Indien dit nie vir die “dapper vasberadenheid” van die voormalige ondervoorsitter van NWK se direksie was nie, sou lede dalk nou nog direksievergaderings in ’n pak klere en ’n das moes bywoon. Lemmer Vermooten (65) het ná 23 jaar op die direksie en 16 jaar as ondervoorsitter die tuig neergelê.
Hy sal nie net in NWK se geskiedenisboeke opgeteken word as iemand met ’n gesonde aptyt vir berekende risiko’s wat die maatskappy aangespoor het om nuwe projekte aan te pak nie, maar ook as ’n “platjie” wat met sy humor bepaalde tradisies by die direksie gevestig het.
Sáám het Lemmer Vermooten en Heinrich Krüger ’n gedugte span gemaak – hy met die sakebrein en Heinrich as produsent. Heinrich het ook nou as voorsitter van NWK se direksie uitgetree.
Hoewel Lemmer ’n gerekende produsent is, beskou hy homself eerstens as ’n sakeman en was dit nooit dié elektroniese ingenieur se plan om te boer nie.
Omstandighede lei hom na landbou
Lemmer is een van vyf kinders wat op die familieplaas, Knopfontein naby Coligny, grootgeword het. Die plaas het aan sy ma, Herculena, behoort. Sy pa, Dolf, was ’n mediese dokter wat ’n praktyk in Coligny bedryf het. Hy het ook op Knopfontein geboer. “Toe ons kinders was, het my pa vir ons gesê dat die eenheid te klein is vir ons om óók daar te boer,” vertel Lemmer.
Hy het met ses onderskeidings aan Hoërskool Coligny gematrikuleer en ingeskryf vir onder andere medies, argitektuur en ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria. “Ek het nie geweet wat ek wou doen op my eerste dag by Tuks nie. Ná die eerste oriënteringsweek het ek op ingenieurswese besluit.”
Ná sy studies het hy vir ’n maatskappy in Mmabatho gewerk, wat hy later sou koop en weer verkoop, en het hy homself in Lichtenburg gevestig.
Sy ouers was in 1994 in ’n ernstige motorongeluk wat sy ma se lewe geëis het. Lemmer se pa was in ’n koma en hy het die boerdery se verantwoordelikhede op homself geneem. Met sy ouers se boedels “gevries”, moes Lemmer ’n verband op sy huis uitneem om te kon plant.
Sy pa is ná bykans ’n maand uit die hospitaal ontslaan en het vir Lemmer gevra of hy nie die boerdery wou oorneem en hom permanent op die plaas vestig nie. “Dit was heeltemal onverwags. Ek het nooit gedink aan boer nie.” Lemmer was meer besigheidsgeoriënteerd en meen dit het hom “gered”, omdat hy hom in boerdery begewe het in ’n droë tyd met skraal oeste.
Die vere maak nie die voël nie
In 2002 het Lemmer vir Hardus Otto in sy wyk op die direksie vervang nadat laasgenoemde uitgetree het. Hy was toe reeds op verskeie ander direksies vir meestal projekhuise. “Ek het vinnig geleer dat ’n boer op ’n ander manier dink. Ek het met ’n besigheidsagtergrond skielik in ’n boer se skoene beland,” sê Lemmer.
Hy het by sy eerste direksievergadering sonder ’n pak klere en das opgedaag, en was sommer dadelik daarna op die rooi tapyt. “Ek het nog gesê dat ek nie ’n pak klere hét nie! Ons kerk vereis dit nie en ek gaan nie ’n pak koop net om dit drie of vier keer per jaar te dra nie.”
Lemmer het volstrek geweier en by die tweede vergadering met ’n das en sportbaadjie opgedaag. “By die derde vergadering kom Christo (van Niekerk) óók met ’n sportbaadjie daar aan. Toe is die ys gebreek.”
Toe Lemmer ’n mededirekteur vra waarom hulle dan pakke moes dra, het dié gesê dat direksielede daaraan geken word. “Dis waar jy die fout maak,” het Lemmer hom geantwoord en gesê dat mense direksielede eerder moet ken aan die werk wat hulle doen, asook hul aksies.
Heinrich en Lemmer is in 2007 onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter verkies, en het toe die vereiste dat pakke klere na vergaderings gedra moes word, afgeskaf.
NWK waag sy hand aan nuwe sektore
Met talle hoenderboere wat hulle in NWK se bedieningsgebied gevestig het, het Lemmer besef dat dit ’n gulde geleentheid vir NWK was om by dié waardeketting betrokke te raak. “Ek het voorgestel dat ons hoendervoer en -kuikens verskaf. Dit sou nie eens nodig wees om ’n abattoir op te rig nie,” het Lemmer verduidelik.
