Die voortdurende uitdaging vir die wetgewer is om die regte van okkupeerders te beskerm, maar om terselfdertyd behoorlike erkenning te verleen aan die regte, pligte en regmatige belange van grondeienaars.
Benewens die beskerming van besitreg wat in die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) gekodifiseer is, bepaal Artikel 26(1) hiervan dat elkeen die reg op toegang tot geskikte behuising het. Artikel 26(3) van die Grondwet bepaal verder dat niemand uit hul woning gesit mag word en niemand se woning gesloop mag word nie, sonder ’n hofbevel wat na oorweging van al die tersaaklike omstandighede toegestaan is – geen wetgewing mag arbitrêre uitsettings veroorloof nie.
Sedert die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, oftewel die ESTA-wet) op 28 November 1997 in werking getree het, is dit reeds vyf keer gewysig. Die sesde wysiging van dié wet het op 1 April 2024 in werking getree. Die doel van hierdie artikel is om ’n breë oorsig te gee oor die ESTA-wet, sowel as die jongste wysigings (die April 2024-wysigings).
Die doel van die ESTA-wet is om langtermynsekerheid van verblyfreg op landbougrond van sekere okkupeerders te fasiliteer, asook om die voorwaardes van verblyf sowel as die beëindiging daarvan te reël.
Die ESTA-wet is spesifiek beperk tot die beskerming van verblyfreg in die volgende omstandighede1:
- ’n Persoon (die okkupeerder) woon op grond wat aan iemand anders behoort, op grond van toestemming of ’n ander wetlik erkende reg.
- Die toestemming is gegee aan of die wetlik erkende reg van die okkupeerder het op of ná 4 Februarie 1997 ontstaan.
- Die okkupeerder se inkomste is R13 625 of minder per maand2.
- Die okkupeerder gebruik nie die grond (of beoog om dit te gebruik) hoofsaaklik vir industriële, mynbou, kommersiële of kommersiële boerderybedrywighede nie. (Let wel: ’n Persoon wat self die grond bewerk, hetsy alleen of met lede van sy of haar familie in diens, sal wel kwalifiseer vir beskerming onder die ESTA-wet).
- Die grond waarop die okkupeerder woon, is of was as landbougrond geklassifiseer, voordat dit as ’n dorpsgebied geproklameer of andersins erken is op enige tydstip ná 4 Februarie 1997.
Toestemming om op landbougrond te woon
Soos genoem, bied die ESTA-wet beskerming aan sekere persone wat met toestemming op landbougrond woon. Die wyse waarop hierdie toestemming gegee word, kan verskillende vorms aanneem, hetsy mondelings, skriftelik of geïmpliseerd.
Artikel 3(4) van die ESTA-wet bepaal dat sodra ’n persoon vir ’n tydperk van ’n jaar aaneenlopend en openlik op die grond gewoon het, die vermoede ontstaan dat die persoon sodanige toestemming gehad het, tensy die teendeel bewys kan word. Artikel 3(5) van die ESTA-wet gaan verder en bepaal dat sodra ’n persoon vir ’n tydperk van drie jaar aaneenlopend en openlik op die grond gewoon het, dit geag word dat die persoon daar woon met die kennis van die eienaar of persoon in beheer van die grond. Dit is interessant dat hierdie twee vermoedens nie geld ten aansien van die staat se grond nie.3
Die April 2024-wysigings voeg ’n definisie van “woon” by tot die ESTA-wet, naamlik om permanent op ’n plek te woon.4
Die belang van hierdie bepalings rakende vermoedens is dat dit die bewyslas skuif.
- Dus, indien ’n kwalifiserende okkupeerder vir drie jaar of langer op landbougrond woon, sal die grondeienaar moet bewys dat hy nie geweet het (of redelikerwys kon geweet het) dat die persoon op die grond woon nie.
- Indien ’n persoon vir ’n jaar of langer op landbougrond woon, sal die eienaar moet bewys dat daar nie toestemming was nie, aangesien die vermoede statutêr neergelê word dat die persoon wel toestemming gehad het.
Lesse vir landbougrondeienaars of persone in beheer:
Weet wat op jou grond aangaan.
