Met ’n kompas as die sentrale tema van NWK se 2024/2025-jaarverslag, is die laaste een deur die maatskappy se direksie met Heinrich Krüger as voorsitter uitgereik. Die kompas is ook deurgaans as element in die eerste jaarverslag met Heinrich in die voorsitterstoel (2007/2008) gebruik. Dit is dus soos ’n sirkel wat voltooi word – ’n aanduiding dat ’n era van bykans 30 jaar nou voltooi is.
“Dominee Ben Botha het nog destyds heel toevallig my eerste jaarvergadering as voorsitter geopen met ’n boodskap waarin hy gesê het ons moet God se Woord as kompas vir ons lewens gebruik. Dit was vir my baie treffend,” onthou Heinrich.
Heinrich Krüger (65) móét ingevolge NWK se akte van oprigting op hierdie ouderdom die tuig neerlê. Tog speel hy nog ’n aktiewe rol in sy boerdery op die plaas Rietkolk naby Lichtenburg en wink talle avonture met sy rooi BMW-ysterperd op die langpad.
NWK Arena het met Heinrich gesels oor die hoogte- en laagtepunte van sy 29 jaar op die direksie. Hy het tydens dié gesprek waardevolle wenke vir sy opvolger, wat ten tye van die onderhoud nog onbekend was, laat deurskemer.
Bestem vir ’n loopbaan in landbou
Heinrich het op ’n plaas in die Lusthof-omgewing grootgeword. Hy was in die laerskool op Zoetmelksvlei voordat hy aan Hoërskool Sannieshof gematrikuleer en hierna ’n landbougraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.
Met diensplig waarvan hy nie kon wegskram nie, het sy twee jaar in die weermag hom na die grensoorlog in Angola geneem. “Dit het my hard gemaak, veral daardie eerste jaar. Jy sien baie dinge. Een van my pêlle is ook dood daar,” onthou hy.
Hy het nietemin van die weermag gehou, as bevelvoerder gekwalifiseer en as majoor uitgetree. Hy was ook tot 1997 ’n aktiewe lid van die kommando.
Heinrich het in 1982 reeds ’n werk by NWK as akkerboukundige gehad. Dié jaar was egter besonder droog en hy is toe die geleentheid gegun om voltyds te gaan boer, waarna hy die aanbod van NWK van die hand gewys het.
Hy het harde klippe gekou tydens die droogte. “In my eerste jaar het ek ’n totale misoes gehad en ’n opbrengs van 0 t/ha behaal, die tweede jaar 0,4 t/ha en die derde jaar 0,6 t/ha.”
Heinrich het ’n gesamentlike opbrengs van 1 t/ha in sy eerste drie jaar as produsent behaal, maar het nie toegelaat dat dit hom van stryk bring nie.
“Ek was nooit moedeloos nie! Ek het dit aanvaar. As jy aanvaar daar is niks nie, draai jy die stang, jy kyk vorentoe en beplan vir die volgende jaar.”
GEORGANISEERDE LANDBOU HELP KARAKTER BOU
Heinrich was vroeg reeds by georganiseerde landbou betrokke. Hy het begin as lid van die Nooitgedacht Boerevereniging en sou later die voorsitter van Sannieshof se Distrikslandbou-unie word. Hy het dié unie by die algemene raad van die Transvaalse Landbou-unie verteenwoordig.
Hy was ook met die stigting van Agri NW in 1995 vir bykans drie jaar op die dagbestuur. “Georganiseerde landbou het my redelik gebrei en gevorm. Ek het baie mense van regoor die land leer ken en maatskappye en koöperasies se uitvoerende beamptes ontmoet.”
Op die ouderdom van 36 jaar is hy tot NWK se direksie verkies. Dit het toe nog as Noordwes Koöperasie bekendgestaan voor dit in 1998 ’n openbare maatskappy geword het. “Dit was ’n ‘een man, een stem’-verkiesing en ek moes wérk vir elkeen van hulle,” vertel hy.
