Sclerotinia-siekte word deur ’n grondgedraagde swam, Sclerotinia sclerotiorum, veroorsaak. Dit is veral ’n groot bedreiging vir sonneblomproduksie regoor die wêreld. Dit kan die plant se wortels, stam en kop besmet indien die toestande gunstig is. Dié siekte se oorlewingstrukture is die kenmerkende harde, grys tot swart sklerotia, wat op die grond beland wanneer die plant omval of gestroop word.
Siektes
Sclerotinia veroorsaak twee siektes:
- Die eerste is Sclerotinia-stamvrot. Die sklerotia wat op en in die grond voorkom, kom in kontak met die wortels en stam, waar dit wortel- en stamvrot veroorsaak en sodoende die sonneblomplant laat verwelk. Die siekte word nie oorgedra tussen plante nie.
- Die tweede siekte is kopvrot, waar die apotekia (Foto 1) askospore produseer wat deur die lug beweeg en sonneblomkoppe besmet wanneer dit daarop beland. Infeksie deur askospore was die afgelope seisoen die grootste probleem en dit het vir groot opbrengsverliese gesorg.
Askospore (Foto 2) is 0,015 mm in deursnee, teenoor mielies se stuifmeel van 0,1 mm in deursnee. Dit is dus minstens ses keer kleiner as ’n mieliestuifmeelkorrel en het daarom die vermoë om ver deur die lug te versprei.


Klimaat
Die askospore wat geproduseer word, moet in gunstige toestande ontkiem en daarna ’n gasheer infekteer. Dit rig eers skade aan wanneer die sonneblomkop reeds ontwikkel is. Die skade word toenemend groter, totdat die plant afsterf nadat dit fisiologiese rypheid bereik het.
In sekere gevalle moet die sonneblom doodgespuit word om die siekte te stuit. Die siekte-driehoek is ook van toepassing in hierdie geval, omdat ’n gunstige klimaat, die gasheer (sonneblomkop) en die siekte (Sclerotinia) teenwoordig moet wees voordat die askospore skade kan aanrig.
Die apotekia begin gewoonlik ontkiem as die grond vir sewe tot 14 dae aaneenlopend nat bly. Ontkieming word veral bevoordeel deur ’n hoë plantdigtheid, wat ’n skadu-effek op die grond het en sodoende ’n gunstige mikroklimaat vir die siekte skep. Dit neem sowat ’n week vir die sampioenagtige apotekia om die askospore te produseer indien die grond klam bly, waarna die spore in die lug ingeskiet word om te versprei.
Klimaat speel gevolglik ’n uiters belangrike rol tydens die infestasie. ’n Verandering van die ultravioletlig, temperatuur en humiditeit veroorsaak dat die spore óf doodgaan óf suksesvol vatplek kry op die sonneblomkoppe.
Die spore benodig water en voedingstowwe om suksesvol te ontkiem.
Sonneblomkopvrot kan in nat toestande begin, maar indien die son skyn en die temperatuur verhoog, word die siekte vertraag of selfs gestuit. Soms is die klimaat egter gunstig vir Sclerotinia en moet die gasheer (sonneblom) vroegtydig doodgespuit word om die skade te beperk.

Bestuur
Sclerotinia is een van die moeilikste patogene om te beheer. ’n Geïntegreerde beheerprogram moet verkieslik gebruik word om die risiko te verlaag.
- Vermy hoë-digtheid aanplantings.
- Gebruik weerstandbiedende kultivars.
- Pas wisselbou toe met nie-gasheergewasse soos mielies.
- Pas goeie onkruidbeheer toe om die gasheerspektrum te verklein.
- Versprei plantdatums sodat die risiko van infeksie versprei word.
Daar is bewyse dat minimum- en verminderde bewerking die biologiese afbreking van sklerotia vinniger bevorder teenoor ploeg, wat die oorlewing van sklerotia in die grond bevorder. Meganiese bewerking bevorder ook die verspreiding van sklerotia deur die land en selfs na ander landerye.
Gewasrotasie van vier jaar bevorder slegs die impak van wortel- en staminfestasie, terwyl dit nie ’n groot impak op kopvrot het nie omdat die askospore ook vanaf buite die land kan inwaai.
Chemiese bespuitings het ’n beperkte doeltreffendheid wanneer Sclerotinia reeds in sonneblom voorkom, en daarom word dit moeilik beheer. Wanneer ’n voorkomende spuitprogram gevolg word, kan Sclerotinia doeltreffender beheer word, maar nooit uitgeskakel word nie.
Samevatting
In die 2019/2020-seisoen is uitermatig baie Sclerotinia op sonneblom waargeneem, wat nie deur gewasrotasie beheer kon word nie. Selfs lande wat vir meer as 24 jaar nie sonneblom op gehad het nie, het Sclerotinia gekry.
Navorsing toon dat sklerotia moontlik vinniger deur mikrobiese degradasie bo-op die grondoppervlak vergaan en langer kan lewe diep in die grond, soos met ’n ploegaksie. Dit kan daarom moontlik van waarde wees om die sklerotia so lank as moontlik aan die winterelemente bloot te stel voordat ’n besmette land bewerk word.
Bronnelys
Alberto M, 2017. Sclerotinia disease in sunflower. Beskikbaar by https://intelseed.ca/uploads/Sclerotinia_Diseases_in_Sunflowers-2017.pdf (2020/08/26)