Kleurvol. Warm. Kreatief. Tuis. Dit is enkele van die woorde wat gebruik kan word om Halfpad Handelshuis op die N14 naby Barberspan én sy eienaar te beskryf.
Sandra van Vuuren (57) het die moderne padstal, Halfpad Handelshuis, se deure op 7 November 2023 geopen. Dit raak ’n gewilde plek vir reisigers, verkoopsverteenwoordigers en sommer net produsente van die omgewing om te stop.
Hier kan jy aansit vir heerlike ligte etes soos vars roosterkoeke of pannekoek (dik en pofferig soos dié van die gewilde Harrie’s Pancakes), pap en kaiings, asook Deluxe-koffie. Vir die res van die langpad kan jy droëwors, biltong en ander vleishappies koop – boonop van Kameeldoringvlakte Boerdery net oorkant die pad.
Die een muur van die winkel se binnekant is donkerrooi geverf en ’n aangrensende muur groen. “Ek hou van kleur en ek hou van mooi,” verduidelik Sandra. Daar is ’n kaggel waar gaste kan saamdrom en kuier in die winter, en op ’n stoel daar naby lê twee gemmerkatte knus teen mekaar en slaap. Dit is ’n treffende vermenging van oud en modern – met erfstukke waarop fyn breekware pryk en tafels met moderne, prettige dekor.

’n Ryk geskiedenis
Hierdie tipe padstalle is volop langs roetes in die Noord- en Wes-Kaap. “Ek is al so moeg vir die ‘geloof, hoop, liefde’-goedjies,” glimlag Sandra. “Ons almal het dit in ons huise, daarom wou ek iets anders vestig,” gesels sy.
Sy is ’n weduwee en van Hoedspruit afkomstig, waar die gesin alreeds 27 jaar lank boer. Marius Freeman van Kameeldoringvlakte Boerdery was lank in Mbombela (Nelspruit) woonagtig, en hy en Sandra is deur ’n gemeenskaplike kennis aan mekaar voorgestel. Hy het toe reeds naby Delareyville geboer.
“Ek het vir Marius gesê dat ’n man my nie gaan onderhou nie en dat ek moet werk,” sê Sandra ferm. “As ek hiernatoe sou skuif, sou ek iets móés doen. Ek kon nie by sy boerdery betrokke raak nie, omrede sy kinders saam met hom boer.”
Sandra het nog altyd daarvan gedroom om ’n padstal te hê. Met die kuiers by Marius hier in Noordwes, het sy die gebied deurgekyk vir ’n geskikte ligging.
Die 14 ha waarop die gebou staan, het lank aan ’n sakeman, Muhammed Gulam, behoort. Hy was jare lank ’n algemene handelaar op hierdie einste perseel. Sandra het met hom begin onderhandel, maar hy wou aanvanklik net eers verhuur. Sy het in Maart 2023 met opknappings begin en Muhammed het vier maande later die grond aan haar verkoop.
“Hierdie plek het ’n ontsettende ryk geskiedenis,” beduie Sandra. “Elke keer as hier ’n ou Delareyviller instap, vertel hulle staaltjies van daardie era.”
Die opknappings was uitdagend. Die gebou het lank leeg gestaan en was “kniediep van die skaapmis”. Dit is weggery. Sandra moes drie maande wag vir die elektrisiteit om weer aangesluit te word. Die plafonne en vloere is heeltemal oorgedoen, mure is aangebou en rakke is ingesit. “Dit is baie ruim en groter as wat ek aanvanklik gedink het. Toe ek die rakke opsit en voorraad bestel, het ek eers besef van watter volume ek praat.”
Met die intrapslag
Sandra se suster, wat ’n koffiewinkel in Middelburg bedryf het, moes die deure daarvan weens die Covid-19-pandemie sluit. Sy is baie kreatief en het onder andere Sandra se spyskaarte ontwerp. Baie van die dekor en ander items is van dié winkel afkomstig. “Hierdie is ’n saamgeflansde winkel met iets van almal.”
Sy beduie na ’n pragtige ou kas wat Muhammed in sy winkel gebruik het, asook ’n ou kombuiskas wat uit die stoor van wyle Johan Schutte afkomstig is. Binne-in word mooi koppies en pierings uitgestal.
“Die skoppelmaai daar buite… Die vrou by wie ek my hare laat sny se kind is hoërskool toe. Haar man het dit hier aangebring en ingesit. Ander mense se kinders het twee hase gehad. Ook hulle is hoërskool toe en die hase is nou hier in ’n hok.”
Haar dogter herinner haar gedurig daaraan dat sy nie net items kan koop waarvan sy hou nie. “Om daardie rede het ek nie volume nie. Ek hou nie daarvan om 24 van een ding te koop nie. Ek het eerder 20 verskillende goedjies.”