Hy het as direkteur van beide NWK Beperk en NWK Beherend Beperk gedien en beskryf die eerste drie jaar as “’n maalkolk en oorweldigend”. “Daardie tyd was daar nie ’n induksie soos nou nie. Ek het myself probeer bemagtig deur by elke bestuurslid kers op te steek oor hoe dinge by NWK werk.” Heinrich was die voorsitter van Grasland (nou Bastion) se direksie van 1998 tot 2011.
In 2007 is hy verkies as voorsitter van NWK se direksie en Lemmer Vermooten as ondervoorsitter. Heinrich het hulle as ’n gedugte span beskryf wat menigmaal moeilike en ongewilde besluite geneem het. Hy het in hierdie jaar ook die voorsitter van NWK se Mensekapitaalkomitee geword en sedert 2013 as voorsitter van die Nominasiekomitee gedien.
Sedert 2007 het hy NWK by Agbiz (voorheen die Landboubesigheidskamer) verteenwoordig, waar hy skouers geskuur het met verskeie rolspelers in die landbouwaardeketting, soos insetverskaffers en finansierders.

Dit was soms ’n eensame pad
Heinrich is as direkteur verkies in die tyd toe die graanbemarkingsrade afgeskaf is. “Ek moes as produsent self daarby aanpas en ook NWK se aandeelhouers op hierdie nuwe reis saamvat. Baie produsente het gesê: ‘Safex is van die duiwel.’ Dis menslik om bang te wees vir verandering.”
Hy kies egter om dit eerder te omarm en glo dat elke probleem ’n geleentheid inhou. “My persoonlike motto wat ek in my boerdery uitleef en ook by NWK probeer tuisbring het, is: As jy begin stagneer, is dit die eerste tree agteruit. Dis moeilik as jy met oogklappe loop en daar moet altyd gepoog word om die groter prentjie te sien.”
NWK het die afgelope drie dekades groot suksesse gesmaak, maar ook bittere mislukkings wat sy aandeelhouers duur te staan gekom het. Só moes die maatskappy in 2017/2018 aan verliesmakende entiteite onttrek, wat hom met ’n nabelaste verlies van R117 miljoen gelaat het.
Dit het beleggings in Zambië, ’n mieliemeul in Lichtenburg (Noordfed), NWK Boerdery en Kalahari Beef ingesluit. Hoewel die belang in Botswana nie ’n verlies gely het nie, is daar besluit om NWK ook hiervan te onttrek.
“NWK was nie die enigste landboumaatskappy wat dié bloutjie geloop het nie. Ek kan nie sê dit was die verkeerde besluit nie. Die raad het ’n besluit geneem en geglo dis die regte een op daardie stadium, volgens die inligting tot ons beskikking. As dit nie reg uitwerk nie, moet jy groot genoeg wees om die besluit te kan omkeer.
“Dis ’n eensame pad – dié van voorsitter. Daar gebeur dikwels dinge wat jy en die CEO eers alleen hanteer. Jy moet eers self daardeur werk en kyk watter regstellings en stappe geneem kan word met alle inligting tot jou beskikking, voordat jy met voorstelle na die direksie gaan.
“As ek vroeër met hulle gekommunikeer het, kon dit dalk emosies onnodig opgejaag het. Ek moes seker maak dat alle inligting en moontlikhede ondersoek is voordat hulle ingelig is, en ek wou ook hê dat elkeen sy mind moes apply.”
NWK het in 2022/2023 sy grootste nabelaste wins van R283 miljoen behaal. Heinrich sê die tendens van stygende winste oor die afgelope 18 jaar is merkbaar, ten spyte van swakker jare weens uiterste klimaatstoestande.
Dit was vir Heinrich nog altyd belangrik om ’n balans tussen maatskappywins en die belange van aandeelhouers te handhaaf. “Leef en laat leef.”
