.
Hy wou verlede jaar nasionaal meeding, maar COVID-19 het ’n stokkie daarvoor gesteek. Hy beoog om in Mei vanjaar sy staal op nasionale vlak te wys.
MOENIE NET OP VOEDING STEUN NIE
Victor glo ’n mens moet deeglike kennis van ’n dier se raseienskappe inwin. Hy het hoë agting vir oorlede prof Quintin Campbell, wat ’n erelid van die SA Dorpertelersvereniging was. “Hy het altyd gesê: ‘Teling is soos rugby – jy moet aanhou skrum. Hoe harder jy skrum, hoe meer sukses gaan jy behaal,’” vertel hy.
“Jy kan nie ’n dier se raseienskappe reg voer nie. Jy kan sy boude volmaak, maar aan sy voorkwart kan jy niks doen nie. As sy bouvorm reg is, het jy mos gedoen wat nodig is.”
Tog ontken hy nie die belangrikheid van voeding nie. “Hoewel ons baie meer weiding het as die ouens in die Noord-Kaap, is die gehalte nie so goed nie. Ons moet altyd iets ekstra gee om dieselfde klas lam te speen. Kruipvoeding is baie belangrik. Dan is jou speenskok ook nie so hoog nie en pas die lam sommer dadelik aan in die voerkraal.”
Die ideale Dorperram se kop moet manlikheid uitstraal, asook ’n goeie lengte lyf en goeie breedte hê. Hy moet sterk op sy bene staan en vol in vleis wees, met ’n goeie bedekking.
Hoewel daar ’n neiging is om Dorpers met klein of sonder horings te teel, het prof Campbell se navorsing getoon dat ’n ram met horings se vroulike nageslag gewoonlik meer melk het as dié van ’n ram sonder horings. “Die horings moet wel nie té swaar wees nie,” maan Victor.
’n Dorperooi moet ’n lang nek en kop hê, met goeie breedte agter en ’n goed aangehegte uier. “Daar is ’n geneigdheid om ooie te teel wat té breed is agter en té vol in die boud is, maar hulle is nie só vrugbaar nie. Ooie bepaal hul nageslag se gehalte. Dit geld vir ’n bok, skaap of bees.”
Jy moet ’n Boerbok verstaan
Hy het voorheen twee Boerbokstoeterye gehad en verkoop. “As jy ’n bok nie verstaan nie, word jy vinnig moeg vir hom,” glimlag hy. Hy wou egter hiermee ook welslae behaal en het in 2015 stoetramme en -ooie in die Noord-Kaap gekoop en die Victor Kruger Boerbokstoet geregistreer. Dit is tans 80 ooie sterk.
“Vir ’n ou wat vandag met Boerbokke wil boer, is dit ’n duur boerdery om van stapel te stuur.” Hy wys na ’n foto teen sy muur van ’n ooi wat in Singapoer opgeëindig het. “Die aanvraag is ontsettend groot – binnelands en in alle Afrikalande. Kopers is bereid om baie geld te betaal.”
Hy voeg by dat talle wildboere na Boerbokke oorgeskakel het omdat hulle nie meer goeie pryse vir wild behaal nie. “Die publiek het ook bewus geraak van Boerbokvleis se gesondheidsvoordele, omdat dit minder vet as lamsvleis bevat.”
Boerderypraktyke het verander, en Victor meen dat die smaak van die Boerbok na vore gekom het en veredeld is. “Die gehalte van Boerbokvleis is regtig baie hoog.”
Victor se eintlike doel met sy Boerbokke is bosbekamping. Sy bokke kry twee keer per dag mielies en lusern vir onderhoud voordat hulle veld toe gaan. Sy lampersentasie is tot 190% en die speenpersentasie is sowat 155%.
“Die ooi steek haar lam baie goed weg. Jy sukkel om hom in die hande te kry en die lam lê doodstil in die veld. As jy nie ’n Boerbok se geaardheid verstaan nie, kan jy lammers verloor.
“Vanaf geboorte tot sowat twee maande, moet jy jou hand op hulle hou omdat hulle geneig is tot diarree. ’n Skaaplam is sterker en kom vinniger aan die gang.
“Horings is ’n belangrike sleutel tot die seleksie van Boerbokke. Jy wil nie wye horings hê wat regop staan of teen die nek druk nie. Dit moet mooi gevorm en rond wees en langs die kop af loop,” beduie Victor.
Oogbanke moet sterk wees. “Hy moet nie enige ‘willegeit’ in sy oë hê nie. Dit moet hy nie vertoon nie,” voeg Victor by. Daar moet ’n effense dip op die toplyn wees omdat boerbokke gereeld op hul agterbene staan. Dié moet ook sterk wees. Die vel moet soepel wees, maar moet by die ramme talle voue vóór vorm.