Kos – ’n lus vir die oog én die tong
Al is Sandra self nie lief vir koffie nie, wou sy goeie koffie aan klante beskikbaar stel. Sy het op Deluxe, ’n handelsmerk al die pad van die Kaap af, besluit. Marius het haar oorreed om aansitetes deel van die ervaring by Halfpad Handelshuis te maak en sy het op tradisionele kos soos roosterkoek en pannekoek besluit.
Sara het in die kombuis op Marius se plaas gewerk, maar Sandra het geweet sy is vir groter dinge bestem. John, oorspronklik van Delareyville, het in die houtbedryf in Pretoria gewerk, maar teruggekeer huis toe nadat die onderneming weens die pandemie skipbreuk gely het. Hulle is albei vir barista-opleiding gestuur en maak die koffie, cappuccino’s en latté’s op die spyskaart.
Sandra se sisie vir die padstal was ‘n reuseverskeidenheid koek, maar sy het vinnig besef dat dit nie was wat haar mark wou hê nie. Dit het tot baie vermorsing gelei. Tans is daar altyd ’n sjokoladekoek beskikbaar, wat Sara self bak (Sandra se ma se resep), en dan ’n rooifluweel- of vlakoek. Daar is ook ander fyngebak wat weekliks verander word.
Hoë gehalte kos is vir Sandra belangrik. “Jy moet vandag dieselfde gehalte hier eet as wat jy drie weke gelede geëet het.” Die roosterkoek word elke oggend vars gebak en Marius het spesiaal vir haar ‘n drukker gemaak waarmee die deeg in ewe groot stukke afgedruk word voor dit oor die kole gaar word.
Sy het ’n groot groentetuin net buite die gebou gevestig, waarvan die opbrengs gebruik word om slaai te maak en onder andere die quiche te bak. Nie alle reisigers het egter die tyd om aan te sit vir ’n ete nie. Hulle is veral lief vir die boepensbroodjies (jaffles) en Sandra verkoop tot 30 per dag.

HOËGEHALTE-VLEIS IS ’N GROOT TREKPLEISTER
Marius het ’n Santa Gertrudis-stoet en ook kommersiële diere. Sandra is self ook ’n knap beesprodusent met haar eie kudde Santas op die plaas waarmee sy skou. Diere word by die abattoir op Stella geslag en die vleis word op die plaas in ’n slaghuis, wat spesiaal daar ingerig is, verwerk.
Klante kan kies tussen biltong, droëwors, rissiehappies en gedroogte spekrepies. Daar is ook wors, beesstert, skaapstertjies, T-bene en skaapkoppe beskikbaar. “Marius maak die beeste vet en dis wonderlik om te weet dis jou eie vleis op jou rak. Dit maak ’n groot verskil,” vertel Sandra.
Inwoners van die omgewing kom laai hul botter en konfyte hier af vir Sandra om te verkoop. Dit was vir haar belangrik om ’n afsetpunt vir vrugte vanaf Hoedspruit te skep. Sy gaan minstens een keer per maand na dié Laeveldse dorp en keer dan met ’n bakkievrag vol vrugte terug na Noordwes.
Die padstal het ’n bepaalde ritme
Sandra vind dat die meerderheid klante van Maandae tot Donderdae kom aansit vir vinnige koffie-afsprake. Hulle sal nie sommer aansit vir ete nie. “Hulle het ’n bepaalde paadjie wat hulle loop,” beduie Marius. “Hulle sal na die yskaste stap vir koeldrank en dan ’n bestelling kom deurgee vir biltong voordat hulle loop en na die items op die rakke kyk. Dan kom kry hulle hul koffie en jaffles by hierdie rak en stap uit.”
Vrydae raak dit besig soos wat mense vanaf hul werk by die myn in Kathu in die Noord-Kaap terugkeer na hul huise in Noordwes en Gauteng. Reisigers vanuit Namibië neem dan ook toe.
Plaaslike produsente ondersteun hulle graag. “In stroop- en planttyd stuur hulle die vroue om roosterbrood, pap en kaiings te koop. Die gerief is vir almal lekker. Hulle pak nie eens meer scafting nie, maar kom eet hier.”
Sandra probeer so ver as moontlik gereelde klante se gunstelinge akkommodeer. “Ek het ’n klant wat byvoorbeeld inkom vir sy peppersteak pie en Stoney. Nie ’n blikkie nie, maar ’n botteltjie. As ons iets nie het nie, weet Sara al om dit neer te skryf sodat ons kan kyk hoe ons kan help.”
Marius voeg by: “’n Ander ou wat hier verbyry, kom koop al die wors en gaan deel dit uit vir sy kinders in Pretoria. Ons vleisafdeling groei.”
Mieliestronke, ook bekend as Noordwes-charcoal, verkoop baie goed. “Ons kan nie voorbly nie! Hier het nou die dag ’n ou gekom en gesê hy soek alles,” vertel Marius.
Halfpad Handelshuis is ook Saterdae en Sondae oop, en is dan veral gewild onder inwoners van die omgewing.

Onbekende terrein
Sandra erken dat dit ’n groot waagstuk was om ’n padstal in hierdie geweste oop te maak. “Ek het oopgemaak sonder om te weet of dit gaan werk of nie. Daar was baie lessies wat ons baie vinnig moes leer,” lag sy. “Dit is vir ons almal ’n vreemde omgewing en ons leer elke dag iets nuut.”
Tog is die padstal se ligging uitstekend en ’n groot rede vir die sukses. Sy het gewag tot die kombuis goed geolie was en toe advertensieborde opgesit om reisigers te lok om te stop. “Ek het vir die kinders gesê dat ek die plek sou verhuur as dit nie werk nie. Ek is nie pessimisties nie. Wie nie waag nie, wen nie!”
Sandra beskryf die omgewing se mense as “ongelooflike hartsmense” wat haar onmiddellik laat tuis voel het. Sy vertel van Johan en Bertie de Wet, wat ook lank met Santa Gertrudis-beeste geboer het voordat hulle verlede jaar na Mosselbaai verhuis het. Hulle het haar aan baie van die omgewing se inwoners voorgestel.
“Ek en tannie Bertie het van dag een af gekliek. Sy het dit haar missie gemaak om my aan almal voor te stel. En almal het hierdie warmte en gemaklikheid. Dit is vir my geen aanpassing om hier te bly nie.”