Opti Chicks is gevolglik gevestig en die eerste dagoue kuikens is op 1 Oktober 2009 aan die braaikuikenmark verskaf.
NWK het ’n vyf jaar lange kontrak met Rainbow Chicken gehad, wat 80% van Opti Chicks se kuikens gekoop het. Daar was egter sprake dat hulle hul eie broei-aanleg hier wou vestig en Lemmer het toe besef dat dit die regte tyd was om te verkoop. Country Bird Holdings het in 2018 ’n aanbod gemaak en Opti Agri (wat Opti Chicks en Optifeeds ingesluit het) vir bykans R290 miljoen gekoop.
“Dit was ’n wen-wen. Ek is nie spyt ons het uitgeklim (verkoop) nie. Dit is waaraan ek gewoond was. Jy handel ’n projek af, verkoop dit en begin die volgende een,” vertel Lemmer.
Met diesel wat skaars en duur was, het Lemmer voorgestel dat dié brandstof van sonneblomolie vervaardig word. “Ek het ’n voorlegging gemaak dat ’n boer sy sonneblom by die pers (Epko) kon inry en sy diesel trek teen die koste wat dit verg om te verwerk. Hy sou dus die graan verloor, maar diesel wen.”
’n Loodsaanleg is agter Epko opgerig, waar die diesel uit sonneblomolie vervaardig is. “Een van NWK se vragmotors en een van die bakkies het ’n jaar lank net op daardie diesel geloop. Dit het baie goed gewerk.”
Die prys van beide diesel en sonneblom het egter verander en dit het nie meer die koste om ’n aanleg van die nodige omvang op te rig, regverdig nie. “Dit het wel die ouens se oë oopgemaak vir wat gedoen kán word. Dit was nogal lekker,” onthou Lemmer.
Hy is in 2011 as voorsitter van Bastion se direksie verkies en is trots op alles wat dié filiaal sedertdien bereik het. “Ons het daardie tyd maar 80 000 t kalk per jaar verskaf en ontgin nou meer as 500 000 t per jaar. Daar is nie aan die bronne verander nie, maar die doeltreffendheid het bloot verbeter. Dit is waar my ingenieursagtergrond ontsettend baie gehelp het.”
Eenmanskommissie bring komedie na direksie
Lemmer het ’n goeie waarnemingsvermoë en het by die eerste strategiese sessie van die direksie wat hy bygewoon het, die sogenaamde eenmanskommissie gestig.
“Ek het geluister wat elkeen sê, iets komies geskryf en daardie aand ‘verslag gelewer’. Dit was onmiddellik gewild en het ’n jaarlikse instelling geword. Heinrich het Kerspartytjies vir direksielede en hul vroue ingestel. Ek het toe oor die vroue ook begin skryf,” glimlag Lemmer.
Hy het in 2023 uitgetree as ondervoorsitter omdat hy besef het NWK sou ’n opvolgstrategie in plek moes kry. Pieter Jansen van Vuuren het toe die ondervoorsitterskap by hom oorgeneem.
“Dit was ’n goeie ding. Hy het twee jaar kans gehad om saam met Heinrich en Pieter (Kleingeld) te werk en meer te leer oor die verantwoordelikhede van ’n voorsitter en ondervoorsitter. Dit is baie anders om ’n gewone direkteur te wees. Ek en Heinrich het baie gedoen waarvan die ander nie weet nie.”
Lemmer meen hy en Heinrich het mekaar baie goed aangevul. “Ons het gespot dat ons ’n kantoor by Maxi’s gehad het. Ons het mekaar gereeld daar vir koffie ontmoet en oor sake gesels wat ons nie noodwendig voor die ander direksielede kon bespreek nie.
“Ons het dieselfde siening oor baie goed gehad, maar ook baie van mekaar verskil omdat hy meer boergeoriënteerd is en ek meer sakegeoriënteerd.
“Toe Heinrich as voorsitter verkies is, het ek aan hom gesê dat hy van nou af my volle lojaliteit sou hê. Dit het ons samewerking drasties versterk en ons het lekker saamgewerk. Hy is ’n uitstekende voorsitter en ons het boonop goeie vriende geword.”
Sout saam met die soet
Lemmer het verwys na ’n stadium in NWK se geskiedenis toe daar ’n vertrouensbreuk tussen die direksie en bestuur was. “Dit het my baie gepla en ek het ’n ‘bosonderonsie’ gereël. Ons is sommer na een van my pelle in Leeudoringstad se plek, waar ons die ding uitgepraat het. Dit was ’n teleurstelling dat dit gebeur het, maar ook goed dat ons weer die vertroue kon herstel.”
Uiteraard was die bloutjie wat NWK met beleggings in sakebelange elders in Afrika geloop het ’n bitter pil om te sluk. “Dit het ongelooflik goed begin en ons het daardie eerste jaar ’n paar miljoen dollar wins gemaak. Toe begin dinge egter teen ons draai en toe ons daaruit moes klim, kon ons dit nie doen nie.”
