NWK Retail het in September drie brandbestrydingsopleidingsessies in onderskeidelik Zeerust, Koster en Delareyville aangebied, waartydens produsente praktiese wenke ontvang het oor hoe om dié lewensgevaarlike taak veilig en doeltreffend uit te voer.
Die opleidingsessies is aangebied deur Gary Needham, wat vir 25 jaar ‘n brandweerhoof was. Hy is verbonde aan die Internasionale Brandinstituut en spesialiseer in bosbrande, asook brandbestryding in hotelle.
Voorsorg is belangrik
“Brandbestryding is soos jou plaas – as dit nie reg beplan en bestuur word nie, sal dit nie slaag nie,” het Gary verduidelik. “‘n Brand is soos die duiwel. Dit steek meestal sy kop uit op ‘n Saterdagmiddag, wanneer jy wil rugby kyk of braai en die minste lus is daarvoor.”
‘n Brand het suurstof, hitte en brandstof (gras, blare, hout, klere, diesel, bande, ensovoorts) nodig om te kan bestaan. “Ons kan nie die suurstof verander of die hitte beheer nie. Ons kan wel die voedingsbron beheer deur die maniere hoe ons ons huishoudings oppas, brandpaaie voorberei en store netjies hou.”
Gary meen dat asgate dikwels die sondebok is. “Hoeveel van julle sorteer julle huishoudelike vullis voordat dit op die ashoop beland? Indien ‘n leë spuitkannetjie ontplof en saam met ‘n stukkie papier in die veld beland, het jy die ideale omstandighede vir ‘n aggressiewe brand.”
STOOR EN ETIKETTERING
Hy het produsente gemaan om kinders van kleins af bewus te maak van vure se gevare. Chemikalieë, brandstof, vuurhoutjies en aanstekers moet buite kinders se bereik gestoor word. Alle chemikalieë en brandstof moet duidelike etikette op hê. “Die brandstof vir bossiekappers word gereeld in leë koeldrankbottels gestoor. Maak seker daar is ‘n ander plakker daarop wat die middel binne-in duidelik identifiseer.
“Kunsmis moet ook met omsigtigheid gestoor word. Indien diesel uit ‘n houer binne-in ‘n sak kunsmis lek, het jy gewaarborgde vuurwerke weens die chemiese reaksie met dié sulfaat.”
‘n Ander wenk wat Gary gedeel het, was om vuil olielappe apart te berg, aangesien sekere olies reageer met materiaal soos kaasdoek en ‘n chemiese reaksie tot gevolg het wat ‘n brand kan veroorsaak.
Rotte vreet graag aan drade en los drade wat op ‘n balk in ‘n stoor lê, kan ‘n brand laat ontstaan. So beheer dié plaag.
Huisbrande
Gary sê hy is verstom as hy sien mense koppel ‘n verwarmer, televisie, DSTV-dekodeerder én ‘n hoëtroustel alles aan ‘n veelvuldige prop. “Jy het dan ‘n 15-versterker (amp) prop in één muurprop. Vonkies kan maklik tussen los draadjies ontstaan. Dit word warmer en die omhulsel smelt, wat ‘n brand kan laat ontstaan. Kragdrade moet veilig en behoorlik bedek wees en nie met kleefband gelas word nie.”
Omdat die meeste huisbrande in die kombuis ontstaan, het Gary huishoudelike kokke gemaan om nie potte met warm olie sonder toesig op die stoof te los nie. “‘n Pot olie is die een oomblik net louwarm, maar die volgende oomblik rook dit.
“Indien die olie in ‘n pan wel aan die brand slaan, moet jy dit smoor met ‘n deksel, maar beskerm jouself eerste deur ‘n doek nat te maak en om jou hand te draai. Dit sal jou vir die kort rukkie wat dit gaan neem om die deksel op te sit, genoegsaam beskerm. ‘n Droë doek gaan onmiddellik aan die brand slaan.”
Skoon brandpaaie
Verwyder alle los gras nadat ‘n brandpad skoon gesny is. Dit moet gehark en gebaal word. “As daardie los gras vlam vat en die wind versprei dit, was al jou moeite verniet. Sorg ook dat die skouers van ‘n pad skoon gehou word, aangesien ‘n brandende sigaretstompie wat neergegooi word ‘n veldbrand kan begin.”
Volgens Gary is brandpaaie ‘n manier om die risiko vir brandstigting te verwyder. “As daar nie gras is om aan te steek nie, kan daar nie sommer brandstigting wees nie. Jy moet ook voldoende brandpaaie langs heinings hê. Dit help nie jy brand ‘n skouer, maar die gras langs jou heining is twee meter lank nie.”
Hy het bygevoeg dat produsente met hul plaaslike verkeersdepartement moet reël om die nodige bystand te bied en waarskuwingsborde uit te sit wanneer hierdie gras gesny of brandpaaie gebrand word.
Werknemers moet verstaan wat die doel van brandpaaie en ander voorsorgmaatreëls is. “Julle moet almal saamwerk om een doel te bereik. Laat hulle saam met produsente wat opdaag om te help om die brand te blus, ry – niemand ken jou plaas beter as hulle nie.”
