• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Jun 17, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Smoor onkruid in die kiem voor dit te laat is

Gerdus Jansen van Vuuren, AgTech@NWK

15 May 2024
in Tegniek
Smoor onkruid in die kiem voor dit te laat is

Foto 1: Die effek van vroeë onkruidbeheer.
(Bron: https://www.pioneer.com/us/agronomy/early-season-weed-control-cropfocus.html)

Share on Facebook

Onkruidbeheer is van groot belang. Winteronkruidbeheer is die term wat gebruik word om te verwys na onkruidbeheer wat in die koel maande van die jaar plaasvind, tipies in die winter of vroeg in die lente. Dit is ’n praktyk wat daarop ingestel is om vroeë onkruide in die kiem te smoor en sodoende die onkruiddruk te verlaag.

Doeltreffende beheer kan met die regte toediening van onkruiddoder uitgevoer word omdat onkruide nog oorheersend klein en maklik beheerbaar sal wees.

Onkruide is ongewenste plante wat net soos enige gewas gebruik maak van vog, voedingstowwe en sonlig. Derhalwe is dit in direkte kompetisie met die aangeplante gewasse vir daardie hulpbronne. Dit kan dikwels betekenisvolle skade aan die gewas se opbrengs veroorsaak. Bykomend hiertoe kan onkruide ook ’n allelopatiese effek op gewasse hê, wat ’n chemiese onderdrukking deur die onkruid op die aangeplante gewas is.

Kompetisie tussen die onkruid en die gewas kan veroorsaak dat die gewas onder groot stres verkeer omdat die wortelspasie gedeel word, wat saam met allelopatie veroorsaak dat die plant nie presteer soos dit moet nie. Die opbrengs en algehele plantgesondheid ly hieronder.

Verskeie onkruide groei of oorleef in die koel maande van die jaar, waarvan die Conyza spp (skraalhans) en Senecio consanquineus (radiator-bossie) algemene voorbeelde van breëblaaronkruide is. Skraalhans is veral ’n sterk mededinger later in die seisoen en die radiator-bossie veroorsaak vermoedelik toksienprobleme vir opvolg­gewasse wanneer dit in die grond ingewerk word en dan verrot.

Figuur 1: Lugstrome veroorsaak deur ’n hommeltuig wat onkruiddoder versprei.
Bron: https://www.dji.com/global/t40

Onkruidbeheer

Winteronkruidbeheer vind gewoonlik plaas wanneer die gewasse naby gereed of reeds gereed is om te oes. Verskeie onkruidbeheer-pakkette is ook by chemiese maatskappye beskikbaar. Dit bestaan uit programme wat middels bevat wat op verskillende stadiums toegedien kan word of uit kombinasies van aktiewe bestanddele bestaan sodat onkruid doeltreffend beheer kan word.

Pakkette verskil soos wat die omgewingstoestande wissel en die koste daarvan kan ook beduidend verskil. Die pakkette kan byvoorbeeld twee voorafbespuitings gedurende die koeler maande en een voor opkoms ná plant insluit, wat dan beteken dat onkruide reeds voor die seisoen met ’n tipe burndown-bespuiting beheer word en daarna met ’n opvolgbespuiting bekamp word.

Chemiese onkruidbeheer wanneer die aangeplante kontantgewasse op ’n volwasse stadium is, wek egter kommer by gebruikers weens die potensiële inname van residuele onkruiddoder wat op die gewasse agterbly.

Oklahoma State University (OSU) het ’n studie in koring gepu­bliseer wat toon dat die gebruik van glifosaat min tot geen skade vir die mens inhou nie, omdat die fisiese graan nie in kontak met die onkruiddoder kom nie en die skede om die saad tydens die oesproses verwyder word. Toleransies van glifosaat in voedsel is ook bekend en studies met groenmielies (sweetcorn) het bewys dat die werklike vlakke baie laer is as die toegelate limiet.

Verder het die OSU bevind dat die “akute dodelike dosis 50” (Acute LD50) vir glifosaat baie hoog is, met 4 900 mg/kg in vergelyking met algemene stowwe soos tafelsout (3 320 mg/kg), kafeïen (192 mg/kg) en nikotien, waar die LD50 slegs 9 mg/kg is. Ten spyte van die studie is daar groot omstredenheid oor residuele onkruiddoder en die uitwerking daarvan op die verbruiker.

