(Deel 1)
Breëkoparende en grootjagarende
Die breër groep van groot roofvoëls word in ware arende, woue, slangarende, jakkalsvoëls, sperwers, singvalke, vleivalke, ware valke en valke verdeel. In hierdie uitgawe word die ware arende, naamlik die breëkoparend en grootjagarend, bespreek.
Dit is kenmerkend van ware arende dat hulle bene tot by die kloue vol vere is. Hul kloue bestaan uit vier tone, wat omtrent in al vier windrigtings wys. Hulle maak hul prooi dood met ’n hoë-impak duikslag, gryp dit met hul kragtige kloue met skerp lang naels en verskeur dit met die stewige haaksnawel.
Die meeste arende jag in vlug en stygsweef gemaklik op warm lugkolomme. Hulle is selde in mooiweer op sitplekke te sien, aangesien hulle dan rondvlieg. Tydens koel bewolkte dae sit hulle dikwels op ’n prominente sitplek, vanwaar hulle die omgewing goed kan bespied.
Breëkoparend
Breëkoparende is sowat 78 cm tot 83 cm lank van die snawel tot by die stert. Mannetjies weeg sowat 3,3kg, terwyl die wyfies ietwat swaarder is en sowat 4,7 kg weeg. Hulle het ’n vlerkspan van 1,9 m tot 2,4 m. Hulle kan met swartborsslangarende en grootjagarende verwar word.
VERSPREIDING EN HABITAT
Al kom breëkoparende oral in Suid-Afrika voor, is hulle skaars. Die grootste bevolkings is in die Nasionale Krugerwildtuin en Kgalagadi Nasionale Park. Hulle verkies oop bosveld, plat landskappe, halfdorre struikveld en oop boerderystreke met groepe bome, maar kom selde in bergagtige dele voor.
GEDRAG
Hulle kom alleen of in pare voor en spandeer die grootste deel van die dag in vlug, soms baie hoog. Van al die arende spandeer breëkoparende die meeste tyd aan vlieg. Hulle sit soms op die bokant van ’n boom of kragpaal, en slaap snags op bome, kragpale of ander hoë pale. Dieselfde slaapplek word gewoonlik vir ’n paar nagte ná mekaar gebruik.
Nie-broeiende voëls se gebied is tot 1000 km² groot. Voëls soos kraaie en ander kleiner roofvoëls val breëkoparende aan om hulle te verdryf.

VREETGEWOONTES
Hierdie roofvoëls is veelsydige en doeltreffende jagters. Hul prooivoorkeur wissel van streek tot streek, afhangende van die beskikbaarheid van prooitipes. Hulle jag deur hoog te vlieg en kan hul prooi tot op ’n afstand van 6 km sien. Prooi word vanuit die lug aangeval met ’n lang, lae vlughoogte vanuit ’n rigting met skuiling en dan word daar onverwags op die prooi afgeduik.
Soms jag hulle vanaf ’n oop sitplek en sal soms voëls wat kom water drink, voorlê en hulle daar vang. Hulle sal ook vanaf ’n sitplek bokant ’n wildspaadjie op prooi afduik en beroof reierneste van kuikens. Klein prooi word dikwels by wyse van impak doodgemaak of beseer. Groter prooi word doodgemaak deur op die prooi te sit en hul kloue en naels dan in die kwesbare organein te druk.
Indien die prooi te groot is om mee op te vlieg – soms so groot as 8 kg – vreet hulle vir tot vyf dae daaraan op die grond. Kleiner prooi word op ’n sitplek gevreet.
Hulle jag soogdiere soos hase, vlakvarke, jong bokkies, jong bobbejane en ape, kleiner jakkalse, rooikatte, wildekatte, muishonde, grondeekhorings, ietermagô’s en vrugtevlermuise. Voëls soos tarentale, fisante, patryse, ibisse en korhane vorm ook deel van die spyskaart, asookreptiele soos likkewane, slange en skilpaaie. Hulle aas soms by karkasse.
BROEIGEWOONTES
Breëkoparende is monogaam (vorm pare) en pare bly verskeie seisoene bymekaar. Die hofmakery behels dat die paar bokant die nesplek rondvlieg en roep, óf vanaf ’n sitplek roep.
Albei geslagte bou of herstel die nes, wat met blare uitgevoer word. Die nes is ’n platform van stokke (tot 1,5 m in deursnee) in ’n boom of op kragpale. Dieselfde nes word vir jare gebruik en ’n nes wat gemoniteer word, is al vir 23 jaar bewoon.
Breëkoparende broei van Mei tot Augustus en lê feitlik uitsluitlik net een eier. Die wyfie behartig meestal die broeiwerk vir sowat 48 tot 53 dae, maar word vir kort tye deur die mannetjie afgelos.
Die pasgebore kuiken het kort wit dons, wat ná sowat vier tot sewe weke met vere vervang word. Ná sowat tien weke het die kuiken sy eerstevolledige verekleed aan. Die wyfie beskerm en voer die kuiken vir die eerste drie weke voltyds.
