
’n Boerdery behaal goeie winste teen goeie pryse, maar kan moontlik steeds sukkel om finansieel gesond te bly. Dit klink teenstrydig, maar dit gebeur egter gereeld dat die boerdery ’n wins op papier wys sonder dat daar kon-tant is om rekeninge te betaal. Die oortrokke fasiliteit word dan ten volle benut, insetverskaffers druk vir betaling en finansiële spanning neem toe – selfs in “goeie jare”.
Die kern van hierdie verskynsel, waar ’n winsgewende boerdery met kontantvloei sukkel, is dat wins en kontantvloei nie dieselfde is nie. Heel eenvoudig gestel:
- Wins is inkomste minus uitgawes vir ’n spesifieke tydperk en/of boekjaar.
- Kontantvloei is kontant (inkomste en uitgawes) wat fisies in en uit beweeg, ook vir ’n spesifieke tydperk en/of boekjaar.
’n Boerdery kan winsgewend wees oor ’n tydperk van twaalf maande, maar kontant-arm wees in kritieke tye. Die artikel sal drie praktiese voorbeelde bespreek om die verskil tussen wins en kontantvloei te verduidelik.
Graanboerdery
Die eerste praktiese voorbeeld handel oor ’n produsent wat slegs mielies op 800 ha plant.
Indien die produksiekoste vir mielies R10 000 per hektaar is, sal die totale koste vir die 800 ha altesaam R8 miljoen wees. Gegewe ’n sakprys van R3 200/ton en ’n opbrengs van 4,5 ton/ha, sal die totale inkomste R11 520 000 wees.
Die wins van R3,5 miljoen lyk op die oog af na baie geld, maar die produksiekoste neem onder andere nie paaiemente, huur of privaat uitgawes in ag nie.
Indien ’n produsent slegs mielies plant, het hy dus net een inkomstebron, wat een keer ’n jaar geld inbring. Baie produsente moet teen Julie, Augustus of September ’n groot gedeelte van hul mielies verkoop, al is die Safex-prys laag, sodat hulle hul produksierekeninge kan betaal. Die boerdery kan dus ’n goeie wins maak, maar kontant-arm wees. Gegewe die seisoen, kan dit enorme druk op die kontantvloei sit, hetsy onmiddellik of in die nuwe seisoen.
Veeboerdery
Die tweede praktiese voorbeeld stel ’n beesprodusent voor wat 300 koeie in ’n speenkalf-produksiestelsel het. Indien die aanname gemaak word dat die produsent ’n speenpersentasie van 80% het en 20% verskalwers as vervangingsdiere terughou, sal die aantal diere wat verkoop kan word, soos volg wees:
300 koeie x 80% = 240 kalwers gespeen
240 kalwers x 20% = 48 verse vir vervanging
Daar is dus 192 speenkalwers wat verkoop kan word, asook 48 ou koeie (indien die kudde nie vergroot word nie). Dekseisoene bepaal die frekwensie waarvolgens die produsent ’n inkomste ontvang. Die afwesigheid van dekseisoene maak die rekordhouding van diere en finansiële bestuur baie moeilik.
Veronderstel die produsent het een dekseisoen. Dan sal hy slegs een keer per jaar ’n inkomste verdien, wat net soos met ’n mielieboerdery kontantvloeidruk veroorsaak. Indien ’n produsent twee dekseisoene het, beteken dit die boerdery sal twee keer per jaar ’n inkomste verdien, hoewel kleiner bedrae op ’n keer.
Die nadeel hiervan is die verlaagde inkomste per keer, maar die voordeel is die verspreiding van die inkomste deur die jaar, wat strategies beter aangewend kan word. Geld moet dus baie goed bestuur word om alle verpligtinge na te kom. Uitgawes is egter maandeliks en die mark is wisselvallig. Tye van droogte verhoog die maandelikse uitgawes, aangesien meer voer aangekoop moet word en die aantal diere wat verkoop kan word, verminder.
Gemengde boerdery
’n Gemengde boerdery bied meer stabiliteit, maar dit beteken steeds nie dat kontantvloeiprobleme iets van die verlede is nie. Wat behels hierdie probleme?
TREKKERS EN MASJIENERIE
Die aankoop van trekkers en masjienerie is die stil kontantvloeimoordenaars. Indien ’n produsent nie presies weet wat in en uit sy bankrekening en selfs sy produksierekening gaan nie, kan hy nie groot aankope maak, soos byvoorbeeld ’n trekker, nie. Die aankoop van ’n trekker kan wel die balansstaat positief beïnvloed, maar dit kan die wins op papier deur depresiasie verminder, terwyl paaiemente die kontant verminder.
VOORRAAD
Voorraad beteken nie kontant nie. Graan in die silo, kalwers in die veld of saad in die stoor tel as bates en verhoog die boerdery se wins op papier, maar betaal geen rekeninge nie. Dit beteken die produsent is ryk op papier, maar arm in kontant.
BELASTING
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) vra nie wanneer ’n produsent sy geld kry en of ’n produsent graan in die silo het nie. Belasting word in kontant betaal, geskoei op wins. Dit dwing baie produsente om korttermynskuld aan te gaan of oortrokke fasiliteite te vergroot om belasting te betaal.
PRIVAAT UITGAWES
Huishoudelike uitgawes word onderskat en daar word nie vir kleiner uitgawes begroot, soos in die geval van produksie-uitgawes, nie. In baie boerderye word hierdie uitgawes direk uit die “plaasrekening” betaal. Dit sluit skool- en mediese fondse, privaat voertuie, lewenskoste soos kruideniersware en vakansies in.
Verbeter kontantvloei só
- Maandelikse kontantvloeibegrotings moet opgestel word.
- Werklike spandering moet teen begrote spandering gemeet word, en indien nodig, aangepas word.
- Beplan verkope en aankope rondom beskikbare kontant.
- Bou ’n kontantbuffer in goeie jare.
- Skei privaat uitgawes van besigheidsuitgawes.
- Plaas fokus op risiko, nie net opbrengs nie.
Samevatting
’n Boerdery gaan dikwels nie onder omdat dit nie wins maak nie, maar eerder omdat die kontantvloei nie goed bestuur word nie. Die sterkste boerderye is nie dié met die grootste winste nie, maar dié wat hul kontantvloei goed bestuur, skuld goed struktureer en die tydsberekening van kontantvloei verstaan.
Bronnelys
BFAP, 2025. Bureau for Food and Agricultural Policy: Annual baseline and outlook report. University of Pretoria, South Africa. Beskikbaar by: https://www.bfap.co.za [13 Januarie 2026]
Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development (DALRRD), 2024. Abstract of agricultural statistics 2023/24. Pretoria: Government Printer. Beskikbaar by: https://www.dalrrd.gov.za [13 Januarie 2026]
Grain SA, 2025. Grain production guidelines and economic reports. Grain SA. Beskikbaar by: https://www.grainsa.co.za [13 Januarie 2026]
Nedbank Agri Insights, 2024. Seasonal cash flow and farm financial management. Nedbank Limited. Beskikbaar by: https://www.nedbank.co.za [13 Januarie 2026]
Standard Bank Agribusiness, 2024. Farm-level profitability and cash flow analysis. Standard Bank. https://www.standardbank.co.za
[13 Januarie 2026]