Inspekteer jou grond gereeld.
Stel die nodige maatreëls in sodat jy gouer eerder as later bewus kan raak van persone wat jou grond betree of daar bly.
Besoekers
Okkupeerders wat kwalifiseer vir beskerming kragtens die ESTA-wet, het die reg om bona fide besoekers te ontvang op redelike tye en vir redelike tydperke. Die okkupeerder is egter verplig om te voldoen aan normale, redelike voorwaardes in verband met bona fide besoekers, wat deur die eienaar of persoon in beheer van die grond opgelê is, ten einde lewe of eiendom te beskerm, of om die onbehoorlike ontwrigting van werksaamhelde op die grond te verhoed.5
Die okkupeerder is aanspreeklik vir skade wat enige persoon mag ly as gevolg van enige handeling, nalatigheid of optrede van enige van sy of haar besoekers terwyl die besoeker op die grond is, indien die okkupeerder met die neem van redelike stappe die skade sou kon verhoed.6
Lesse vir landbougrondeienaars of persone in beheer:
Sluit ooreenkomste rakende verblyf met okkupeerders waarin die reëls rakende besoekers vervat word.
Stel die nodige maatreëls in plek sodat jy bewus is en rekord hou van okkupeerders se besoekers.
Familielewe
Die okkupeerder het die reg tot ’n gesinslewe in ooreenstemming met die betrokke familie se kultuur.7 Die hof sal steeds die regte van die okkupeerder en eienaar in hierdie verband balanseer op grond van wat as billik en regverdigbaar in die omstandighede beskou kan word.8
Die April 2024-wysigings voeg ’n definisie van “familie” by die ESTA-wet9, naamlik die volgende persone mits hulle regtens afhanklik10 is van die okkupeerder, wat op die grond saam met die okkupeerder woon:
- ’n Gade, hetsy in ’n gebruiklike verbintenis of andersins.
- ’n Kind, insluitend ’n aangenome kind of ’n kind onder pleegsorg.
- ’n Kleinkind.
- ’n Ouer.
- ’n Grootouer.
Lesse vir landbougrondeienaars of persone in beheer:
Sorg dat jy die nodige reëls in plek stel vir persone wat met jou toestemming op die grond bly, deur onder andere te bepaal dat familielede wat by die okkupeerder wil intrek toestemming van die grondeienaar benodig en dat ’n register van familielede wat daar woon bygehou word. Daar kan byvoorbeeld bepaal word wat die maksimum aantal persone is wat deur ’n woning geakkommodeer kan word.
Grafte
Indien daar ’n gevestigde praktyk met betrekking tot die grond bestaan, het die okkupeerder die reg om ’n afgestorwe familielid wat ten tye van sy of haar dood saam met die okkupeerder op die grond gewoon het, in ooreenstemming met hul godsdienstige of kulturele oortuigings te begrawe.11 Net so het die familielede van ’n okkupeerder die reg om die okkupeerder só te begrawe op die grond.12 Hierdie regte is op 5 Desember 2001 in die ESTA-wet ingeskryf.13
Voor die April 2024-wysigings het enige persoon die reg gehad om sy of haar familiegrafte te besoek en te onderhou, onderhewig aan enige redelike voorwaarde wat die eienaar of persoon in beheer opgelê het ter beskerming van lewe of eiendom of om die onbehoorlike ontwrigting van werksaamhede op die grond te voorkom. Met die April 2024-wysigings word hierdie reg nou uitgebrei deurdat ’n grafsteen, merk of simbole by die graf aangebring mag word, en rituele daar uitgevoer mag word.14
Gegewe die toevoeging van die definisie van “familie” kragtens die April 2024-wysigings, behoort hierdie reg nou beperk te wees tot gades, kinders, kleinkinders, ouers en grootouers van die afgestorwene. Dit is egter onseker of dit wel die bedoeling van die wetgewer was.
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Wees versigtig om ’n praktyk te vestig dat persone op die grond begrawe kan word.
Waar daar reeds só ’n praktyk gevestig is, maak seker dat slegs persone daar begrawe word soos in die wet bepaal.
Stel duidelike reëls wat regverdig en billik is rakende begrafnisse, die besoek van grafte en rituele.
