(Deel 2)
Bruinarende en dwergarende
Hierdie arende het albei ‘n donkerbruin en ligte morf. By die bruinarend is die donker morf die algemeenste met die ligte morf skaarser, terwyl die dwergarend se ligte morf die algemeenste is (sowat 80%). Alhoewel hulle grootte en liggaamsbou soortgelyk is, is die dwergarend effens kleiner.
Albei hierdie arende, asook die effens groter roofarend, kan maklik met mekaar verwar word. Voeg hierby die bruinjakkalsvoël (wat algemeen in die somer in hierdie streek voorkom), die bruinslangarend, die swartwou, die langkuifarend en die onvolwassenes van hierdie spesies, dan het jy die perfekte resep om behoorlik in die war te wees en is dit glad nie maklik om met sekerheid tussen hulle te onderskei nie. Ulrich Oberprieler se “Die Roofvoëlgids van Suider Afrika” is beslis ‘n waardevolle hulpmiddel om tussen dié spesies te onderskei.
Bruinarend
Kenmerkend van die bruinarend is sy totale bruin veredrag, met variasies tussen donkerbruin tot ligbruin. Die ligte morf (8% tot 12%) se bokant is bruin (dikwels met wit spikkels) en die onderkant is wit. Die oog is kenmerkend donker met die donker kaal vel voor die oog. Om die bene sit die vere redelik los en nie soos ‘n stywe stoofpypbroek nie.
Die groter roofarend se oog is geel met ‘n liggrys kol voor die oog en ook los vere om die bene. Hy het ‘n kort kuif aan die agterkant van die kop, wat soms orent getrek word. Bruinarende is sowat
55 cm tot 60 cm van die snawel tot by die stert en mannetjies weeg ongeveer 1 kg en wyfies 1,3 kg. Hulle het ‘n vlerkspan van 1,3 m tot 1,7 m.
VERSPREIDING EN HABITAT
Bruinarende is algemene intra-Afrika broeiende trekvoëls wat broei in Suidelike Afrika. Hulle oorwinter meesal noord van die ewenaar en is vanaf Augustus tot April in Suidelike Afrika. In Suid-Afrika kom hulle hoofsaaklik in die ou Transvaal en Noord-KwaZulu-Natal voor. Hulle keer dikwels ná die winter terug na dieselfde area en verkies boomryke bosveld en bewerkte boerderystreke met groot bome.

GEDRAG
Hierdie spesie kom alleen of in pare voor en spandeer groot dele van die dag op ‘n prominente sitplek, waar hy oor sy territorium waghou. Hulle slaap of rus in ‘n groot boom, waar hulle maklik misgekyk word. Hulle vlieg dikwels vir langer as ‘n uur hoog en hou die kop laer as die lyf (tipies soos aasvoëls).
VREETGEWOONTES
Bruinarende is veelsydige en doeltreffende jagters en jag hoofsaaklik in vlug en selde vanaf ‘n sitplek. Die meeste prooi word op die grond gejag, maar hulle sal soms voëls in vlug vang. Hulle jag deur bokant die prooi te hangvlieg en daal dan geleidelik, waarna hulle met ‘n vinnige finale duikslag op die prooi afduik.
By veldbrande word hulle dikwels waargeneem om beseerde diere te vang. In ‘n studie wat in Suid-Afrika uitgevoer is, bestaan 42% van hulle dieet uit voëls, 29% soogdiere, 23% reptiele en 7% amfibieë, maar termiete, kewers en sprinkane vorm ook deel van hulle dieet.
Hulle maak jag op voëls soos boskorhane, tarentale en duiwe en ander roofvoëls soos nonnetjie-uile en kleinsingvalke. Hulle beroof die neste van reiers en wewers. Soogdiere soos boomeekhorings, knaagdiere, hase en muishonde word ook gejag, so ook reptiele soos likkewane, akkedisse, slange, paddas en verkleurmannetjies.
BROEIGEWOONTES
Bruinarende is monogaam (vorm pare) en pare bly verskeie seisoene bymekaar. Hulle is territoriaal en indringers word in die lug aangeval. Die hofmakery behels dat die paar saam bokant die nesplek rondvlieg.
Albei geslagte bou of herstel dieselfde nes (tot 28 jaar lank) wat met blare uitgevoer word. Die nes is ‘n platform van stokke (tot 0,7 m in deursnee) in ‘n boom – dikwels in ‘n jakkalsbessie of knoppiesdoring – gewoonlik langs ‘n droë rivierloop of aan die kant van ‘n dig beboste area. ‘n Paar kan tot vyf neste in die territorium hê. Dieselfde nes word vir etlike jare gebruik en ‘n nes wat in ‘n studie gemoniteer word, word al vir 23 jaar bewoon.
Hulle broei van Augustus tot Januarie, met piek broeityd September tot Oktober – en lê amper altyd net een eier. Sommige pare sal weer ‘n eier lê indien die eier verlore gaan, maar nie as die kuiken dood is nie. Die wyfie behartig die meerderheid van die broeiwerk vir sowat 44 tot 46 dae, maar word vir kort tye deur die mannetjie afgelos wanneer sy gaan kos soek.