Die kuiken en wyfie bly vir sowat 90 tot 109 dae op of by die nes, terwyl die mannetjie kos nes toe bring. Die kuiken is vir ’n verdere drie tot agt maande van die ouers afhanklik vir kos en slaap snags in die omgewing van die nes.
BEDREIGINGS
Die breëkoparend se bewaring status word as kwesbaar geklassifiseer. Hulle vlieg dikwels teen kragdrade vas of word bo-op kragpale doodgeskok wanneer hulle daar rus. Sommige verdrink in sementdamme wanneer hulle nie kan uitkom nie. Kuikens word deur tierboskatte, luiperds en ratels op neste geroof.
Grootjagarend
Grootjagarende het ’n donkerbruin bokant en wit onderkant, wat opsigtelik met bruin vlekke gespikkel is. Grootjagarende is sowat 60 cm tot 65 cm lank van die snawel tot by die stert. Die mannetjies weeg sowat 1,3 kg en die wyfies 1,6 kg. Die vlerkspan is 1,3 m tot 1,55 m.
VERSPREIDING EN HABITAT
Hierdie bosveldvoëls word selde in Noordwes opgemerk en kom hoofsaaklik in die ou Transvaal se bosveldstreke voor. Hulle verspreiding sluit ook die omgewing van Mareetsane tot by Bray in. Hulle verkies boomveld en is meer volop in mopanieveld.
GEDRAG
Grootjagarende hou in pare en sit graag in pare bo-op groot bome. Deur die jaar is hulle streng gebiedsgebonde. Hulle bly heeljaar binne hul gebied en trek nie regtig rond nie. Hulle is aggressief teenoor ander roofvoëls en verjaag hulle uit hul gebied.
VREETGEWOONTES
Wanneer daar na kos gesoek word, vlieg hulle oor hul gebied en kan prooi vanaf 1 km uit die lug sien. Hulle val die prooi aan vanuit die lug of van ’n sitplek af – tipies by ’n watergat. Die paar jag dikwels saam en takel groter prooi gesamentlik deur hul sterk kloue se naels in die prooi in te druk.
Grootjagarende maak merendeels op voëls jag, wat 70% tot 74% van hul dieet vorm – fisante, patryse en tarentale maak 50% tot 61% hiervan uit. Verder is neushoringvoëls, loeries, duiwe, tjagra’s en kiewiete ook op die spyskaart. Reier- en kweleaneste word soms geplunder.
Soogdiere soos eekhorings, hase, dassies, knaagdiere, muishonde, vrugtevlermuise, nagapies, jong bou-ape, springhase en jong bokkies word gejag. Reptiele sluit akkedisse, slange en likkewane in, met ’n bietjie insekte om die spyskaart af te rond.
BROEIGEWOONTES
Vir hierdie monogame voëlspesie behels die hofmakery dat die wyfie voor vlieg en deur die mannetjie agtervolg word. Hulle gryp mekaar se kloue vas en tuimel ’n entjie saam. By die nes bied die mannetjie dan vir die wyfie prooi aan as omkoopgeskenk.
Albei geslagte bou aan die nes, gewoonlik in ’n mik van ’n groot boom. Die nes bestaan uit ’n groot platform (0,7 m tot 1,8 m in deursnee) van stokke en takke en word met fyn materiaal uitgevoer.
Grootjagarende broei gedurende April tot Augustus en die wyfie lê gewoonlik slegs een of twee eiers. Die wyfie behartig meestal die broeiwerk (42 tot 44 dae) en word vir kort rukkies deur die mannetjie afgelos wanneer sy gaan kos soek. Die mannetjie bring ook vir haar kos nes toe. Indien meer as een eier uitbroei, sal die sterkste kuiken die ander een doodmaak.
Die kuikens is met wit dons bedek, maar op vyf weke begin die vere uitkom en op sewe weke is hulle vol vere. Die wyfie bly meestal op die nes by die kuiken en kos word hoofsaaklik deur die mannetjie aangedra. Die wyfie voer dan die jong kuiken totdat hy self kan begin vreet. Kuikens verlaat die nes op 62 tot 70 dae en word vir nog sowat vier weke van kos voorsien.
BEDREIGINGS
Grootjagarende se neste word soms deur predatore soos rooikatte geroof. Verder word die eiers en kuikens deur mense uit die neste verwyder.
Bronnelys
- Chittenden H, 2009. Roberts Voëlgids, ’n volledige veldgids tot meer as 950 voëlspesies in Suider-Afrika. John Voelcker Voëlboekfonds. Jacana
- Loon R en Loon H, 2005. Birds the inside story. Struik Uitgewers. SA
- Oberprieler U en Cillié B, 2008. Die voëlgids van Suider-Afrika. Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk. Pretoria
- Roberts, 2011. Roberts VII Multimedia. PC EditionVersion 1.2. Birds of Southern Africa. Southern Birding CC
- Sinclair I en Ryan P, 2009. Volledige fotografiese veldgids – voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Suid-Afrika
- Southern African Bird Atlas Project: http://sabap2.adu.org.za