Diere
Die eienaar of persoon in beheer van die grond mag ’n dier wat ongemagtigde gedeeltes van die grond betree, skut en verwyder, indien minstens 72 uur kennis aan die okkupeerder gegee is om die dier te verwyder en die okkupeerder versuim het om dit te doen.
Die eienaar of persoon in beheer is wel geregtig om gedurende hierdie 72 uur sodanige redelike stappe te neem wat nodig mag wees ten einde te verhoed dat die dier skade veroorsaak.15
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Daar is nie ’n outomatiese reg vir okkupeerders om diere op die grond aan te hou nie.
Indien daar sodanige toestemming verleen word om diere op die grond aan te hou, maak seker dat die reëls in ’n ooreenkoms vervat word en sorg dat dit konsekwent afgedwing word. Hou die reg uit om die vergunning terug te trek indien die reëls oortree word.
Neem die nodige redelike stappe om jou eiendom te beskerm, sodat diere wat oortree uiteindelik geskut kan word met 72 uur kennis aan die okkupeerder. Hou rekord van sulke kennisgewings aan die okkupeerder.
Toegang tot dienste
Die okkupeerder het die reg tot toegang tot sodanige dienste as wat uitdruklik of stilswyend ooreengekom is met die eienaar of persoon in beheer.16 Die okkupeerder mag nie ontneem word van toegang tot water, onderrig- of gesondheidsdienste nie.17
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Sorg dat die bepalings en voorwaardes rondom verblyfreg in ’n ooreenkoms beliggaam is en meld duidelik watter dienste nie die eienaar of persoon in beheer se verantwoordelikheid is nie. Let daarop dat daar wel toegang tot water moet wees, en dat die reg tot onderrig of gesondheidsdienste nie ontwrig of ontneem mag word deur die optrede van die grondeienaar of persoon in beheer nie.
ANDER REGTE
- Die okkupeerder is geregtig om pos of ander kommunikasie te ontvang.18
- Die eienaar of persoon in beheer van die grond mag nie ’n okkupeerder benadeel omdat hy sy regte kragtens die ESTA-wet uitoefen nie.19
INSTANDHOUDINGSPLIG
Kragtens die April 2024-wysigings, wat sekerlik verwelkom word, is die okkupeerder verplig om redelike stappe te neem om die woning wat hy of sy of familielede okkupeer in stand te hou.20
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Vervat die verpligting van die okkupeerder om redelike stappe te neem om die woning in stand te hou in die verblyfreg-ooreenkoms. Dwing hierdie bepalings konsekwent af, gebaseer op wat billik en regverdig in die omstandighede is.
Aanspreeklikheid van die okkupeerder
Benewens die potensiële aanspreeklikheid van die okkupeerder vir die handeling, nalaat of versuim van besoekers in sekere omstandighede, soos reeds na verwys, kan die okkupeerder aanspreeklikheid opdoen by oortreding van die bepalings van Artikel 6(3) van die ESTA-wet, naamlik:
- Die opsetlike en onwettige benadeling van ’n ander persoon wat die grond okkupeer.
- Die opsetlike en onwettige aanrig van skade aan die eienaar of persoon in beheer van die grond se eiendom.
- Betrokkenheid by bedreiging of intimidasie van ander wat grond of ander grond in die omgewing wettiglik okkupeer.
- Hulpverlening of die instaatstelling van ongemagtigde persone om nuwe wonings op die grond op te rig.
“Verbode optrede”: Nie-nakoming hiervan deur die okkupeerder skep geldige gronde vir die beëindiging van verblyfreg en uiteindelike uitsetting21, mits die okkupeerder natuurlik geleentheid gebied word om sy weergawe voor die hof te stel.
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Waarsku okkupeerders teen verbode optrede en verwys daarna in enige ooreenkomste met okkupeerders. Maak seker dat jy genoegsame bewyse het om verbode optrede te bewys en dwing dan hierdie bepalings konsekwent af.