NWK se Lojaliteitsprogram (LJP) maak hom trots
Die NWK Lojaliteitsprogram is in 2017 van stapel gestuur om klante vir hul lojaliteit te bedank en hulle te beloon in die vorm van NWK Beherend-aandele of ’n krediet teen hul NWK-rekening vir die waarde verdien uit die program.
Daar word elke jaar geld aan die program toegeken waarmee ’n trust dan NWK Beherend-aandele koop en dit aan lede oordra. Dit ondersteun boonop die aandeleprys.
Heinrich het uit die staanspoor geweet “dit gaan werk” en aktief die implementering daarvan gedryf. Die LJP het aandeelhouers se vertroue in die direksie tot ’n groot mate herstel.
NWK het ook fel kritiek gekry oor vervalle geboue. Heinrich was van die begin af ’n voorstaander van vernuwing en verbetering, en het gevra dat dit aandag moet geniet. “Die instandhouding van ons geboue en hul aangesig was vir my belangrik. Jy hoef nie geld te hê nie, maar jou goed moet netjies wees. Dieselfde met NWK se hoofkantoor.”
Dié gebou het in 2012 indrukwekkende vernuwings ondergaan en is met sy kenmerkende oranje kleur vandag ’n bekende en aantreklike baken in Lichtenburg. “Toe het ons met die gange binne-in die gebou begin. Die personeel het daarvan gehou en gevra wanneer dit hulle gang se beurt sou wees. Hulle wil mos ook in ’n netjiese plek werk.”
Heinrich is ook ingenome met die manier waarop NWK na sy werknemers kyk. Hy meen die maatskappy het die afgelope paar jaar groot vordering gemaak om posgrade markverwant te kry en belangrike poste te prioritiseer.
“Ek beskou personeel – maak nie saak wat jy doen nie – as die ratte van ’n masjien. Die groot rat bo kan nie draai as daar nie ’n kleiner rat onder is wat draai nie. Dit moet ’n geoliede masjien wees. Ek het probeer om in my tyd as voorsitter ’n omgewing te skep waarin mense kan floreer in waarmee hulle besig is. Daar is ’n verskil tussen iemand wat net ’n werk het en iemand wat besig is met sy passie.
“Dit is lekker om te sien hoe iemand homself hierin uitleef. Dan is ure nie vir hom belangrik nie en jy hoef hulle nie op te pas nie.”
Hy voeg by: “As iemand se werk gedoen is, moenie kyk of hy/sy nog op kantoor is nie. As jy iemand oppas, maak jy hom skelm!”
Terselfdertyd ’n suksesvolle produsent
Heinrich onthou toe hy tot die direksie verkies is, het Henk Mouton van hulle studiegroep nog vir sy oorlede pa (Hansie) gevra wat hy daarvan dink. Toe antwoord hy: “Nóú gaan jy ’n flentergat-boerdery sien!” lag Heinrich.
Hy en sy pa het egter ’n goeie verhouding gehad en Heinrich loof hom vir die goeie voorbeeld wat hy as boer gestel het. Dit het ’n fyn balanseertoertjie gekos om sy pligte as direkteur, en veral as voorsitter, met dié van ’n boer te balanseer. “Veral in planttyd.”
Heinrich moes leer delegeer en meen dit is ’n kopskuif wat nie maklik vir almal is nie. “Tot jy besef jou eie arbeid is eintlik dúúr arbeid – as jy iets doen wat iemand anders kan doen.”
Heinrich is in 2022 met longkanker gediagnoseer en hy is dankbaar dat sy twee seuns, Hansie en Dick, toe reeds goed gevestig in die boerdery se werksaamhede was. Hulle is vandag voorslae in die gemengde boerdery, wat uit mielies en sonneblom bestaan. Heinrich het ook groot beesvertakkings in Suid-Afrika en Botswana.
