Elke produsent ken die gevoel: Jy staan voor twee kanne glifosaat in die denkbeeldige winkel wat landbouchemiese middels verkoop. Een dra die bekende naam “Roundup” en die ander is ’n generiese opsie wat amper die helfte kos.
Dit is aanloklik om na die goedkoopste produk te gryp, veral in ’n ekonomiese klimaat waar insetkoste jaar na jaar die hoogte inskiet. Is die goedkoopste opsie egter altyd die beter opsie? Of kan dit jou dalk duisende rande kos aan die einde van die seisoen?
Glifosaat het sedert die 1970’s onkruidbeheer wêreldwyd getransformeer. As aktiewe bestanddeel in gewilde produkte soos Roundup, blokkeer dit ’n ensiem (EPSPS) wat plante nodig het om noodsaaklike aminosure te maak (Duke & Powles, 2008). Sonder hierdie aminosure sterf die geteikende plante vinnig.
Ná die verval van glifosaat se patentregte aan die begin van die 2000’s het generiese weergawes die mark oorstroom. Vandag is daar talle vervaardigers – van plaaslike maatskappye tot internasionale reuse – wat “dieselfde” produk teen ’n fraksie van die prys belowe. Maar is hulle regtig dieselfde?
Die wetenskap agter formulering
Die belangrikste verskil tussen ’n oorspronklike handelsnaam en ’n generiese produk lê nie net in die aktiewe bestanddeel nie, maar veral in die bymiddels, spesifiek die verbeteraars – stowwe wat die opname van glifosaat in die teikenplant bevorder. Roundup se formulering is die resultaat van dekades se navorsing en gehaltebeheer (Giesy et al., 2000). Handelsmerkprodukte beskik oor spesiaal saamgestelde verbeteraars wat volledige opname in plante verseker, selfs onder strestoestande soos hittegolwe of lae humiditeit. Dit is veral belangrik in Suid-Afrikaanse somers, waar uiterste weerstoestande dikwels heers.
Generiese produkte fokus meestal op laer koste – dikwels word goedkoper, minder doeltreffende verbeteraars gebruik, of die aktiewe bestanddeel kan selfs in gehalte en suiwerheid wissel. Die resultaat is ’n produk wat onder ideale toestande werk, maar tekortkominge het wanneer weer-, water- of gewastoestande ongunstig is (Feng et al., 2003).
Opbrengsverliese en onvoorsiene risiko’s
Internasionale en plaaslike navorsing wys toenemend dat generiese produkte (veral onder strestoestande) fitotoksisiteit kan veroorsaak, byvoorbeeld blaarvergeling, brandmerke op jong plante en selfs groeistremming (Johnson & Davis, 2014).
Die Graannavorsing- en Ontwikkelingskorporasie (GRDC) in Australië het bevind dat sekere generiese glifosaatformulerings tot 30% minder stabiel was by hoë temperature en lae humiditeit, wat tot swak beheer van hardnekkige onkruidspesies gelei het (GRDC, 2018). In ’n tyd waar sekere onkruide al meer weerstand teen glifosaat toon, is die regte formulering noodsaaklik vir langtermynsukses.
Plaaslike voorbeeld: ’n Produsent in die Vrystaat het in 2022 na generiese glifosaat oorgeskakel om koste te spaar. Die besparing op die middel was ongeveer R400/ha, maar aan die einde van die seisoen het swakker onkruidbeheer voorgekom. Soortgelyke waarnemings is al op verskeie plekke in Suid-Afrika waargeneem.

Markkragte, innovasie en die toekoms van gewasbeskerming
Waarom is generiese produkte dan so goedkoop? Die antwoord lê deels in die koste – vervaardigers van generiese produkte het nie die koste van navorsing en registrasie soos die oorspronklike handelsname nie. Maar daar is ’n groter prentjie: As produsente die skuif maak na generiese produkte, word die winsgewendheid van innovasie-gedrewe maatskappye bedreig.
’n Praktiese voorbeeld: In Mei 2025 het Bayer aangekondig dat hulle hul Crop Science-afdeling se produksie van aktiewe bestanddele en navorsingsaktiwiteite in Frankfurt am Main teen die einde van 2028 gaan staak. Dormagen se fasiliteit word ook verklein. Baie van die personeel word verplaas of verloor hul werk, en navorsing en ontwikkeling sal by Monheim am Rhein sentraliseer.