Beëindiging van toestemming
Die toestemming om grond te okkupeer kan beëindig word, mits dit redelik en regverdigbaar is.22 Die volgende persone (“spesiale okkupeerders”) geniet spesiale beskerming in terme van die beëindiging van hul verblyfreg, naamlik:23
- Persone wat vir tien jaar en langer op die grond woon (of op enige ander grond van die eienaar) en 60 jaar en ouer is.
- Persone wat vir tien jaar en langer op die grond woon (of op enige ander grond van die eienaar), ’n werknemer of voormalige werknemer van die eienaar of persoon in beheer van die grond is, en nie meer kan werk nie weens gesondheidsredes, beserings of ongeskiktheid.
Indien ’n spesiale okkupeerder doodgaan, kan die gade of ander afhanklikes se verblyfreg slegs beëindig word indien daar minstens twaalf kalendermaande skriftelike kennis aan hulle gegee is om die grond te verlaat, tensy die gade of afhanklike hom skuldig gemaak het aan verbode optrede. Daar kan ooreengekom word op die bepalings en voorwaardes van verblyf in hierdie tyd.24
Persone wat reeds op 4 Februarie 1997 die grond met toestemming geokkupeer het, geniet ook spesiale beskerming.25
Vir die doeleindes van hierdie artikel, word daar nie in detail ingegaan op die omstandighede waaronder ’n uitsettingsbevel verleen sal word nie. Let egter daarop dat kragtens die April 2024-wysigings daar ’n verdere grond vir uitsetting ingevoeg is, naamlik indien dit billik en regverdigbaar is in geval waar die eienaar of persoon in beheer van die grond probeer het om die dispuut met die okkupeerder te skik by wyse van mediasie of arbitrasie, en die hof tevrede is dat die saak nie by wyse van mediasie of arbitrasie bygelê sal kan word nie. In só ’n geval behoort die hof ook ’n aansoek om uitsetting toe te staan (uitgesluit in geval van spesiale okkupeerders).
Wat die proses betref, is dit belangrik om daarop te let dat die beëindiging van die verblyfreg en die kennisgewing van die beoogde uitsetting moet plaasvind alvorens uitsetting kan geskied. ’n Okkupeerder mag slegs van grond afgesit word ingevolge ’n hofbevel.26
Kragtens die April 2024-wysigings moet die hof toesien dat die okkupeerder regsverteenwoordiging het, tensy die okkupeerder uitdruklik afstand gedoen het van staatsgesubsidieerde regsverteenwoordiging én die hof bepaal het dat geregtigheid steeds sal seëvier, ten spyte van die afwesigheid van regsverteenwoordiging.27
Nadat die verblyfreg beëindig is, moet die okkupeerder, die munisipaliteit van die regsgebied waarop die grond geleë is, sowel as die departementshoof van die Provinsiale Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, minstens twee maande skriftelike kennis ontvang van die beoogde uitsettingsaansoek en die gronde waarop die uitsetting gebaseer is.28
Die hof moet ’n proefbeampte versoek om binne ’n redelike tydperk aan die hof ’n verslag voor te lê oor die volgende aspekte:29
- Die beskikbaarheid van geskikte alternatiewe akkommodasie vir die okkupeerder.
- ’n Aanduiding van hoe die uitsetting die grondwetlike regte van die geaffekteerde persoon sal raak, insluitend die reg op onderwys vir kinders.
- ’n Uitwysing van enige onredelike ontberings wat ’n uitsetting tot gevolg kan hê.
- Enige ander aangeleentheid soos wat voorgeskryf mag word.
Artikel 15 van die ESTA-wet maak wel voorsiening vir dringende aansoeke vir die verwydering van ’n okkupeerder vanaf die grond, hangende die uitslag van ’n geding om ’n finale bevel te bekom in gevalle waar daar ’n werklike en dreigende gevaar van wesenlike besering of skade aan enige persoon of eiendom bestaan, indien die okkupeerder nie sonder versuim van die grond verwyder sou word nie, mits daar aan ander vereistes soos in Artikel 15 uiteengesit, voldoen word. In hierdie gevalle moet daar steeds vooraf redelike kennis aan die munisipaliteit en die provinsiale kantoor van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gegee word.
