
Oktober is internasionaal en nasionaal bekend as Borskankerbewust-
heidsmaand, ʼn wêreldwye inisiatief wat fokus op die bewusmaking, vroeë opsporing en behandeling van borskanker. NWK het ter onder-steuning van die belangrike veldtog vyf van sy silos pienk verlig.
Die maatskappy is aanvanklik genader deur ‘n boervrou van Koster, Suzanne Swanepoel, wat self ongeveer twee jaar gelede, op die ouderdom van 38 jaar, met bilaterale borskanker gediagnoseer is. Sy het na die plaaslike handelswinkel uitgereik en wou toestemming hê om die silo in Koster se ligte pienk te maak. Die maatskappy het nie net ingestem om die projek te ondersteun nie, maar ook om die koste daaraan verbonde te dra.
Behalwe die silo in Koster, is daar besluit om ook die silo’s in Bodenstein (tussen Coligny en Ventersdorp), Gerdau, Blaauwbank (tussen Lichtenburg en Mahikeng) en Delareyville pienk te belig.
Die bestuurder van silodienste en ‘n uitmuntende span van silobestuurders, elektriese-ingenieurs en werkers het die ligte se omhulsel met pienk plexiglas vervang. Daarna, moes hulle sodra dit donker word, die ligte presies skuif sodat dit die silos optimaal verlig.
Jaco du Rand, uitvoerende bestuurder: Kommoditeite by NWK, sê die inisiatief is ‘n simboliese gebaar van hoop, moed en solidariteit met kankerpasiënte, oorwinnaars en hul geliefdes wat saam die uitdagings van die kankerreis trotseer. Deur hierdie bewusmakingsinisiatief wil NWK help om die boodskap van ondersteuning en omgee uit te dra en mense herinner aan die belangrikheid daarvan om hande te vat en mekaar by te staan.
“Die pienk ligte dien as ‘n herinnering dat agter elke kankerdiagnose ‘n mens, ‘n familie en ‘n storie van moed en deursettingsvermoë skuil. Met hierdie gebaar bevestig NWK hul verbintenis tot ‘n kultuur van omgee en ondersteuning – want saam kan ons hoop laat skyn,” het Du Rand bygevoeg.
Swanepoel sê op haar beurt dat sy dankbaar is vir die ondersteuning wat sy tydens haar behandeling en herstel van die personeel van die Koster Handelswinkel in besonder en die breër gemeenskap gekry het. “Ek wou graag iets doen wat vir ons hele gemeenskap sigbaar is. Iets wat mense laat stil staan en herinner dat daar vroue en ook mans is in ons eie dorp wat elke dag veg, hoop en bid en soms net die krag probeer vind om nog een dag aan te pak.”
Swanepoel verduidelik verder dat sy vertrou dat die pienk silo’s ‘n baken van hoop sal wees. ‘n Herinnering dat daar lig is, selfs in die donkerste tye.