Boerbokooie moet lang nekke hê, met mooi beenplasings agter en mooi gevormde uiers. “Boerbokke neig om te veel spene te hê. Ons soek twee enkelspene, of een aan ’n kant, losstaande. Dit is belangrik om ook na ramme se spene te kyk, omdat hulle hierdie eienskap oordra. Goeie pigment teen die fel Afrika-son is ook noodsaaklik. Die ore moet mooi en groot en die kake sterk wees.”
Victor is in November tot voorsitter van die Sentraal Binneland Boerbokvereniging verkies en dien ook op die raad van die SA Boerboktelersvereniging. Hy gaan eersdaags sy beoordelaarseksamen in Groblersdal aflê.
Siektebeheer
Op Wienan werk die siektebeheerprogramme streng volgens die verandering van seisoene. Victor probeer om sy kleinvee so min as moontlik te doseer. Slegs die helfte van sy skape is tans teen bloutong ingeënt weens die tekort aan entstowwe. “Ons dompeldip hulle nou maar. Ons span ook gewone paraffien en lampolie in en spuit dit twee keer per week oor hul koppe om muggies weg te hou.”
Boerbokke met diarree word met penisillien en Kyroligo behandel. Hoewel hy hulle teen bloednier inent, kry hulle dit nie sommer nie, ook nie Bloutong nie. “Met ’n tong in die kies gesê: ‘Hulle kan wel hartwater in ons omgewing kry’.”
Omdat slegs sowat 30% van ’n Boerbok se voeding gras is, sukkel hulle selde met haarwurm. Die kanse op diefstal van Boerbokke is ook skraler omdat hulle baie lawaai en groepsgebonde is.
Angusbeeste is sy gunsteling
Victor het ook sowat 100 teelkoeie wat uit Angus- en Simbrabeeste bestaan. Hy roteer ’n Brahmanbul tussen hierdie twee groepe en het ook ’n Angusbul wat hy by dié koeie sit, asook ’n Simmentalerbul wat die Simbras dek. Hoewel die Simbras swaarder kalwers speen, het hy ’n voorliefde vir die swart Angus. “Dit is nie goedkoop om ’n bul te koop nie en ek koop een bul per jaar.”
Hy het sy kampe heelwat verklein om die beskikbare veld beter te benut. Hy het Smutsvinger- en borseltjiegras aangeplant, maar die diere wei oorwegend op Savannaveld in die Mareetsane-omgewing. “Die skape wei agter my beeste en ek het twee tot drie kampe per jaar wat nie bewei word nie. Die gehalte van my veld het op hierdie wyse ook baie verbeter,” verduidelik Victor. Hy plant mielies op slegs sowat 50 hektaar en verhuur die res van sy lande.
Suid-Afrika se gehalte is uitstaande
Die feit dat heelwat produsente na kleinvee oorskakel, wys volgens Victor dat daar beslis ’n positiewe groeitendens is. “Mense moet eet. Kleinvee is ’n goeie belegging, ongeag of jy op ’n kleinhoewe of ’n plaas bly.”
Sy raad aan ander voornemende produsente is om eerder met minder diere van ’n goeie gehalte te begin as om geld op ’n klomp diere van ’n swakker gehalte te spandeer. Omdat Victor by ander produsente touwys geraak het, is hy passievol oor opleiding en ontvang hy gereeld opkomende boere op sy plaas om hulle touwys te maak oor goeie teeleienskappe.
Victor sê op plaaslike bodem word die oorsese aanvraag na Dorpers en Boerbokke onderskat. “Hulle vind soveel aanklank in die buiteland. Daar is nie dieselfde gehalte bokke soos wat Boerbokke lewer nie. Albei rasse is hier geteel en die telers kan hulself gerus ’n klop op die skouer gee.”
Hy meen dat telers fouteer deur eerder vir skoue te teel. “Op hierdie manier word die gehardheid van ’n Dorper ingeboet. Kopers meet ’n dier se gehalte aan sy status – die pryse wat hy op skoue gewen het – en nie aan sy nageslag nie. Baie van die diere in ’n skouring het nog nie eens ’n nageslag nie, maar kopers betaal baie geld vir skouprestasies. Dis ’n probleem wat uitgesorteer moet word.”
Victor het ’n kursus by Ron van der Merwe, ’n legendariese Dorperteler, voltooi. Dié het hom gemaan om nooit met sy teling tevrede te wees nie. “Die volmaakte bees, skaap of bok is nog nie gebore nie. Daar is altyd iets om te verbeter. Ek wil ’n sterk fondasie vir my nageslag lê om op te bou. Ja, ek wil getalle opbou, maar getalle van goeie diere.”