Verskeie studies toon dat onkruiddoders soos glifosaat wel karsinogenies is/kan wees en dat dit ’n negatiewe uitwerking op gesondheid en die omgewing het. Studies meld ook dat verdere studies gedoen word om genoeg data in te samel vir konkrete antwoorde en bewyse.

Vir die beste beheer van winteronkruid moet verseker word dat die volgende nagekom word:

  • Tydige beheer van jonger onkruide.
  • Identifikasie van onkruide moet korrek geskied en die toepas­like onkruiddoder moet gebruik word.
  • Beplanning moet in plek wees en onkruiddoders met ’n residuele uitwerking moet in gedagte gehou word om moontlike skade aan opvolggewasse te verhoed.
  • Kry ’n toepaslike manier van toediening, soos ’n hommeltuig, om doeltreffende beheer toe te pas.
  • Evalueer die onkruide ná ’n tydperk om die doeltreffendheid van die beheerprogram te bevestig.

VOORDELE

Sommige voordele wat uit tydige winter/vroeë-seisoen onkruidbeheer verkry word:

  • Minder kompetisie (fisies en allelopaties).
  • Verminderde onkruidsade in die saadbank.
  • Verminderde stremming op gewasse.
  • Verminderde uitwerking op die opbrengs.
  • Vermindering van skadelike organismes soos snywurms, wat onkruide dikwels as gasheerplante gebruik.

Metodes van onkruidbeheer

Verskeie metodes van onkruidbeheer bestaan. Fisiese beheer is die beheer van onkruide met ’n implement wat die onkruid fisies versteur of uit die grond verwyder. Hierdie metode is voordelig omdat dit selfs weerstandige onkruide beheer – hoewel dit ’n stadiger praktyk is. Die alternatief is chemiese beheer deur die gebruik van onkruiddoders.

Chemiese beheer is vinniger, maar dit neem tyd vir volle werking en word maklik deur omgewingstoestande beïn­vloed. Aangesien hierdie tipe bespuitings geskied wanneer daar nog gewasse op die land is, moet ’n hoogloopspuit of ’n hommeltuig gebruik word. Die gewas self onderskep die spuitmiddel en kan sodoende die doeltreffendheid daarvan verlaag. Val-arms moet soms gebruik word om die onkruiddoder op die teikenplant te kry. Daar is ook ’n risiko van fisiese skade en oesverliese wanneer die spuit deur die land beweeg.

’n Ander opsie – aan die voorpunt van landboutegnologie – wat onlangs na vore gekom het, is om chemiese onkruiddoders met behulp van ’n hommeltuig toe te dien. Die gebruik van ’n hommeltuig is baie meer effektief omdat die wind wat deur die hommeltuig veroorsaak word die onkruiddoder deur die gewasse tot op die on­kruid forseer (Figuur 1). Die onstuimige lugbeweging van die hommeltuig het ook tot gevolg dat die onkruiddoder selfs op die onderkant van die blare beland.

Deur van ’n hommeltuig gebruik te maak, word die on­kruiddoder se kontak met die teikenplant dus verhoog. Die doeltreffendheid van die onkruiddoder word sodoende verhoog en fisiese skade aan gewasse kan vermy word.

Samevatting

Tydige winteronkruidbeheer kan ’n groot positiewe uitwerking op die produksie van gewasse tot gevolg hê. Goeie beheermaatreëls, wat onder andere die geskikste toedieningsmetodes en die korrekte keuse van die chemiese program insluit, verseker goeie onkruidbeheer.

Beheer onkruide suksesvol en verseker só die beste kans op winsgewende produksie van kontantgewasse.

Bronnelys

  • Botha C, 2010. Common weeds of crops and gardens in Southern Africa, Second Edition: ARC-Grain Crops Institute
  • Craven M, 2024. Effective control of winter weeds is important: ARC-Grain Crops. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://www.arc.agric.za/Agricultural%20Sector%20News/Effective%20control%20of%20winter%20weeds%20is%20important.pdf [29 February 2024]
  • Post A, Edwards J & Carver B, 2017. Glyphosate use as a pre-harvest treatment: Not a risk to food safety. https://extension.okstate.edu/fact-sheets/glyphosate-use-as-a-pre-harvest-treatment-not-a-risk-to-food-safety.html [5 March 2024]
Tags: Mei/Jun 2024
Previous Post

Dié rampokker rig groot skade aan

Next Post

Bekalking lei tot beter groei


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In