
Grondsuurheid word wêreldwyd as een van die mees beperkende faktore in gewasproduksie beskou. Afnemende grondvrugbaarheid as gevolg van versuring is ’n kombinasie van onkunde en finansiële beperkings.
Grondsuurheid word veroorsaak deur onder andere stikstofbevattende bemesting, gewasreste en loging, en word reggestel deur ’n doelgerigte bekalkingsprogram te volg. Die doeltreffendheid van bekalking hang af van die doeltreffende inwerking van die kalk in die grond, wat gewoonlik tydens bewerking gedoen word. Bewaringsboerderypraktyke kan egter dié proses uitdagend maak.
Gereelde bekalking van grond vorm die basis vir gesonde en ekonomiese gewasproduksie. Daarom is ’n vaste bekalkingsprogram nodig om die chemiese grondeienskappe te stabiliseer en in stand te hou.
Waarom is bekalking nodig?
Die doel van bekalking is om die grond se pH na optimale vlakke te lig, wat noodsaaklik is vir doeltreffende voedingstofopname en optimale gewasgroei.
Grondsuurheid het ’n direkte invloed op gewasproduksie (Tabel 1 en Figuur 1)). Die oplosbaarheid en beskikbaarheid van plantvoedingstowwe word deur die grond se pH bepaal en is die belangrikste grondchemiese faktor vir gewasproduksie. Daar word aanbeveel dat die grond-pH deur bekalking reggestel word voordat enige ander regstellings oorweeg word.
Fosfaatregstellings moenie saam met kalkregstellings gedoen word nie, maar eerder in die daaropvolgende jaar, aangesien kalk die toegediende fosfate kan vaslê.


Grond word bekalk om:
- Grondsuurheid op te hef.
- Ca- en Mg-vlakke en verhoudings reg te stel.
- Suurversadiging aan te spreek.
- Waterinfiltrasie te bevorder.
Bekalking lei tot ’n laer produksierisiko, meer ekonomies doeltreffende opbrengste en uiteindelik ’n finansieel gesonde gewasproduksiestelsel. Die ophef van grondsuurheid lei tot beter opname van kunsmis, met ’n beter opbrengsprestasie en dus ’n groter winsmarge.
Doeltreffende bekalking
’n Gereelde bekalkingsprogram elke derde tot vierde seisoen (Figuur 2) word aanbeveel, met die doel om die land tot by ’n gewenste pH(KCl) van 5,5 te bekalk. Dit sal verseker dat grondsuurheid nie ’n opbrengs-beperkende faktor in die boerdery word nie.



Doeltreffende bekalking moet aan die volgende vereistes voldoen:
- Akkurate bepaling van die kalkbehoefte en tipe kalkbron.
- Akkurate en tydige toediening van kalk volgens die kalkbehoefte.
- Doeltreffende vermenging van kalk met die grond.
- Doeltreffende reaktiwiteit, chemiese suiwerheid en fynheid van die kalk.
Die reaktiwiteit van alle kalksoorte is afhanklik van die kalk se fynheid om sodoende die grootste moontlike reaksie-oppervlakte met die grond en grondwater te verkry. Daarom is die reaktiwiteit van mikrofyn landboukalk (90% fyner as 0,25 mm) aansienlik hoër as landboukalk, wat slegs aan die minimum wetlike vereistes vir “gewone” landboukalk voldoen (50% fyner as 0,25 mm).
Om vas te stel of dolomitiese en/of kalsitiese kalk toegedien moet word, is die grond-pH, asook magnesium- en kalsiumontledings van die grond nodig. Die aanbeveling van ’n professionele landboukundige sal maksimum gewasproduksie verseker indien dit toegepas word.
Bekalking
IN KONVENSIONELE BOERDERY
Die regte bewerkingsmetode is deurslaggewend vir ’n doeltreffende bekalkingsprogram om die kalk deeglik met die grond te vermeng. Aangesien kalk uiters stadig in die grond afbeweeg (ongeveer 2,5 cm jaarliks), hang die sukses van die bekalking af van die diepte waartoe dit ingewerk word. Die beste tyd vir bekalking is lank voor planttyd, sodat die kalk genoeg tyd het om met die grondsuurheid te reageer.
Skaar- of skottelbewerking word tipies gebruik wanneer ’n groot hoeveelheid kalk toegedien en diep in die grond ingewerk word. Dit is die doeltreffendste metode vir deeglike vermenging, veral om ondergrondse versuring behoorlik te neutraliseer. Daar word aanbeveel dat die kalk eers met ’n implement ingesny word en dan verder ingeploeg word vir optimale vermenging met die grond.