Indien die okkupeerder verbeterings op die grond aangebring het of gesaaides geplant het, kan ’n hof beveel dat die grondeienaar of die persoon in beheer van die grond die okkupeerder wat van die grond afgesit word, vergoed daarvoor, indien dit billik en regverdigbaar in die omstandighede is.30 In só ’n geval kan die uitsetting slegs uitgevoer word nadat die vergoeding betaal is.31 Die hof kan ook aan die okkupeerder ’n billike geleentheid toestaan om die strukture te verwyder of om die staande oes te bestuur, in te samel en te verwyder.
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Indien jy ’n okkupeerder se verblyfreg beëindig, maak seker dat jy genoegsame gronde het en dat die proses gedokumenteer word. Dit is beter om regsadvies in te win op hierdie tydstip as om later met die gebakte pere te sit.
Indien ’n okkupeerder doodgaan, rig so gou as moontlik die vereiste twaalf kalendermaande kennis aan die langslewende familielede wie se okkupasiereg sekondêr tot die okkupeerder se okkupasiereg was. Bespreek die kwessie met die langslewende familielede en gaan ’n ooreenkoms aan vir die voorwaardes van verblyf gedurende die twaalf kalendermaande.
Moenie die reg in eie hande neem nie. Nader die hof indien okkupeerders uitgesit moet word. Vanweë die tegniese aard van hierdie tipe aansoeke, is dit ’n gegewe dat ’n regsverteenwoordiger genader moet word.
Wees bewus van verbeterings wat deur okkupeerders aangebring word en sorg dat jy in die ooreenkoms met okkupeerders stipuleer watter verbeterings (indien enige) aangebring mag word. Sodra jy bewus word van ongemagtigde verbeterings, tree dadelik op om die situasie te beredder.
Verandering van eiendomsreg
Die regte van ’n okkupeerder en die toestemming wat aan ’n persoon verleen word om op grond te woon, is afdwingbaar teen opvolgende eienaars of persone in beheer van die grond.32
Lesse vir grondeienaars of persone in beheer:
Wees bewus daarvan dat indien jy landbougrond sou koop, die regte van okkupeerders ook op jou afdwingbaar is.
Handel spesifiek in die koopkontrak met okkupeerders.
Kry volledige inligting van alle okkupeerders.
Bou die nodige waarborge en vrywarings deur die verkoper van die grond in die koopkontrak in.
Ooreenkomste met okkupeerders
Grondeienaars en persone in beheer van grond is vry om ooreenkomste met okkupeerders aan te gaan. Daar kan egter nie in só ’n ooreenkoms afstand gedoen word van ’n okkupeerder se regte ingevolge die ESTA-wet nie.33 Daar kan egter wel byvoorbeeld met okkupeerders ’n ooreenkoms aangegaan word met voorwaardes van okkupasie en die tydperk van okkupasie.
Dit is dus moontlik om ’n verblyfreg vir ’n bepaalde tydperk te verleen. Die hof sal dan wel sulke ooreenkomste in ag neem, maar die howe is nie gebonde daaraan vir sover dit die regte van ’n okkupeerder ingevolge die ESTA-wet probeer beperk nie. Byvoorbeeld, die verlening van verblyfreg by ’n ooreenkoms vir een jaar aan ’n jong persoon van 25 jaar oud sal anders hanteer word as ’n soortgelyke ooreenkoms vir ’n persoon wat reeds langer as tien jaar op die grond woon en 60 jaar en ouer is (dit is ’n spesiale okkupeerder).
In laasgenoemde geval sal die hof hom waarskynlik nie steur aan die verstryking van die eenjaar-tydperk nie. Daar kan egter nie bestaande regte kragtens die ESTA-wet by wyse van die ooreenkoms weggeneem word nie.
Indien ’n okkupeerder vrylik en gewillig die grond ontruim, terwyl hy of sy bewus is van sy of haar regte ingevolge die ESTA-wet, sal sy of haar verblyfreg verval, en sal hy of sy nie geregtig wees op die herstel van sy of haar verblyfreg nie.34
Lesse vir grondeienaars en persone in beheer:
Gaan verblyfreg-ooreenkomste aan met alle okkupeerders waarin die nodige bepalings vervat word.