Die pasgebore kuiken het dons, wat na sowat drie tot ses weke met vere vervang word. Kuikens kan ná vier tot vyf weke self eet aan kos wat deur die ouers in die nes neergesit word. Die kuiken en wyfie bly vir sowat 70 tot 75 dae op of by die nes, terwyl die mannetjie kos nes toe bring en die wyfie die kos in stukkies skeur. ‘n Kuiken verorber sowat 150g prooi per dag en is is vir ‘n geruime tyd van die ouers van kos afhanklik.
Sowat 73% van die pare broei jaarliks, terwyl 56% van hulle ‘n jongeling suksesvol grootmaak.
BEDREIGINGS
Die bruinarend se populasie het die afgelope tien jaar met sowat 40% afgeneem weens verandering van hul habitat en vergiftiging. Hulle is dubbeld soveel in groot bewaringsgebiede.
Dwergarend
Die dwergarend (Hieraaetus pennatus) is Suid-Afrika se kleinste bruin arend. Die ligte morf is meer algemeen en het ‘n bruin bokant met ‘n ligte onderkant, terwyl die skaarser bruin morf ook bruin aan die onderkant is en die wit skouervlek is kenmerkend. Dwergarende is sowat 48 cm tot 52 cm van die snawel tot by die stert.

VERSPREIDING EN HABITAT
Dwergarende kom oral in Suid-Afrika voor, maar is skaars in Noordwes. Hulle is intra-Afrika en Palearktiese trekvoëls. Die intra-Afrika groep broei in die Namakwaland, terwyl die Palearktiese groep net ‘n somerbesoeker is en nie hier broei nie. Hulle hou veral in bergagtige streke, boomveld en struikveld naby rotsagtige koppies. Die intra-Afrika broeibevolking is Julie tot Maart in Suid-Afrika, terwyl die Palearktiese bevolking November tot Maart hier is.
Gedrag
Hierdie voëlspesie hou meesal alleen en sit op ‘n gunsteling plek op ‘n krans in ‘n kloof of op die toppe van ‘n groot boom. Hulle word meesal in vlug gesien en is onopvallend wanneer hulle in hul habitat sit.
VREETGEWOONTES
Dwergarende vlieg oor hul jaggebied op soek na kos op ‘n hoogte van 200 m tot 300 m. Hulle val die prooi bykans loodreg vanuit die lug af aan en selde vanaf ‘n sitplek. Die jaggebied wissel van dwergstruikveld, yl verspreide bome, lande met kort gewasse soos koring en lusern, wingerde en selfs dorpsgebied. Hulle maak merendeels op voëls jag (60% van die dieet), waaronder kelkiewyne, kroonkiewiete, rooibekfisante en jong tarentale. Verder eet hulle ook akkedisse en skilpaaie (28% van die dieet) en knaagdiere (12% van die dieet). Die dieet word met termiete aangevul. Klein skilpaaie word op rotse laat val om die dop oop te breek.
BROEIGEWOONTES
Hulle is monogaam (vorm pare) en pare vorm dikwels ‘n jarelange band. Die hofmakery behels ‘n aanskoulike lugvertoon. Beide geslagte bou aan die nes, dikwels ‘n vorige nes (‘n waarneming van tot 28 jaar) op ‘n of rotsbank of boom in ‘n steil kloof. Die nes bestaan uit ‘n platform (45 cm tot 65 cm in deursnee) van stokke en takke. Dit word met groen materiaal uitgevoer, selfs tot op 4 weke nadat die kuikens gebore is.
Broeityd is gedurende Augustus tot November en die wyfies lê gewoonlik twee eiers. Die wyfie behartig die meeste van die broeiwerk (40 dae) en word vir kort rukkies deur die mannetjie afgelos wanneer sy gaan kos soek. Die mannetjie bring sowat drie kos-items per dag nes toe. Die ouer kuiken domineer soms die jonger kuiken wanneer hulle gevoer word, wat soms die jonger kuiken van die honger laat omkom. Die kuikens is met dons bedek en op sewe weke is hulle vol vere. Vanaf vier weke begin die wyfie ook om kos nes toe te bring om die snel groeiende kuikens te voer. Kuikens kan op sowat 50 dae vlieg, terwyl hulle vir nog sowat twee weke gevoer word. Daarna bly hulle vir nog sowat twee maande afhanklik saam met die ouers en in die omgewing van die nes.
BEDREIGINGS
Dwergarende se populasies is redelik stabiel.
Bronnelys
- Chittenden H, 2009. Roberts Voëlgids, ‘n volledige veldgids tot meer as 950 voëlspesies in Suider-Afrika. John Voelcker Voëlboekfonds. Jacana
- Loon R en Loon H, 2005. Birds the inside story. Struik Uitgewers. SA
- Oberprieler U en Cillié B, 2008. Die voëlgids van Suider-Afrika. Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk. Pretoria
- Roberts, 2011. Roberts VII Multimedia. PC Edition Version 1.2. Birds of Southern Africa. Southern Birding CC
- Sinclair I en Ryan P, 2009. Volledige fotografiese veldgids – voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Suid-Afrika
- Southern African Bird Atlas Project: http://sabap2.adu.org.za