Waterpunte moet duidelik gemerk word met ‘n blou bord. “Produsente wat op buurplase help om brande te bestry, ry dikwels onnodig terug na hulle eie plase om water aan te vul. Laat werkers by die toegangspunte op jou plaas staan om te verduidelik waarheen hulle moet gaan.”
Brandbestryding
Brandbestrydingspogings moet gekoördineer wees. “Dit is dikwels waar die grootste fout lê. Elkeen slaan sy eie rigting in en niemand weet wat die ander doen nie. Sodra hulp op die plaas opdaag, moet iemand die omvang van die brand kan beskryf, asook die rigting waarin dit beweeg en waar beoog word om dit te stop.”
Gary meen die grondeienaar moet juis nie in beheer wees van die brandbestrydingspoging nie. “Want hy dink met sy hart, nie met sy kop nie. Hy moet kan terugstaan sodat iemand anders oorneem. Hy sal tot op die laaste die paar hektaar op sy plaas wil spaar, eerder as wat hy aan die 100 ha buite sy grense dink.”
‘n Voorbrand vóór ‘n hoofbrand kan ook ‘n doeltreffende bestrydingsmetode wees, omdat hierdie brande dan om suurstof sal meeding. Volgens Gary smoor ‘n voorbrand ‘n hoofbrand. Dit is egter belangrik om te verseker dat daar nie diere in die middel van die brand vasgekeer is nie en dat hulle ‘n uitgangspunt het.
OPLEIDING EN VEILIGHEIDSTOERUSTING
“Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998) bepaal dat, as jy werknemers aan ‘n bepaalde risiko soos ‘n brand blootstel, hulle die minimum opleiding en veiligheidstoerusting moet hê. Produsente moet dus bepaal watter persentasie van brandbestryding deel van hul werknemers se pligte vorm.”
Gewone oorpakke is voldoende, maar werknemers moet ook van gewone veiligheidskoene en leerhandskoene voorsien word. Hoewel ‘n beskermde kopbedekking nie noodsaaklik is nie, sal dit handig te pas kom om rook uit die oë te hou. Gewone stofmaskers wat jy natmaak en oor jou gesig dra, is ook doeltreffend.
HOE BENADER ONS ‘N BRAND?
Volgens Gary bepaal die hoeveelheid toerusting tot jou beskikking jou aanslag. Dit hang ook af van die aantal beskikbare voertuie en die brand se verspreidingspotensiaal. “Die beste manier is om dit van drie kante te bestry – een op elke punt, wat na die middel werk, en twee in die middel, wat na die onderskeie punte werk. Moet nooit middel toe gaan of net in een rigting werk nie.”
Dit is noodsaaklik dat daar ten alle tye uitgangspunte moet wees. “As die wind skielik draai, wil jy nie vasgekeer wees nie.”
Indien jy wel deur ‘n brand voorgekeer word, gee Gary hierdie raad: “Hardloop in die gebrande area in. Haal diep asem en hardloop deur die vlamme. Die paar sekondes wat dit neem om deur die vlamme te beweeg, behoort nie jou klere aan die brand te laat slaan nie. Omdat hitte en rook styg, moet jy dan plat in die gras gaan lê en jou asem terugkry.”
Hy moedig produsente aan om ook ‘n noodhulpkissie wat goed toegerus is, byderhand te hê. “Moet nooit ys op brandwonde sit nie – die persoon sal vriesbrand opdoen. Hou die wonde onder koue, lopende water.”
‘N ONDERSTEUNINGSPAN IS VAN KARDINALE BELANG
Gary het verduidelik dat ‘n mens sowat 1 ml water per kilogram liggaamsgewig in ‘n onaktiewe toestand benodig. Wanneer jy ‘n brand bestry, benodig jou liggaam egter 5 ml water per kilogram. “Twee liter water per dag word dus skielik tien liter. Sodra jou lippe begin droog raak, is jy in die eerste fase van ontwatering.
“Daar moet dus verversingspunte wees waar brandbestryders ‘n toebroodjie en ‘n glas koeldrank of water kan ontvang. Dit moenie staties wees nie, maar saam met die bestryders kan beweeg.”
BRANDBLUSSERS
“Produsente moet toesien dat hulle brandblussers gereeld deur geakkrediteerde verskaffers gediens word. Die poeier moet ook elke derde jaar gesif word omdat klonte vorm.”
Hy noem dat versekeraars ook altyd weet of jou perseel met brandblussers volgens die bouregulasies toegerus was. “As jy nie brandkrane met munisipale water het nie, moet jy 18 kg brandblussers per 200 m² hê. Gaan die brandblussers gereeld na en kyk of dit beskadig is.”
Gary het die volgende akroniem gedeel om in gedagte te hou wanneer jy met ‘n brandblusser werk:
PASS:
P: Pull the pin – Trek die pennetjie uit.
A: Aim – Mik na die oorsprong van die brand, wat aan die onderkant van die vlamme is.
S: Squeeze – Moenie te hard druk nie sodat die brandbestrydingsmiddel in beheerde hoeveelhede uitkom.
S: Sweep – Maak klein sirkelbewegings met die pyp.