Bayer se motivering is die stygende kompetisie van goedkoop Asiatiese generiese produkte en strenger regulasies in Europa. Sodoende wil hulle kapitaal en navorsing fokus op nuwe, innovasiegedrewe produkte en nie op die vervaardiging van generiese, lae-winsmarge aktiewe bestanddele nie (Reuters, 2025).
Dit het ’n direkte impak op die beskikbaarheid van nuwe chemiese oplossings vir produsente. Volgens CropLife International het die gemiddelde koste om ’n nuwe aktiewe bestanddeel op die mark te bring tot meer as $280 miljoen gestyg, met minder produkte wat weens lae marges internasionaal geregistreer word (CropLife International, 2016).
Wanneer maak generiese produkte sin?
Generiese glifosaat het beslis sy plek op die plaas. Dit is ideaal vir situasies waar daar geen risiko is van skade aan gewasse nie – byvoorbeeld, tydens winterbespuitings op braak lande of oorlêlande. In hierdie gevalle is die risiko van ongunstige omstandighede minder, die kans op opbrengsverliese minimaal en die kostebesparing regverdig die gebruik.
Produsente in die Noord-Vrystaat het gerapporteer dat hulle danksy goeie bestuur en beplanning generiese produkte met sukses aanwend om winteronkruide op braaklande te beheer, sonder om die opbrengste van die volgende seisoen se gewasse te benadeel.
Hoe om jou keuse te maak
- Gebruik oorspronklike handelsname wanneer die opbrengs of gewasgesondheid op die spel is. Maksimum betroubaarheid word vereis tydens belangrike groeifases of waar die weerstoestande ongunstig is (droogte, hittegolwe).
- Gebruik generiese produkte waar die risiko laag is – op ruslande, gedurende die winter of as deel van landvoorbereiding voor planttyd, solank geen gewasse aktief groei nie.
- Proewe is goud werd. Toets altyd nuwe produkte op ’n klein area op jou eie plaas. Neem kennis van die resultate, vergelyk dit met vorige jare en deel jou bevindings met jou landbouchemiese verteenwoordiger.
- Dink verder as net die prys. Oorweeg die koste, maar bereken die potensiële risiko van opbrengsverliese. Onthou dat besparing oor die kort termyn dalk ’n groot verlies oor die lang termyn kan beteken.
- Ondersteun innovasie. Jou keuses bepaal watter oplossings in die toekoms beskikbaar sal wees – as almal slegs vir goedkoop keuses gaan, verdwyn nuwe, meer gevorderde oplossings van die mark.
Regs- en omgewingsaspekte
Onthou, daar is ook ’n regsaspek: Sommige generiese produkte voldoen nie altyd aan die plaaslike wetgewing nie, of is nie vir alle gebruikstoestande geregistreer nie. Dit kan veroorsaak dat jy sonder versekering is in die geval van skade. Kontroleer altyd die registrasie en etikette van enige produk wat jy oorweeg.
Hierbenewens moet die impak van glifosaat op die omgewing nie onderskat word nie. Studies wys dat die oormatige gebruik van swak geformuleerde generiese produkte tot die besmetting van waterbronne of die ontwikkeling van onkruidweerstand kan lei, wat die uitdaging net groter maak vir produsente in die toekoms.
Samevatting
Generiese glifosaatprodukte is nie ’n euwel of noodwendig die beste oplossing nie – dit is ’n hulpmiddel, maar soos enige gereedskap, moet jy weet wanneer en hoe om dit te gebruik. ’n Wyse produsent verstaan dat elke besluit – selfs iets so “gering” soos watter glifosaat om te koop – ’n impak het op sy winsgewendheid, sy grondgesondheid en die landbousektor as geheel.
Kies die regte produk vir jou unieke omstandighede, beproef dit altyd self en moenie die waarde van volhoubaarheid oor die lang termyn onderskat nie. Die doel is nie om net hierdie seisoen te oorleef nie, maar om aan ’n plaas te bou wat vir die volgende geslag net so vrugbaar, produktief en winsgewend is.
Bronnelys
- CropLife International, 2016. Cost of Crop Protection Research and Development Report
- Duke SO & Powles SB, 2008. Pest Management Science, 64(4), 319-325
- Giesy JP, Dobson S & Solomon KR, 2000. Reviews of Environmental Contamination and Toxicology, 167, 35-120
- GRDC, 2018. Glyphosate formulation stability and crop safety. GRDC Research Update
- Johnson WG & Davis VM, 2014. Glyphosate Formulations and Plant Health Impacts. Purdue Extension
- Reuters, 2025. Bayer restructure German agriculture activities amid Asian competition