Almal weet hulle moet spaar, maar soms is dit moeilik om die kopskuif te maak. Elke persoon het sy eie drome of doelwitte wat hulle wil realiseer en om dit te bewerkstellig, moet daar gespaar word. Die drome en doelwitte moet die motivering agter spaar wees en waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
Inflasie is baie hoog en almal weet dat voedselpryse gevolglik ook hoog is. Die koste van ’n mandjie voedsel het vanaf Januarie 2022 tot Januarie 2023 met meer as 7,4% gestyg. Die mandjie bevat
26 voedselprodukte vir ’n huisgesin van vier mense met ’n lae inkomste.
Dan is daar boonop ook uitgawes soos brandstof, klere, medikasie, mediese fondse, skoolgelde, paaiemente en talle ander uitgawes wat ook drasties styg – om nie eens onvoorsiene uitgawes te noem nie. Dit maak dit uiters moeilik om elke maand ’n ekstra geldjie weg te sit. Daar is wel talle eenvoudige maniere om elke maand geld te spaar.
Spandering van inkomste
- ’n Eenvoudige strategie wat gevolg kan word om te verstaan hoe om jou inkomste te verdeel, is die 50/20/30-reël. Dit is ’n nuttige manier om te begin spaar. In hierdie reël gaan 50% van die inkomste na noodsaaklikhede, 20% na spaar oor die lang termyn en 30% na leefstylkeuses.
- 50%-noodsaaklikhede: Dit sluit in lewenskoste soos kos, klere, water en elektrisiteit, selfoonrekeninge, brandstof en paaiemente.
- 20%-besparings oor die lang termyn: Sluit in geld wat gespaar word vir noodgevalle, opvoeding, uittree-annuïteite en ander langtermynbeleggings.
- 30%-leefstylkeuses: Sluit alles in wat nie ’n daaglikse noodsaaklikheid is nie, soos restaurante, musiekoptredes, meubels, huisdekor en vakansies.
Geld van laasgenoemde 30% kan ook gebruik word om ekstra geld te spaar deur leefstylveranderinge te maak.
Maniere om geld te spaar
Die eerste en heel moontlik die belangrikste stap is om ’n spaarrekening oop te maak. Doen deeglike navorsing oor die verskillende opsies by verskillende banke. Moenie geld in ’n tjekrekening spaar nie – dit word gewoonlik net op onnodighede spandeer.
Begroting: Stel ’n begroting op en probeer daarby hou. Dit is nie altyd maklik nie, maar ander begrotingspligte kan makliker nagekom word as daar ’n spaarrekening is wat byvoorbeeld onvoorsiene uitgawes kan dek.
Outomatiese oordragte: Om ’n vaste bedrag dadelik outomaties oor te betaal nadat jy jou salaris ontvang het, soos ’n debietorder na ’n spaarrekening, kan baie help om oor ’n tydperk onwetend geld te spaar.
Spaar kleingeld: Spaarbussies is nie meer so doeltreffend soos in die verlede nie, maar deesdae kan kleingeld op ’n ander manier gespaar word. Sommige banke het die opsie om elke aankooptransaksie se waarde af te rond tot die naaste rand en die verskil dan na ’n spaarrekening oor te betaal, net soos sente in ’n spaarbussie gespaar sou word.
Beplan en doen navorsing voor aankope: Maak ’n lysie, verkieslik op ’n foon, want lysies op papier raak baie vinniger verlore as op ’n foon! Beplan vooraf wat benodig word en hou by die lys. Hou spesiale aanbiedings dop vir produkte wat benodig word. Nie alle produkte wat op spesiale aanbieding is, is noodsaaklik nie – daarom is voorafbeplanning belangrik.
Grootmaataankope: Indien moontlik, koop in grootmaat, want die koste per eenheid is laer as vir individuele produkte. Dit is moeilik om in ’n grootmaat-kooproetine te kom, maar sodra ’n paar maande verby is, sal dit randsgewys vir seker die moeite werd wees. Dit verhoed ook onnodige aankope, aangesien aankope minder gereeld gedoen word.
Aanlynaankope: Wees versigtig vir aanlynaankope – dit is dalk geriefliker en aanlokliker, maar dit motiveer ook onnodige spandering. Hou altyd die afleweringsfooi in gedagte sodat aankope nie duurder uitwerk as op ander plekke nie. Doen dus deeglik navorsing en maak dubbel seker dit is wel goedkoper as by instapwinkels.
Bykomende geld: Indien daar geld aan die einde van die maand oor is, moet dit ook gespaar word en nie onnodiglik gespandeer word nie.
Ten slotte
Spaar waar moontlik so gereeld as moontlik en dink baie mooi voordat geld onnodig gespandeer word. Die woorde van Benjamin Franklin is baie waar: Beware of little expenses; a small leak will sink a great ship.
Bronnelys
- Neidel C & Ayoola E, 2023. How to save money now (before you really need it). Beskikbaar by: https://www.nerdwallet.com/article/finance/how-to-save-money [22 Februarie 2024]
- Standard Bank. Beskikbaar by: https://www.standardbank.co.za/southafrica/personal/learn/personal-budgeting-pointers#:~:text=In%20this%20rule%2C%2050%25%20of,and%2030%25%20to%20lifestyle%20choices.&text=Necessities%20include%20your%20monthly%20living,Water%20and%20electricity [23 Februarie 2024]