Vandag se wêreldbevolking van 8 miljard mense gaan teen 2050 groei tot ‘n verbysterende 10 miljard mense waarvan 68% hulself in stede gaan bevind. Daarom gaan “die koöperasie (landboumaatskappye soos NWK) hul tentpenne moet stywer span en groter maak”. Dis die mening van Johann Kotzé – uitvoerende hoof van Agri SA, wat die afgelope Vrydag Agri NW se jaarkongres op Lichtenburg toegespreek het.

Suid-Afrika se voedsel moet meer bekostigbaar word
Johann vind dit skrikwekkend dat mense steeds nie elke dag kan eet nie. Soveel as 3 miljard mense van die 8 miljard in die wêreld, is arm en leef van die “hand na die mond”. Tot 700 miljoen mense leef in “uiterse armoede” en weet nie waar “môre se kos vandaan gaan kom nie”.
“Dit maak die verantwoordelikheid wat na produsente se kant toe kom, geweldig groot,” het Johann benadruk.

Verbruikers raak toenemend bewus van die impak van klimaatsverandering op die volhoubaarheid van hulpbronne en soek daarom voedsel wat meer verantwoordelik geproduseer word. “Dit is nie noodwendig ‘n doodskoot as ons daarby aanpas nie en tegnologie is daarom geweldig belangrik. Boere in Suid-Afrika verstaan die risiko, maar het nie ‘n regering wat hulle subsideer nie.”
Hoewel voedselsekerheid in Suid-Afrika een van die bestes in Afrika is, bly bekostigbaarheid ‘n stremmende faktor. “Tot 40% van Suid-Afrika se inwoners kan nie kos koop ‘soos ek en jy nie’ en wat méér kommerwekkend is, is dat 40% van die kos wat ons produseer as afval opeindig,” het Johann gesê.
Teen volgende jaar gaan daar 1,45 miljard mense in Afrika wees waarvan 50% jonger as 18 jaar oud sal wees. “Ons het dus ‘n geweldige jong bevolking wat ‘n wesenlike impak op landbou het, maar ook vele geleenthede vir die bedryf inhou.”
Johann het benadruk dat die miljoene kleinboere in Afrika baie bydra tot voedselsekerheid en dus ‘n groot bate vir die land is.
Agri SA beskou die nuwe regering van nasionale eenheid as “een van die beste plekke in ons land se geskiedenis”, omdat die hele Suid-Afrika nou ‘n verantwoordelikheid het om dit te laat werk.
Johann het egter gewaarsku dat, hoewel Suid-Afrika goeie groei in sy bruto binnelandse produk toon, die land nie noodwendig organiese groei ervaar nie.
“Landbouers gaan anders moet begin dink. Die grootste krisis vandag is hóé ons oor landbou praat. Dit is ook nie dit wat in die media oor die bedryf geskryf word wat problematies is nie, maar hoe ons om braaivleisvure oor landbou praat.
“Ons jongmense leer Amerika hoe om te boer, want ons kinders het hoop verloor. Ons moet eerder onsself stimuleer sodat ons kinders sal wil terugkom.”
Hy het benadruk dat vandag se wêreld kompleks is en dat landbouers hierdie kompleksiteit moet bestuur. “Jy kan nie sê ons moet teruggaan en die regte ding doen nie. Wat is die regte ding? Jou wêreld het verander. Wat die regte ding vir jou pa was, is nie noodwendig die regte ding vir jou nie. Jy moet kan aanpas binne die omgewing waarbinne jy is, anders gaan jy dit nie maak nie.”
Johann het bywoners van die kongres aangemoedig om ‘n hoër doel te kry om op te fokus. “Ons as Agri SA het gesê dit gaan nie oor ons nie, maar oor voedselsekerheid. Daarom fokus ons op wat met landbou in Suid-Afrika moet gebeur. Is daar genoeg kos in Suid-Afrika en gaan ons ‘n rol speel in ons buurlande wat nie self kos kan produseer nie?”
Hy sê sukses in landbou hang af van leierskap en ‘n gemeenskaplike doel waarna die sektor moet streef. “Produsente baklei dikwels met uitdagings soos politiek en droogte en moet eerder leer om daarmee te dans. Daar sal altyd uitdagings in landbou wees en jy moet sterk en dapper wees om te kan boer. Let’s dance in faith with the winds of change.”
Leer uit die geskiedenis
Jaco Minnaar, president van Agri SA, het gesê dat Suid-Afrikaners vir té lank afhanklik van die staat was, vir die regering gekyk en gewonder het waarheen hulle gaan.

