My middelsus en ek deel ons pa se liefde vir hardloop. Hy het onder andere 17 Comrades-ultramarathons voltooi. My en my sussie se asems is nie só lank nie, maar ons neem graag aan halfmarathons deel en hardloop gewoonlik vroeg soggens.
Omstreeks 07:45 op 4 Augustus lui my foon en my ma se stem breek toe sy sê my suster is ’n rukkie gelede raakgery en met die ambulans op pad hospitaal toe. Onbewus van die omvang van haar beserings, haas ek my na my tuisdorp, Potchefstroom. waar sy steeds woon. Ek wag lank in die ongevalle-afdeling voordat ek by haar toegelaat word. Sy het vier frakture opgedoen – een aan haar linkerwang, een aan haar linkersleutelbeen en twee aan haar regter-boarm.
Haar linkeroor is byna afgeskeur, maar sorgvuldig met baie steke geheg. Haar linkerkuit het ook ’n lang sny opgedoen wat toegewerk is.
Haar pragtige lang hare is vol harde koeke van al die bloed. Dis pynlik om haar só te sien. Stukkend. Gebreek. Ek ruik die bloed, die ontwatering aan haar asem. Sy mag niks drink nie, want sy moet teater toe sodat die ortopeed die frakture kan heg.
Dit word later daardie middag gedoen in ’n operasie van meer as twee ure. Ek ry terug na Lichtenburg en wonder hoekom my gebed, die rympie wat ek elke aand só getrou bid, dan nie verhoor is nie: “Here Jesus, hou asseblief U hand van bewaring oor elke hardloper, fietsryer en stapper. Dat niemand ons sal aanval nie, dat die karre ons nie sal raakry nie, dat honde ons nie sal byt nie en dat ons nie sal val nie.”
My gedagtes draai ook na die soveelste kollega wat nou met kanker gediagnoseer is. Hoekom hý?
Uitgeput ná die dag se drama, raak ek omstreeks 21:00 aan die slaap, maar skrik om 02:30 weer wakker weens die skok van wat gebeur het, en ook wat kón gebeur. Ek slaap nie weer nie.
My ma herinner my later oor die telefoon: “My kind, wat kón gebeur het, hét gebeur.” En ek begin die subtiele maniere waarop Sy hand wel die vorige dag sigbaar was, raaksien. Ek besef dat dit nie Sy wil was nie, want Hy beplan vir ons voorspoed (Jeremia 29:11).
Opnuut bewus van hóé kwesbaar ons eintlik is, koop ek ’n baadjie met meer reflektiewe stroke en ook liggies wat flikker om mee te hardloop. Ek besef weer hoe belangrik dit is om mooi na myself om te sien.
Om nie langer uit te stel nie. Om meer vir my mense te sê ek het hulle lief. Soos wyle Koos Doep sing: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.”
Ons durf nie elke veilige (en gesonde) tree wat ons gee as vanselfsprekend aanvaar nie. Mag die wonders van die lente jou opnuut vul met waardering vir die één lewe wat jy het!