Verkleurmannetjie “trap suutjies” by NWK se hoofkantoor
NWK se hoofkantoor het sy eie verkleurmannetjie! Personeel wie se kantore op die binnehof uitkyk, is bevoorreg om dié reptiel van tyd tot tyd te gewaar. Hulle het een oggend foto’s geneem toe die diertjie meteens ’n naaldekoker gevang en verorber het. Hy het ’n paar dae later begin vervel en personeel het hul ook hieraan verwonder.
Tot vroeg in 2022 was daar volgens bronne slegs 19 spesies verkleurmannetjies in Suid-Afrika. Dié getal het intussen verander, met drie nuwe spesies wat bygevoeg is en die totaal na 22 neem. Van hierdie spesies behoort 19 aan die Bradypodion-familie – beter bekend as dwergverkleurmannetjies.
Likkewaan reis saam
Die South African Wildlife Rehabilitation Centre (SAWRC) het in Februarie ’n “noodkreet” van iemand ontvang wat van ’n wegbreek na Marloth Park in Mpumalanga teruggekeer het en ontdek het dat hulle ’n vreemde reisgenoot na Gauteng teruggebring het. ’n Klein Suid-Afrikaanse likkewaan – ’n rock monitor (Varanus albigularis) – het op een of ander manier in die voertuig geklim. Hy is ondersoek en het hy die nodig hidrasieterapie ontvang en sal eersdaags in sy natuurlike habitat vrygelaat word. Vroulike likkewane weeg sowat 5 kg, terwyl die mannetjies tot 17 kg kan weeg.
Uile se manewales
Die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing is toegewy aan die beskerming van uile en moet gereeld van dié geveerdes gaan red. Hierdie nonnetjiesuil het amper met die bus Pofadder toe gereis. Gelukkig kon hy by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park ’n “kaartjie” na die uilreddingsentrum kry. Sodra die span daar seker gemaak het dat die reisiger gesond is, sal hy weer vrygelaat word.
Hierdie nonnetjiesuile het hul intrek geneem in ’n groot verspreidingsentrum in Johannesburg. Hulle moes in ’n meer geskikte gebied hervestig word omdat hul nagtelike aktiwiteite die bewegingsensor-alarms heeltyd laat afgaan het.
Boom van die jaar
Het jy geweet dat die boom van die jaar die melkhoutboom (Sideroxylon inerme) is? Dit staan ook bekend as die melkbessie of witmelkhout. Dié bome en struike is blaarryk, groei meestal naby die see en leef lank. Die vrugte is vlesig, persswart en sowat 1,2 cm in deursnee. Hulle is eetbaar, maar nie almal is smaaklik nie. Melkhoutbome is beskermd in Suid-Afrika en geen deel van só ’n boom mag afgekap word sonder toestemming van die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing nie.
Bekende witmelkhoutbome is:
- Die Poskantoorboom in Mosselbaai is deur die vroeë Portugese ontdekkingsreisigers as ’n poskantoor gebruik. Dit is geleë op die terrein van die Bartolomeus Dias-museumkompleks in Markstraat.
- Die Verdragsboom is in Treaty Road, Woodstock, waar daar op 10 Januarie 1806 ’n vredesverdrag ná die Slag van Blaauwberg onderteken is. Die terrein is in 1967 tot ’n gedenkwaardigheid verklaar.
- Die Rhenosterfontein-melkhoutboom is op die plaas Rhenosterfontein, 5 km buite Bredasdorp, geleë. Dit is meer as 1 000 jaar oud en het ’n stamomtrek van 3,22 m, ’n stamdeursnee van 1,02 m, ’n kroonhoogte van 9 m en ’n kroonbreedte van 20 m.
Bron: Wikipedia