Hy voel sterk daaroor om tydens planttyd aktief betrokke te wees. “Dis jou belangrikste proses. Oestyd kan jy dalk nog ’n dag wegloop, maar planttyd is baie belangrik in ons mondering. Dis ons brood en botter.”
Heinrich se betrokkenheid by die direksie het hom dalk verhoed om sekere veilings by te woon, maar hy sê dit het hom ook blootgestel aan ’n onderneming op ’n makrovlak en hom geleer om makliker sakebesluite in sy eie boerdery te neem.
’n Betrokke gesinsman
Hy is dankbaar vir die ondersteuning van sy vrou oor die afgelope 37 jaar. “Marlene en my gesin het my die geleentheid gegee om te gáán.” Hulle het ook twee dogters, Annette en Susann.
Voor die dae van slimfone met kalenders, het hy aan die begin van elke jaar sy kinders se skole gebel, die datums van hulle onderskeie aktiwiteite gevra en dit in sy sakboekie aangeteken. “Ek het regtig probeer om al my kinders se aktiwiteite by te woon. Ek het redenaarstoesprake geskryf – dit was my job gewees. En wiskunde verduidelik.”
Sy profielfoto op WhatsApp is van vyf van sy ses kleinkinders. Die jongste enetjie was ten tye van die onderhoud maar twee maande oud. Hulle koms het hom genoop om sy cab and a half vir ’n dubbelkajuitbakkie te verruil. “Geen ma sal vir my sê die kind kan nie saamry nie omdat hier nie ’n kinderstoeltjie in is nie. Ek het my eie een aangeskaf.”
Hy sien uit daarna om meer tyd saam met sy gesin te kan spandeer, en natuurlik om die langpad met sy ander groot liefde, sy BMW 1200 GSA-motorfiets, aan te durf. “My volgende trip sal ná die (jaar)vergadering wees. Ek wil dan vir twee weke ry. Ek weet nie waarheen nie. Ek gaan net ry. Parys, Bloemfontein, Kimberley, die Weskus …”
Hoewel hy bly is dat “direksiestukke” van honderde bladsye iets van die verlede gaan wees, gaan hy tog die interaksie en gevorderde beredenering mis.

Raad aan sy opvolger
Die verantwoordelikheid as voorsitter het in die laaste tien jaar gesneeubal, meen Heinrich. “Die regulatoriese vereistes… Dis ’n verantwoordelikheid teenoor mense – mense wat werk en ook ander mense se belange. Daardie belange is gróót. Dis ’n klomp geld.”
Hy het “die volste vertroue” in NWK se bestaande bestuur en direksie. “As hier ’n emmer water staan waarin ek my arm druk, is daar nie ’n gat wanneer ek my arm uithaal nie. Dit maak toe,” glimlag hy. “Ek gaan dalk weg wees, maar daar gaan nie ’n leemte wees nie.”
Sy tyd op die raad het hom geleer dat jy nie altyd “eerste” hoef te wees nie. “Jy kan soms skoolgeld vermy deur net ’n bietjie terug te sit en die risiko te ontleed.”
Heinrich se opvolger moenie toelaat dat kritiek hom selfvertroue laat verloor nie. “Hou by dit wat wérk! Wees egter dinamies genoeg om goeie geleenthede raak te sien en dit te benut.”
Hy keer terug na die kompas. “Besigheid en probleme kan jou soms bietjie van noord af gooi, maar dit bring jou altyd terug. Hou ook jou kompas na Bo gerig. Dit was nog altyd NWK se behoud. En bly nederig – dit kos jou niks nie. Respek is iets wat verdien word – dit kan nie gekoop word nie.”
Heinrich weet sy uittrede uit die direksie gaan ’n aanpassing wees. “Ek weet daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Ek voel reg om nou te gaan.”
Hy glimlag as hy sê hy het ’n goeie innings as voorsitter gehad en sy stem breek wanneer hy byvoeg: “En dis genade.”