’n Studie is in 2023 by die Allanridge Studiegroep in die Vrystaat gedoen, waar kalk se beweging in sandgronde by twee verskillende boerderypraktyke ondersoek is. Foto 1 toon die toegediende kalk in die grond ingesny en daarna ingeploeg, teenoor Foto 2, waar die kalk slegs breedwerpig oor die land uitgestrooi is.
Die konvensionele bewerkingspraktyk (Foto 1) het egter die kalk doeltreffend ingewerk en die grondsuurheid in die ondergrond aangespreek.
In die perseel waar die kalk slegs bo-op die grond gestrooi is en nie ingewerk is nie, lê die kalk nog steeds net in die oppervlakkige lagie grond (Foto 2). Die kalk het nie die grondsuurheid in die bo- en/of ondergrond aangespreek nie.
Hierdie studie het net weereens kalk se lae mobiliteit bevestig.


IN BEWARINGSLANDBOU
Geenbewerking behels die gebruik van planters om saad direk in onbewerkte grond te plaas en ander grondbewerkingsaksies sover moontlik uit te sluit. ’n Uitdaging wat ontstaan wanneer minimumbewerkingstelsels vir ’n lang tydperk toegepas word, is dat die grondsuurheid in die ondergrond moeilik aangespreek word.
In stelsels met minimum- of geenbewerking is bekalking minder doeltreffend, veral in swaarder gronde en in die ondergrond. Dit word algemeen aanvaar dat kalk nie die grondsuurheid kan aanspreek verby die diepte waarop die kalk geplaas word nie. Met ander woorde, kalk is immobiel en beweeg weglaatbaar stadig na dieperliggende grondlae.
’n Gevolg van minimumbewerking oor die lang termyn is dat kalk aanhoudend vlak geplaas word en dat stratifisering van die grondsuurheid voorkom. Die bogrond raak alkalies, terwyl die ondergrond steeds suur bly.
In minimum- of geenbewerkingspraktyke word kalk slegs oor die grond se oppervlak gestrooi en deur reën in die grond ingewas. Omdat vermenging swak is, moet daar meer gereeld bekalk word om seker te maak elke seisoen skop met ’n lae grondsuurheid af. Met gereelde toediening en ’n vaste bekalkingsprogram sal die kalk wel stadig in die grond inbeweeg. Dié proses kan egter baie jare neem en is nie so doeltreffend soos die konvensionele inwerking van kalk nie.
In bewaringsboerdery moet grondversuring en verdigting eers deur bewerking en bekalking reggestel word voordat die mikrobiologiese komponent van die grond kan gedy.
Selfbekalking
Die inwerk van landboukalk is van kardinale belang om optimale werking te kry. Daarom maak produsente al meer van gips en gips/kalkmengsels gebruik in ’n poging om die beweging van kalk te bewerkstellig.
Groot gedeeltes van Suid-Afrika se graanverbouingsgebiede (waaronder die Vrystaat en Noordwes) het heeltemal te min verweerde seskwioksied-kleiminerale en daar word nie verwag dat selfbekalking hier sal plaasvind nie. Hierdie dele sukkel met geweldige ondergrondversuring.
In hierdie gronde sonder beduidende hoeveelhede seskwioksiede, kan gips/kalkmengsels gebruik word om die suurversadiging (suur op die uitruilkompleks) van die ondergrond te verlaag deurdat dit Ca by die grond voeg. Dit sal egter geen uitwerking op die pH van dié grond hê nie.
Daar moet dus met omsigtigheid gehandel word as gips/kalkmengsels gebruik word.
- Gips is ’n neutrale sout en het geen uitwerking op grond se pH nie. Derhalwe moet die kalkbehoefte eers bepaal word en die gips dan bykomend tot die hoeveelheid kalk benodig, bygevoeg word. Byvoorbeeld, indien 2 ton van ’n spesifieke kalk benodig word om die pH reg te stel en ’n 80:20-mengsel word gebruik, moet daar ’n 2,4 ton kalk/gipsmengsel toegedien word.
- Indien die bogrond-pH nie op bevredigende vlakke is nie, moet dit eers geneutraliseer word voordat daar op die ondergrond gefokus word.
- Daar word algemeen van 10%, 20% en 40% gipsmengsels gebruik gemaak. Die landboukundige word gewoonlik gelei deur die hoeveelheid ondergrondse suurversadiging wat herstel moet word om te bepaal hoeveel gips bygevoeg gaan word. Dit is belangrik om seker te maak wat die grond se Mg-status is. Indien die Mg-vlakke laag is, moet die gips saam met ’n dolomietiese kalk toegedien word om die Mg wat waarskynlik verlore kan gaan, te vervang. Daar moet dan ook spesifiek gefokus word op kaliumbemesting in die daaropvolgende jaar.
In hoogs verweerde grond waarvan die ondergrond natuurlik suur is (soos in die hoë reënvalstreke van KwaZulu-Natal) en waarvan die klei-inhoud meer as 20% is, bevat die grond heelwat seskwioksiede (aluminium- en ysterhidroksied). In hierdie gevalle kan gips toegedien word en toegelaat word om in die grond in te loog.