Waar moontlik, en indien omstandighede dit regverdig, onderhandel met okkupeerders om die grond te ontruim. Maak egter seker dat daar gedokumenteer word dat die okkupeerder in hierdie geval bewus is van sy of haar regte ingevolge die ESTA-wet.
Wet op Betreding (Wet 6 van 1959)
Niks vervat in die ESTA-wet is bedoel om die regte van ’n eienaar of persoon in beheer van grond voortspruitend uit die Wet op Betreding (Wet 6 van 1959) te beïnvloed nie.35 Artikel 1 van die Wet op Betreding bepaal dat enige persoon wat sonder die toestemming van die wettige okkupeerder van enige grond of gebou of gedeelte van ’n gebou, of indien daar nie ’n wettige okkupeerder is nie, sonder die toestemming van die eienaar of persoon in beheer van enige grond of gebou of gedeelte van ’n gebou, daardie grond, gebou of gedeelte van ’n gebou binnegaan, ’n misdryf pleeg.
Onwettige grondgrype was onlangs weer in die nuus toe okkupeerders oor ’n naweek grond rondom Lourierpark en langs Pellissier in die suide van Bloemfontein binnegegaan en onwettige strukture opgerig het.
Gevolgtrekking
Die belang van die beskerming van persone se verblyfreg word onderstreep deur die feit dat die ESTA-wet een van die eerste wette was wat gepromulgeer is ná die geboorte van Suid-Afrika se demokratiese bestel.
Die regte van okkupeerders bots egter voortdurend met dié van grondeienaars. Die ESTA-wet probeer ’n balans tussen hierdie regte skep. Die tameletjie lê daarin dat indien daar oorregulering plaasvind en die grondeienaar se regte nie genoegsaam gerespekteer word nie, die ESTA-wet juis die teenoorgestelde uitwerking kan hê, deurdat landbougrondeienaars meer en meer versigtig mag raak om okkupeerders op hul grond toe te laat. Aan die ander kant is dit ’n erkende reg om sekerheid van verblyfreg te hê.
Die staat het ’n groot en belangrike taak om dit met die nodige nuanses te bewerkstellig. Dis gewis ’n taai tameletjie wat presies die regte hoeveelheid bestanddele teen die regte temperatuur verlang.
1 Definisie van “okkupeerder” in Artikel 1 van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, oftewel die ESTA-wet).
2 Regulasie 2 van die Regulasies Kragtens die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997) (GNR.1632 van 18 Desember 1998, soos gewysig).
3 Artikel 3(6).
4 Definisie van “woon” in Artikel 1.
5 Artikel 6(2)(b).
6 Artikel 6(2)(b)(ii).
7 Artikel 6(2)(d). Die reg tot ’n gesinslewe is egter nie van toepassing in geval van enkelgeslag-akkommodasie wat voorsien is in hostelle wat voor 4 Februarie 1997 opgerig is nie.
8 Hattingh and others v Juta 2013 (3) SA 275 CC.
9 Definisie van “familie” in Artikel 1.
10 Volgens die nuut toegevoegde definisie van “afhanklik” in Artikel 1, verwys dit na ’n familielid wat die okkupeerder regtens verplig is om te onderhou.
11 Artikel 6(2)(dA).
12 Artikel 6(5).
13 Algemene Wysigingswet op Grondsake (Wet 50 van 2001), Staatskoerant nr. 22894, 5 Desember 2001.
14 Artikel 6(4).
15 Artikel 7(1).
16 Artikel 6(1).
17 Artikel 6(2)(e) en (f).
18 Artikel 6(2)(c).
19 Artikel 7(2).
20 Artikel 6(2)(dB).
21 Artikel 10(1)(a).
22 Sien artikel 8(1) en (6) vir die faktore wat in ag geneem word.
23 Artikel 8(4).
24 Artikel 8(7)(a).
25 Artikel 10.
26 Artikel 9.
27 Artikel 9(1).
28 Artikel 9(2).
29 Artikel 9(3).
30 Sien Artikel 13(1) vir die omstandighede wat deur die hof in ag geneem moet word.
31 Artikel 13(3).
32 Artikel 24.
33 Artikel 25(1).
34 Artikel 25(3).
35 Artikel 27.