Die swak winsgewendheid van mielies is die grootste bedreiging vir graanprodusente se voortbestaan – selfs groter as plaasaanvalle en die dreigende grondonteiening sonder vergoeding. Dít is die siening van Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, wat op 25 Januarie vanjaar saam met sy gesin op hulle plaas sowat 57 km buite Lichtenburg aangeval is.
Derek is reeds verskeie dekades by georganiseerde landbou betrokke en ’n trotse “lid” van NWK. Hy voeg by dat NWK “nog net goed was vir hom en dat hy groot waardering het vir die waarde wat dié maatskappy tot landboubesigheid in die gebied voeg”.
’n Gebore landbouleier
Derek (58) is die vierde geslag Mathews wat sedert 1897 op die plaas Silverton, wat op die Deelpan-pad geleë is, woon. Dié familie het ’n ryk geskiedenis in dié geweste van die provinsie en het eintlik per toeval produsente geword.
Die Mathews-familie het sout op die aangrensende plaas, Soutpan, ontgin en gedurende die Anglo-Boereoorlog het die Boeremagte tydens die slag van Mafikeng op die eerste besending sout beslag gelê. “Al die ontginningsgeriewe is verwoes en hulle het toe met ’n stuk grond gesit waarop hulle begin boer het,” vertel Derek.
In 1983 het Derek ’n diploma aan die Potchefstroom Landboukollege verwerf en daarna deeltyds ’n BTech-graad in landboubestuur aangepak, wat hy in 2000 behaal het. Hy het ook in 2005 ’n nagraadse sertifikaat in landboubestuur verwerf. “Hulle het dit ’n boere-MBA genoem.” Hy was toe reeds op Graan SA se bestuur en verduidelik dat hy al dié kwalifikasies as geleenthede vir persoonlike ontwikkeling beskou het.
Sy pa was een van die stigterslede van die destydse Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-instituut (SAMPI)-tak – die voorloper van Graan SA vandag. In 1980 is die naam na die Nasionale Mielieprodusente-organisasie (NAMPO) verander, voordat dit in 1994 Graan SA geword het.
Hy het saam met sy pa die SAMPI- en later NAMPO-vergaderings bygewoon. In 1992 is hy afgevaardig na ’n kongres vir die plaaslike streek en sedertdien het sy betrokkenheid uitgebrei. “Ek is verkies tot die hoofbestuur van NAMPO en die res is geskiedenis.”
Derek het Streek 5 (Delareyville) van Graan SA verteenwoordig voordat hy in 2016 tot ondervoorsitter van Graan SA verkies is. Hy is in Maart vanjaar tot voorsitter verkies.

COVID-19 rem sy visie
Derek is tydens SA Graan se kongres op 4 en 5 Maart vanjaar tot sy nuwe amp verkies – net voordat vlak 5 van die inperking in Suid-Afrika in werking sou tree. Die organisasie moes noodgedwonge sy strategiese sessie uitstel en Derek kon dus nog nie sy drome as voorsitter van Graan SA verwesenlik nie. “Daar is ’n besliste fokusverskuiwing wat Graan SA wil inslaan. Ons kon al ses maande verder met die implementering daarvan gewees het indien dit nie vir COVID-19 was nie,” noem hy.
Volgens hom is die fondament waarop SAMPI in 1966 gestig is – om volhoubare, winsgewende graanproduksie te verseker – vandag steeds van toepassing op Graan SA.
Hy het al in verskeie media-onderhoude die saak van graanprodusente bepleit. “Ek het in 1989 my eerste oes op my eie geplant. Ek kon met R61 000 altesaam 600 ha mielies plant. Die opbrengs was 1,8 t/ha en die bruto inkomste was R114 000. Hiermee kon ek 86% van die volgende jaar se insette koop. In 2018 het ek en my seun dieselfde som gedoen en 4 t/ha kon nie 9% (van die volgende jaar se insetkoste) haal nie.” Hy sê dit is die rede vir die klemverskuiwing in Graan SA.
“Die waarde van graan hou nie tred met stygende insetkoste nie. Insetverskaffers moet besef dat hulle produkte toenemend onbekostigbaar raak en dat die situasie nie vir een van ons volhoubaar is nie.” Hy sê dit is bykans onmoontlik om druk op hierdie multimiljoenrand-ondernemings uit te oefen, maar Graan SA rig die gesprek om die werklikheid te weerspieël.
“Dit is niks nuuts nie. Hierdie gesprek is elke jaar op die agenda. Die mooi woord daarvoor is ‘koste-knyptang’. Om bloot twee lyntjies op ’n grafiek te sien, maak egter nie ’n impak nie. Ek deel sedert Maart hierdie persoonlike ervaring van my met verskaffers en elkeen luister aandagtig na wat ek sê en reël selfs bykomende vergaderings.
“Dit gaan lank vat en ons sal slegs ’n verskil maak as ons die probleem saam met die insetverskaffers aanpak. Ons sal nooit weer dieselfde vlakke as dié van 1989 behaal nie, maar ons wil probeer om die verswakking in winsgewendheid te stuit.
