Die COVID-19-pandemie het nie net die ekonomie nie, maar ook politiek op sy kop gekeer en die begin van ‘n nuwe era ingelui. Dit is die mening van Theo Venter, beleidspesialis en politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool.
NWK het aanlyn ingeskakel by Agbiz se inligtingsdag op 13 November in Pretoria. Theo moes die onderskeie rolspelers in die politieke ekonomie toelig en dit was duidelik dis ‘n smeltkroes van voortdurende verandering en konflik wat ook ‘n invloed op landbou kan hê.
Landbou die held tydens COVID-19
Daar is by Theo geen twyfel dat landbou en kommoditeite Suid-Afrika tydens COVID aan die gang gehou het nie. “Dit het ook ‘n invloed op die manier waarop die regering landbou sien. Luister maar net na die manier waarop president Cyril Ramaphosa die ANC-LP, advokaat Bongani Bongo, se vraag tydens verlede week se vraag-en-antwoord-sessie in die nasionale vergadering geantwoord het.”
Laasgenoemde het die president gepols oor die onlangse gebeure in Senekal, asook rasse-polarisasie. “Cyril het hom op ‘n baie omvattende wyse geantwoord en gesê dat hulle bekommerd is oor landelike veiligheid. Dit was ‘n jaar gelede nié die geval nie,” het Theo uitgebrei.
Hy meen dit is nie net landbou se ekonomiese bydrae wat die regering se aandag trek nie, maar ook die bydrae wat dit op maatskaplike vlak lewer.
Die pad vorentoe is nie maklik nie
Theo het die volgende bespreek wat hy meen die politieke ekonomie in Suid-Afrika wesenlik binne die volgende paar jaar gaan beïnvloed:
RAMAPHOSA AS PRESIDENT VAN DIE ANC
Hierdie termyn verstryk in Desember 2022. Hierna sal Ramaphosa ‘n ANC-verkiesingskonferensie moet oorleef as hy vir ‘n tweede termyn verkies wil word. “Die ANC kon nog nie suksesvol die gaping oorbrug tussen om ‘n president van die ANC en ‘n president van die land te kies nie. Dié gaping is sowat 18 maande lank en nog net Nelson Mandela kon dit oorleef.”
COVID het boonop die ANC verhoed om ‘n nasionale algemene raad te hou, wat van kardinale belang vir die werksaamhede van die regerende party is. “Beleide (soos grondonteiening sonder vergoeding) word hier geëvalueer en dié raad het ‘n wesenlike invloed daarop, asook leierskap,” het Theo verduidelik. “Jacob Zuma het juis sy terugkeer by ‘n nasionale raad gemaak, nadat hy deur Thabo Mbeki in die pad gesteek is.”
Theo is egter van mening dat die afskaffing van vanjaar se raad wel in Ramaphosa se guns kan tel.
RAMAPHOSA AS PRESIDENT VAN SA
Anders as die amp as president van die ANC, verstryk dié termyn eers in 2024 wanneer die volgende nasionale verkiesing gehou sal word. Theo dink wel dat Cyril vir ‘n tweede termyn as president van die ANC sal dien. “Ek is ook vol vertroue dat sy adjunk, David Mabuza, nié ‘n tweede termyn sal sien nie.”
Die ANC se verwagte toespraak op 8 Januarie 2021, sal hulle beplande strategiese rigting aandui. “Ek dink dit gaan grootliks geskoei wees op ekonomiese herstrukturering; die komende plaaslike verkiesings wat na verwagting in Augustus of September (2021) sal plaasvind; organisatoriese eenheid, waarmee die ANC tans worstel; asook staatskaping.”
Verskeie lekgotla’s gaan hierna plaasvind en uiteindelik die staatsrede in Februarie. Hierna word die begroting verwag. “Dan word wat Tito Mbeweni tydens die mediumtermyn-beleidsverklaring gesê het, prakties gemaak. Ons kan groot besnoeiings in provinsies verwag. Politieke wil moet hier gedemonstreer word.”
Die Zondo-kommissie se verslag wat na verwagting teen Maart 2021 voltooid sal wees, behoort ook ‘n beduidende invloed op die politieke landskap te hê.
DIE AMERIKAANSE VERKIESING
Die hele wêreld wag in spanning om te sien hoe Amerika homself “post-Trump” gaan herkonstrueer. “Iran hoop dat Amerika hom weer sal skaar by die Europese ooreenkoms met Iran waaraan Trump onttrek het. Sou Iran weer olie mag verkoop, kan die brandstofprys daal en dit sal landbou beïnvloed.”
Theo meen Amerika gaan met Biden aan bewind, ‘n meer gemaklike verhouding met die Suid-Afrikaanse regering hê, danksy die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa).
Sosio-politieke uitdagings vir SA
“RAMAPHOSA/MAGASHULE-SPELETJIE”
Volgens Theo wen Ramaphosa stadig maar seker. “Veral diegene in die private sektor sê dat Ramaphosa nou moet optree, maar dan herinner ek hulle aan 2005 toe Mbeki vir Zuma in ‘n hoek gedryf het. Hy het ‘n groot fout begaan deur in te meng. Ons hoor tot vandag dat hy weens politieke inmenging nie ‘n regverdige verhoor gekry het nie. Ons gaan dus nié sien dat Ramaphosa inmeng nie. Hy laat dit oor aan instellings soos die nasionale vervolgingsgesag.
“TITO CHA-CHA”
“Hoe snoei jy staatbesteding en maak burgerlike besteding kleiner? Hou egter in gedagte dat Cosatu gedurende ‘n verkiesingsjaar bykans onaantasbaar is. Hulle voorsien immers die infrastruktuur wat nodig is vir die ANC om ‘n verkiesing te wen, soos kantore, geld en voertuie,” het Theo gewaarsku.
ZONDO-BEWEGING
Dit is ‘n stadige, pynlike, dog deeglike proses. Theo meen ons sien toenemend ‘n meer morele beweging, maar daar is nog baie teenkanting binne die ANC.
Ramaphosa se presidentskap is geskoei op die volgende om:
- Die ekonomie aan die gang te kry deur beleid en projekte.
- Korrupsie stop te sit en die regstelsel te versterk.
- Die nasionale ontwikkelingsplan as nasionale projek weer op dreef te kry.
- Die skade wat deur Zuma se nalatenskap van staatskaping ongedaan te maak.
- ‘n Bekwame staat te ontwikkel.
Teenkanting teen Ramaphosa vanuit die ANC poog egter om:
- Ramaphosa se beleid te ondermyn.
- Voort te gaan met korrupsie.
- Faksies binne die ANC te vorm.
- COVID-krisis uit te buit.
Theo het ook verwys na die tussenverkiesings wat verlede week in verskeie streke regoor die land gehou is. “Dit was die grootste ooit en die DA was die grootste verloorder. “Dit het bewys dat die ANC oor die vermoë beskik om homself te onderhou.”
Hy het verwag dat die VF+ beter sou vaar en meen dat die DA sal moet herbesin. “Wat ook verras het, is dat die EFF nêrens veld gewen het nie, ten spyte van gefokusde pogings by Senekal en die Clicks-sage.”
Krisis skep geleenthede
Ter afsluiting het Theo gesê dat COVID ‘n reuse sosio-ekonomiese uitdaging aan ‘n reeds swak Suid-Afrikaanse ekonomie gebied het. “Krisis skep egter altyd nuwe geleenthede en stimuleer innovasie en ek is aangenaam verras met wat ek tydens die inperking gesien het.”