“Ons moet verantwoordelikheid vat vir ons toekoms en dit bou. Die land het ‘n nuwe minister van landbou en skielik met die regering van nasionale eenheid is daar hoop in die land en hoop in landbou. Net die mense het verander, niks het nog fisies verander nie. Dis ‘n besluit wat ons self geneem het om hoop te hê,” meen Jaco.
Hy het bygevoeg dat dit goed is om na die geskiedenis te kyk, maar het kongresgangers genoop om nie daarin te leef nie. “Dit hou baie van ons boere en die potensiaal wat daar is, terug. Leer uit die geskiedenis, maar bou daarop.”
Jaco het produsente aangemoedig om blootstelling te kry en te kyk hoe hul kollegas sake doen en moeilikhede oorkom. “Vat dit terug na jou omgewing en gee aan medeboere om uit hul groewe te kom en ‘n toekomsvisie te hê. Kyk vorentoe en bepaal self waarheen jy gaan.”
Samewerking is tot almal se voordeel
Pieter Kleingeld, nuwe groephoof- finansiële beampte van NWK, het met Johann saamgestem dat landbouprodusente hulself in ‘n hoogs veranderende en veranderlike besigheidsomgewing bevind.

“Daar is daagliks aanvalle op ons geloof en waardesisteme waarbinne ons moet funksioneer en ons nageslag moet voorberei op ‘n toekoms. Die wêreld word tans gekenmerk deur konflik – nie net gewapende konflik nie – maar konflik op sosiale en ekonomiese vlak waar daar armoede is.”
Hy meen Suid-Afrikaanse produsente moenie mekaar as kompetisie beskou nie, maar eerder internasionale kollegas wat moontlik ‘n gunstiger klimaat het of beter ondersteuning van die staat geniet. “Dit is daarom belangrik dat ons saamwerk tot voordeel van ons eie besighede.”
Pieter het verwys na NWK se ontstaan 115 jaar gelede toe tegnologie en bewerkingsmetodes baie primitief was. Vandag het die maatskapy ‘n toenemende fokus op tegnologie en sy toepassing – NWK Online – spog met meer as 100 gratis funksies.
“Om suksesvol te wees moet jy uit jou gemaksone beweeg en die werk insit. Ons as landbouers en landboumaatskappye is gewoond daaraan. Ons doen dit al vir 115 jaar.”
“As jy bang is, is jy nie deel van die oplossing nie”

Die motiveringspreker, Gavin Sharples, het produsente aangemoedig om hulself as’t ware omver te werp, eerder as wat hulle toelaat dat eksterne faktore dit doen. “Baie mense doen dinge nog op dieselfde manier, al het die wêreld verander. Jy moet gesteur en versteur word. Anders is daar nie groei nie,” het hy gesê.
Samewerking en deurlopende kommunikasie is volgens Gavin belangrik om krisisse die hoof te bied. “Wanneer daar ‘n probleem is, wil jy die een wees wat die hardste werk. Ons is tans in die middel van golf 24 (2024) en dit is kalm in vergelyking met golf 25 wat kom. Ons moet nou in die boot klim en met mekaar praat.
“As jy bang is vir wat voorlê, is jy nie deel van die oplossing nie.”
Hy het die akroniem “RAFT” voorgestel om uitdagende tye te takel.
- Die eerste stap is om jou gedrag reg te stel en te belyn met jou morele en waardes (rectitude).
- Die regte houding (attitude) is belangrik, asook ‘n dapper houding te midde van toenemende druk (fortitude).
- Laastens is veerkragtigheid (tenacity) ook onontbeerlik.
“Ons het mense nodig om na vore te kom en met mekaar te praat en as julle verskil, praat nóg.”
Boeta du Toit roep Noordwes vaarwel
Ná 46 jaar se betrokkenheid by georganiseerde landbou, tree Boeta du Toit uit as hoofbestuurder van Agri NW. Hy en sy vrou gaan hul in George in die Wes-Kaap vestig.
Hy is by die kongres met ‘n eretoekenning vereer. “As landboukundige van formaat getuig Boeta se optrede en diens van bewese kundigheid, gerugsteun deur sy inherente eienskappe van betroubaarheid en lojaliteit.
“Met die ondersteuning wat hy bied en inisiatiewe wat hy neem, ontwikkel en groei Agri NW op elke spesialiteitsterrein van krag tot krag,” lui die toekenning.
Willem de Chavonnes Vrugt is weer tot president van Agri NW verkies, terwyl Gideon van Zyl herverkies is tot visepresident en Daan van der Merwe ook tot visepresident verkies is.