“Die opbrengs het verbeter van 1,8 t/ha tot 4 t/ha. Produktiwiteit het wel toegeneem, maar finansieel is ons steeds swakker af. So daar moet óf ’n massiewe verbetering in produktiwiteit kom óf insetinflasie moet onder beheer gebring word.”
Derek meen dat bogenoemde kwessie ongetwyfeld die grootste bedreiging vir graanprodusente inhou. “Veiligheid is nou op almal se lippe – so ook die politieke onsekerheid, maar wat help dit jy is veilig as jy nie ’n wins kan maak nie?”

tot sy dood in Julie 1934.
’n Ondenkbare trauma
Die gesprek draai dan noodwendig na die aand van 25 Januarie vanjaar, toe hy en sy gesin op Silverton aangeval is. Hulle het daardie middag ’n ooievaarstee vir sy dogter gehou en later dié aand haar man se verjaardag met ’n braai gevier.
Hulle het omstreeks 22:00 binne gesit en koffie drink toe vyf mans toegeslaan het. “Hulle het ons vasgebind en voortgegaan om die skade te doen, en aangedring op die kluis. Ons is nie fisies erg leed aangedoen nie. My vrou het wel kneusplekke opgedoen, maar die trauma wat met dreigemente van verkragting gepaardgaan, is ondenkbaar. Dit is uiters traumaties. Ek kan vir jou die storie vertel, maar jy kan nie regtig die omvang daarvan begryp nie. Dit verander alles.”
Hy het tydens die Graan SA-kongres in sy mosie oor plaasveiligheid gesê dat die landboubedryf nooit moet stilbly oor plaasaanvalle nie. “Ons mag dit nie as iets alledaags aanvaar nie.” Hy het egter die besluit geneem om nie te gaan lê nie. “Ek kies om nie in vrees te leef nie. Ek gaan nie toelaat dat daardie voorval my definieer nie.”
Tog het Derek dit op 6 Oktober vir die eerste keer sedert die aanval oorweeg om Suid-Afrika te verlaat. Dit was dieselfde dag wat onluste op Senekal uitgebreek het met die hofverskyning van twee verdagtes, wat aangekla word vir die moord op die plaasvoorman, Brendin Horner.
Op dié dag het die ondersoekbeampte Derek meegedeel dat sy saak aan ’n ander staatsaanklaer toegewys is en dat die verdagtes moontlik op tegniese punte kon loskom. Derek het vertroue in die regstelsel verloor. “As dit die geval is, is daar niks oor om voor te bly nie. Die polisie se optrede het ons soveel hoop en vertroue in die land gegee, so ons sal verpletter wees as die stelsel ons nou faal.”
Hierdie gedagte van Derek was egter vlietend. Die saak is na die streekshof in Lichtenburg oorgeplaas en Derek is vol vertroue dat dit ’n hoër vlak van aandag en bekwaamheid sal geniet. Dit sou op 20 Oktober aangehoor word.
Oor die opruiende optrede deur betogers in Senekal, waartydens die hof geplunder en ’n polisievoertuig aan die brand gesteek is, sê Derek: “Daar is nooit ’n verkeerde tyd om die regte ding te doen nie en daar is nooit ’n regte tyd om die verkeerde ding te doen nie.”
Landbou is belangrik
Hoewel COVID-19 en die inperking in ’n mate die kollig op die landboubedryf laat val het, meen Derek dit moet meer algemeen in die volksmond word. “Die president het geredelik werkers in die voorste linie van hierdie land, soos die polisie en verpleegsters, bedank. Tog moet elkeen van hulle drie keer op ’n dag eet. Produsente word egter nie een keer deur sulke mense genoem nie en dit lê aan die kern van die aansien wat die landboubedryf geniet.”
Derek ontvang ook elke jaar vir ’n week lank graad 9-leerlinge van ’n vooraanstaande skool in Bryanston, Johannesburg, op sy plaas. “Baie van daardie kinders het nog nooit in hulle lewens eens ’n toebroodjie gemaak nie. Sommige van hulle weet nie eens waar melk vandaan kom nie.” Volgens hom is die doel van hierdie jaarlikse besoek dat wanneer daardie leerlinge eendag politici is wat besluite oor die landboubedryf moet neem, hulle ten minste sal weet waar kos vandaan kom.
Hy is positief oor die komende seisoen. “Ek sê net nou die dag vir iemand ons ervaar enorme klimaatsverandering terug na normaal toe … dis die normaal van ouds. Jy kan nie anders as om moed te skep nie.”
Volgens hom kan die herstel in die landboubedryf ongekend wees as produsente danksy goeie reënval vir die volgende drie of vier jaar bogemiddelde oeste kan behaal. “Dit sal wel danksy goeie opbrengste wees en nie danksy winsgewendheid nie. Ons het fantastiese, goeie produsente in hierdie land. As die natuur vir hulle die geleentheid gee, sal hulle presteer en weer opstaan.”
Lees ook Derek se brief aan Graan SA-lede by https://www.nwkarena.co.za/2020/10/14/bly-kalm-en-doen-die-regte-ding/