
AgriSA herdenk 120 jaar van leierskap in die Suid-Afrikaanse landboubedryf. Terselfdertyd vier Suid-Afrika 30 jaar van demokrasie en die ontwikkeling en groei wat die afgelope drie dekades behaal is.
“Vanjaar se kongres verteenwoordig ’n belangrike geleentheid om na te dink oor die belêbaarheid van die voedsel-ekonomie en landbou se rol in die handhawing van voedselsekerheid,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.

Sedert die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika en die deregulering van die landbousektor het die land geweldige groei gesien. “Oor die afgelope 20 jaar was die landbousektor se gemiddelde groeikoerse ver bo die res van die ekonomie.”
Ten spyte van die wisselvalligheid wat inherent is aan landboumarkte en politieke onsekerheid, het Suid-Afrika byvoorbeeld die afgelope paar jaar rekordbeleggings in verkope in landboutoerusting en innovasie gesien. Dit word geïllustreer deur die gemiddelde toename in mielie- en sojaboonopbrengste, wat die afgelope dekade met 30% gestyg het.
Dit is ’n aanduiding van produsente se veerkragtigheid en toewyding om wêreldwyd mededingend te bly terwyl hulle ’n komplekse plaaslike landskap navigeer. “Landbou is ’n nasionale bate waarvan alle Suid-Afrikaners trotse bewaarders moet wees. Ons het almal ’n rol om voedselsekerheid te verseker terwyl ons ons natuurlike hulpbronne beskerm.”
AgriSA is gereed om ’n leidende rol te speel om ’n welvarende landbousektor in Suid-Afrika te verseker.