Sulfaatuitruiling vind plaas waar dit OH-ione in die grondoplossing laat. Hierna reageer dit soos kalk om water (H2O) en koolstofdioksied (CO2) uit die suur in die grond te vorm. Dit is die sogenaamde proses van “selfbekalking”. Dit is in hierdie streke doeltreffend om só ondergrondse suurheid teë te werk.
Inligting uit ’n proefneming
’n Proefneming rakende die grondversuring en aluminium-toksisiteit in ’n pekanneutboord op die plaas Oppaslaagte, naby Coligny, is deur Agtech@NWK onderneem. Dié proefneming het vanaf 2022 tot 2024 gestrek en drie jaar se grondmonsters is jaarliks in November oor die drie opeenvolgende jare geneem.
Die proefneming het bestaan uit 21 bome, waar grondmonsters op afsonderlike dieptes (0 cm tot 30 cm, 30 cm tot 60 cm, 60 cm tot 90 cm) van elke boom individueel geneem en ontleed is deur ChemTech Laboratorium in Sasolburg. (Sien Foto 3).
Op grond van die chemiese ontledings van die grondmonsters, is die kalkbron, KalDol (50% kalsiet en 50% dolomiet), aanbeveel en is verskillende metodes vir die inwerking van die kalk gevolg.
- Vir behandeling 1 is 4 t/ha kalk en goed gefermenteerde skaapkraalmis met die grond vermeng en in die gate (300 cm x 100 cm x 60 cm) teruggegooi, wat as ’n ploegbewerking van kalk in die grond gedien het.
- By behandeling 2 is 2 t/ha kalk en goed gefermenteerde skaapkraalmis met die grond vermeng en in die gate (300 cm x 100 cm x 60 cm) teruggegooi.
- Met behandeling 3 is 4 t/ha kalk slegs op die grond rondom die bome breedwerpig gestrooi en ingespit, wat as ’n vlak snybewerking van kalk in die grond gedien het.
Daar is ook nege bome (drie bome tussen elke proefneming) gekies wat as kontroles gedien het, wat geen behandeling ontvang het nie.
Die 4 t/ha-behandeling het by uitstek die beste resultaat in pH-verskuiwing getoon, wat bevestig dat:
- Voldoende kalk toegedien moet word om al die suur te neutraliseer.
- Die kalk behoorlik met die grond vermeng moet word.
Volgens die proefneming wat gedoen is, kan die stelling gestaaf word dat die inwerk van kalk in die grond van kardinale belang is om die doeltreffendste neutraliseringsuitwerking op die grond-pH in die bogrond, asook in die ondergrond, te verseker.
Samevatting
’n Groter belegging in kalk kan lei tot ’n meer realistiese toediening van kunsmis, met ’n beter opbrengsprestasie en dus ’n groter winsmarge. Daar is dikwels verskillende menings oor hoe die grondsuurheid bestuur moet word. Dit is belangrik dat wetenskaplike bewyse altyd as grondslag vir aanbevelings moet dien.
Landboukalk in sy verskillende vorms is doeltreffend om grondsuurheid te neutraliseer. Hoe fyner dit is en hoe beter dit vermeng word, hoe meer kom dit in kontak met die suurheid en hoe beter kan die suur geneutraliseer word. Neutralisering van grondsuurheid het ’n groot uitwerking op die plantegroei, deurdat dit die opname van plantvoedingstowwe verbeter.
Bronnelys
Brady NC & Weil RR, 2002. The nature and properties of soils. 13th ed. Prentice Hall: New Jersey
Du Plessis MJ, 2019. Grond: Die produsent se belangrikste bate. Available at: https://sagrainmag.co.za/2019/07/18/grond-die-produsent-se-belangrikste-bate-deel-8-grondsuurheid/ [20 September 2025]
Du Toit G, 2019. Grondsuurheid. Bekalking van grond na ’n oes – Suid-Afrika. Available at: https://www.farmingportal.co.za/index.php/all-agri-news/nuus-afrikaans/2699-bekalking-van-grond-na-n-oes-suid-afrika [20 September 2025]
Fertasa Fertiliser Handbook, 2018. The Fertilisation Association of South Africa. Lynwood Ridge, Pretoria, South Africa
Grain SA, 2013. Soil acidity and its management in crop production. Available at: https://www.grainsa.co.za/soil-acidity-and-its-management-in-crop-production. [23 September 2025]
Noble Research Institute, 1999. Understanding and correcting soil acidity, Available at: https://www.noble.org/news/publications/ag-news-and-views/1999/january/understanding-and-correcting-soil-acidity/. [23 September 2025]