Danksy Lemmer se sake-ervaring is hy deur die raad afgevaardig om as voorsitter van NWK Agri in Zambië te dien, waar hy die maatskappy se belange in dié land verteenwoordig het.
“Daar het ek en Pieter nogal lekker saamgewerk. Ons het die onderhandelinge in Zambië gevoer en ’n redelike uitkoms gehad. Daar is steeds baie jare later ’n verlies aangeteken en dit was ’n groot teleurstelling. Dat ons dit egter kon uitbestuur… Dit het my lewe verryk.”
Daar is nog nie nominasies uit Lemmer se wyk vir ’n opvolger ontvang nie.
’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan
Hy meen dat hy eintlik te lank op die direksie gedien het. “Ek is rég om te gaan. Ek wou eintlik vroeër uittree, maar is as voorsitter van die ouditkomitee gevra om aan te bly met dié dat ’n nuwe ouditeursfirma aangestel is.”
Lemmer dien sedert 2007 op hierdie komitee en sê dat dit sedertdien in ’n baie dinamiese ouditkomitee ontwikkel het. Hy het ook vanaf 2007 tot 2022 op die vergoedingskomitee gedien en sedert 2012 op die nominasiekomitee.
“Ek en Heinrich was jonk toe ons aangestel is en dit het ’n ander energie na die direksie gebring. Ek het nog altyd gevoel dat jy vroeër aan ’n jonger generasie moet oorgee omdat dit nuwe maniere van ontwikkeling meebring.”
Hy voeg by dat hy met ’n geruste hart uittree. “Ek het volle vertroue in die direksie en bestuur en het geen illusies dat hulle ons só gaan mis dat die strukture uitmekaar gaan val nie.”
Lemmer is ’n ywerige gholfspeler en is aan die begin van die jaar tot tesourier van Lichtenburg se gholfklub verkies. “Ek speel gholf, maar is nie ’n Kobus du Preez nie,” lag hy met verwysing na dié direksielid wat elke week speel. “Ek speel so een tot twee keer per maand.”
Die gholfklub het sedertdien heelwat veranderings ondergaan. Die kombuis is opgeknap en gaan voortaan op ’n voltydse basis etes aan spelers en ander besoekers kan verskaf.
In samewerking met NWK, is twee padelbane hier gevestig. Die hoeveelheid rondtes gholf wat spelers gemiddeld per maand speel, het met tussen 7% en 10% gestyg. “En dit in die winter,” vertel Lemmer opgewonde.
Daar is ’n junior program gevestig en 30 jong lede ontvang afrigting. “Hier is nou heelwat vroue wat vroeg vir koffie wil kom aansit ná ’n potjie padel. Waar die kroeg voorheen eers 14:00 oopgemaak het, moet ons nou al 11:00 gereed wees.”
Daar is tans samesprekings met ander klubs om ook sportsoorte soos fietsry hier te vestig.
Lemmer speel nog ’n aktiewe rol in sy eie boerdery, waarin sy twee skoonseuns – Leendert van Losenoord (getroud met sy dogter, Nicolette) en Quinton Gouws (getroud met sy dogter, Diana) – reeds deurslaggewend is. Hulle plant mielies en sojabone en daar is ook ’n beesvertakking. “Ek gaan nie ledig wees nie. Dis ’n fees om saam met my twee skoonseuns te boer. Dis lekker om hulle entoesiasme te ervaar.”
Lemmer beskryf sy vrou, Franci, as die fondasie van hulle gesin en sê dat geen van sy suksesse sonder haar moontlik sou wees nie.
Hy het in 1996 Vermooten Systems in Lichtenburg geopen, wat in sekuriteitstoerusting en omheining spesialiseer, en is nou in die proses om dit te verkoop. “My vrou en dogters het altyd gevra hoekom ek vyf mense se werk probeer doen. Nou gaan een van die vyf – die ingenieur – darem aftree,” glimlag hy.
Hy het reeds twee kleinkinders, met ’n derde een op pad.
NWK is nou op ’n goeie plek
“As ek sien waar NWK vandaan kom sedert ek betrokke geraak het, tot nou … Die maatskappy is op ’n goeie plek. Ek en Heinrich het ’n goeie innings gehad en ’n lekker pad saam gestap. Ons het dit reggekry om ’n lekker omgewing te skep vir die ouens om in te werk. Direkteure dink nou meer strategies as in die verlede en hulle fokus is reg.
“Ek het die volste vertroue in alles wat die direksie doen. Hulle moet in eie reg optree en ek het die volste vertroue dat hulle dit wat hulle aanpak, sal regkry.”